Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

’n Blink bekendstelling


Jacques Liebenberg - 2011-05-17

Thor
Regisseur:
Kenneth Branagh
Kamerawerk: Haris Zambarloukos
Rolverdeling: Chris Hemsworth, Natalie Portman en Tom Hiddleston
Looptyd: 114 minute

 

 

Is Thor ’n fliek?

Ja, dit is.

Is dit iets waaroor ’n mens opgewonde raak?

As jy nie kan wag dat The Avengers uitgereik word nie, ja.

Dan is dit die moeite werd om van Thor kennis te neem.

Want dit dreun en donder en blits dalk 3D, blinkgepoets, maar dis ook al. Daar gebeur nie veel in Thor wat noemenswaardig is nie, maar dis noemenswaardig dat die fliek gemaak is, want Hollywood kan nie die Avengers-koei melk as ál die spene (net Captain America kort nog) nie daar is nie.

Soos met die meeste superheldflieks is daar vooraf groot gewag gemaak van dié een. En dis elke keer dieselfde: Jippie, daar kom ’n fliek van (skryf jou gunsteling se naam hier)! Maar nee, kyk net wie’s betrokke! Dis skokkend! Nee, dis nie! Het jy nie gesien wat hulle op ComicCon gewys het nie?! En so gaan dit tot vervelens toe aan.

Daar’s veral hoopvol na Thor se koms uitgesien, want die regisseur is Kenneth Branagh, daardie gewaardeerde Shakespeare-liefhebber met ’n gepaste sin vir die teatrale. Want wat anders as grootse teater is Thor (Chris Hemsworth) se verhaal nie? Aan die hemelse hof van koning Odin (Anthony Hopkins) is hy die heethoof wat alles wil regdonner, terwyl broer Loki (Tom Hiddleston) die bedaarde goëlaar is. Wanneer Thor en sy bende amper ’n tussenplanetêre oorlog ontketen, vervies Odin hom so dat hy Thor (sans sy magte) en dié se magtige hamer, Mjolnir, op die aarde werp en terstond in ’n diep slaap verval.




En dís waar die wiele afval.

Want op aarde het die storie soveel trefkrag soos ’n Natalie Portman-one-liner; Branagh en sy CG-mense het Asgard eenvoudig net te blink en, kom ons wees eerlik, awesome gemaak. Skaars laai Portman se wetenskaplike-karakter en dié se maats die gevalle held op of agent Coulson en sy S.H.I.E.L.D.-makkers konfiskeer als. En skaars wurm Thor, wat, gepas vir ’n god, buff soos môre heeldag lyk, hom in die wetenskaplike se eks se klere in en besef hy dié aardling is Die Een (en vice versa) of die hemelse magte tree opnuut tussenbeide.

Dis nou playing by numbers, Marvel. En as jy nie down met die info oor die gebeure in dié heelal is nie, gaan ’n klomp goed so sinvol soos ’n verkiesingsveldtog wees. Soos Jeremy Renner met sy pyl en boog. En die toneel met Nick Fury héél aan die einde. Als daarop gemik om mooi in te pas wanneer Captain America en later Joss Whedon en sy Avengers eindelik hul opwagting maak.

Intussen kan ’n mens terugsit en die volkleur-fliekgeboorte van die geteisterde Marvel-helde geniet. En dis nogal iets om te sien, want Marvel Studios het die leisels van dié span perde ferm in die hande en hy weet presies waarheen om te jaag. En ’n mens kan goeie geld daarop verwed dis nie na Ang Lee se voordeur nie.