Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 18/05/2011: Grasuilvere


Adriaan - 2011-05-17

(13 Mei 2011)

Kort voor winter in die weide kry bankkrotbosse baard, grashalms dra goue linte en die rante se basterrooibosse gooi saad.

Op die ploeglande hadida vrouens tussen koolkoppe.

In Wessies hou ek stil by Fisherstraat 96 om te vra vir die woestyndruiwe langs die oprit. Niemand is tuis. Ek verneem van die bure die eienaar (oud en alleen en hardhorend) is by ’n dogter vandag. Ook dat iemand haar klokkie by die hek gesteel het. Dieselfde tyd klop ’n ou vriend van my aan by dieselfde plek met trokonderdele in die hand. My vriend maak of hy my nie ken nie. Hy’t skielik grys geword. Alles tref hom nou gelyk hoor ek hom vir die mikhêniek sê.

Bykans elke paalpriester in die dorp verkoop ’n volkleur droom.

By die huis bliep die foon en my ma se SMS lees: “Taryn het in kraam gegaan.” Ek weet dis baie vroeg en die tweeling seuns,na drie dogters, is my broer se laaste kans.

Wat bly oor vir my buiten die besef dis Vrydag en dat my dogter al skottelgoed was? Toe sy begin loop het moes sy altyd my vinger in haar handjie voel of sy het dadelik gaan sit. Ek het my vinger met ’n stokkie vervang en sy’s selfversekerd daar weg. My vriend se pa het met ’n geweer sy rondloperma se maag deur haar rug oopgevlek, toe sy eie onderkaak weggeskiet gevolg deur die res. My vriend is daar weg, weg van daardie huis langs die treinspoor. En nou is hy ook al sy erfgeld kwyt. Wat bly oor vir my buiten die smeersels grasuil van die pad skraap, die vere uit die bloederige vleise trek en vir my ’n hooftooisel maak.

Adriaan