Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > Suzette Kotzé-Myburgh: Fliekvlooi

No strings attached – ’n verfrissende goeie Vrydagaandfliek


Suzette Kotzé-Myburgh - 2011-05-17

Untitled Document

No Strings Attached
Regisseur: Ivan Reitman
Kamerawerk: Rogier Stoffers
Rolverdeling: Natalie Portman, Ashton Kutcher, Kevin Kline
Looptyd: 110 minute


Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe nodig ’n goeie Vrydagaandfliek is nie: daardie flieks waar jy net kan terugsit en ontspan, maar jy wil darem nie jou tyd mors met iets wat bloot laf of plein dom is nie.

Daar is talle in die genre romantiese komedies wat aan die bostaande beskrywing voldoen, maar No Strings Attached is beslis nie een van hulle nie. Alles omtrent hierdie fliek is anders en verfrissend, sonder om té hard te probeer. Die heldin, Emma (Natalie Portman), is régtig nie op soek na ware liefde of ’n blink verloofring nie; as jong mediese dokter werk sy net baie hard en weet sy watter gesonde praktyk en goeie afleiding gereelde seks is. Adam (Ashton Kutcher) is veronderstel om ’n “tipiese” jong man te wees vir wie die volgende geld: Wat kan beter wees as ’n aantreklike vrou wat gereeld beskikbaar is vir ’n bietjie lakenpret, maar sonder enige van die verantwoordelikhede en commitment issues wat verhoudings soveel pyn en lyding kan maak?

Dis geen verrassing dat ’n aktrise van Natalie Portman se kaliber enige rol kan speel nie (sy is tans selfs te sien in Thor 3D), maar in hierdie fliek het Ashton Kutcher my uitgeboul. Sy aantreklike voorkoms is perfek vir die rol, sy komiese tydsberekening is net reg, en hy staan waarlik nooit terug vir sy medester met die Oscar-beeldjie nie. Daarby kom Kevin Kline as Alvin, Adam se pa, omtrent die enigste oudgeworde Hollywood-akteur wat lyk of hy wel ’n minnares van dertig jaar jonger kan hê!