Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Straight > Fiksie | Fiction

Studenteliefde


John de Wildt - 2011-05-17

Untitled Document

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

Dit het alles in die chemieklas begin. Ek en André was, soos gewoonlik, alweer net amper betyds en het so onopvallend moontlik in die agterste bank van die chemiesaal probeer inskuif. Die prof het laatkommery gehaat en ons al by ’n vorige geleentheid uitgejaag. Dié keer onderbreek hy homself, kyk ons vuil aan, wag tot ons tot ruste kom. Hy gaan gelukkig aan. Wat ’n verligting, want ons punte is maar vrotterig en ons kan nie bekostig om nog lesings mis te loop nie. Die twee meisies wat skuins voor ons in die tweede laaste ry sit, giggel onder mekaar. “Kloosterkoeke,” dink ek. “Julle koshuis is natuurlik naby en julle is altyd betyds.” Hulle luister altyd aandagtig na die lesings en neem aanmekaar notas. Maar vandag is hulle giggelrig en fluister kort-kort vir mekaar.

Die prof maak klaar en toe die meisies by ons verbyskuif, glimlag hulle vir ons. “Sien ons julle by dierkunde-prakties vanmiddag?” vra die donkerkop.

Ek is bietjie uit die veld geslaan, want die twee het hulle nog nooit aan ons gesteur nie. “Ja,” antwoord ek effens verleë.

Na middagete by die koshuis is André skielik haastig. “K-k-kom ons probeer ’n slag betyds wees.” Ek is altyd die een wat hóm moet aanjaag en ek wonder of sy nuutgevonde haas iets met die meisies te make het.

Daar gekom, is hulle natuurlik reeds daar. Hulle groet ons vriendelik en stel hulself voor. “Ek is Jackie en dié is Sanet. Ons is kamies,” sê die donkerkop. Blykbaar is sy hulle woordvoerder. Vir die eerste keer kry ek hulle behoorlik van voor te siene en merk op hoe mooi hulle albei is. “Ons het gewonder of julle nie saam met ons wil groep vir die prakties nie. Dis makliker en vinniger as ons saamwerk.”

“G-g-graag,” sê André wat effens meer hakkel as hy senuweeagtig of opgewonde raak.

Dié middag se prakties was maklik, want ons het lekker saam gewerk en selfs vroeg klaar gekry. “Kom ons maak ’n draai by die kaf,” stel ek voor. Dit was ’n lekker middag en ons het ons koeldranke sommer op die grasperk voor die kaf sit en drink.

Toe kom sy daarmee uit. “Ek en Sanet het gewonder of julle nie die naweek wil saamgaan na my oom se plaas naby Thabazimbi nie. Het julle vervoer?”

Ek dink dadelik aan my ou skedonk van ’n bakkie. Dié het darem ’n kappie. “As julle nie omgee vir my bakkie nie.” André grinnik onderlangs.

“Ons sal alleen daar wees en ons moet alles saamvat. Beddegoed, kos, drank, alles.” Nou glimlag André breed.

“Reg so,” sê ek. “Ons kry julle Vrydagmiddag na ete by julle koshuis.”

“Onthou ons het môre weer ’n dubbel-chemie,” herinner Jackie ons aan die mees gehate sessie van die week. “Sien julle daar.”

André het skielik ’n ander mens geword. Heeltemal te ywerig vir klasdraf. Toe die prof by die chemiesaal instap, sit ons reeds. Ek en André in die middel, Jackie langs my, met Sanet langs André. Die prof kyk op na ons en glimlag effens. Die lesing was donners moeilik en ek het maar gesukkel om te konsentreer. Die meisies was hulle soete self, bedrywig met hulle notas. Miskien sal hulle ons nog uithelp met notas, hoop ek stilweg.

Met die klas agter die rug groet ons. “Sien julle môre, halftwee,” groet Jackie, alweer op ’n drafstap na haar volgende klas. Sanet volg haar, maar kyk vinnig om en waai skamerig vir André.

Op die Vrydagmiddag, met dié se klasdraf verby, is al waaraan ek kan dink, die naweek met die meisies; ek weet André ook. Ons skoffel ons middagete in. In die kamer stop ons ’n paar stukkies klere in ons sportsakke. ’n Koshuiskombers en -kussing sal moet doen vir slaapgoed. Gelukkig onthou André van die handdoeke en tandeborsels. Die bakkie vat maklik en ek is nogal verlig. By die vulstasie gooi ek dit vol brandstof en hoop ons maak dit soontoe en terug met die tenk. Geld is min en behoeftes is groot. By die drankwinkel koop ons ’n kas bier (op “special”), ys en ’n liter OBS. Die bier en die ys word in die koelboks, wat altyd agter in die bakkie bly, gesit.

By die dameskoshuis aangekom, wag hulle reeds buite, hulle duvets en kussings in hulle arms opgebondel. Verder het elkeen net een drasak, effens stywer gestop as ons sin. Dié word vinnig agter-in gesmyt.

“Kom ons ry,” borrel Jackie, “die pad is lank.” Sonder bespreking is Sanet en André agter, tussen die bondels bagasie in. Jackie klim voor saam met my in, en ons vat die pad. Dis eers toe dat ek haar stywe kortbroekie en pragtige slanke bene opmerk. Sy glimlag vir my, vat my hand en hou dit op haar gladde been vas. Ek begin uitsien na die snelweg, waar ek nie so gereeld ratte hoef te verwissel nie. Die twee agterin laat nie op hulle wag nie. Ons is skaars uit Pretoria en hulle vry al dik stukke. André lê plat op die matras, haar lyf half oor hom en haar been tussen syne. Hulle soen lekker en ek wonder of hulle ooit onthou om asem te haal. Elke nou en dan loer Jackie vir hulle in die spieëltjie. “Dit gaan goed daar,” merk sy op en glimlag breed. Terwyl ons ry, speel sy met my vingers en skuif sy my hand al hoër op, haar bene nou effens meer uitmekaar. Toe my hand in die mik kom, knyp sy dit styf tussen haar bene vas. “Nie nou al nie, ek word té warm.”

Op Warmbad beduie sy waar ek moet stilhou. Dié klein kompleks bestaan uit ’n supermark, ’n slaghuis, apteek en ’n goedkoop klerewinkel. “Ons moet gaan kos koop,” kondig sy aan. Die twee vryers agterin kom agter ons het stilgehou en probeer hulself regruk. Die blonde Sanet is bloedrooi en André lyk redelik deurmekaar. “Sal jy vir ons by die apteek aangaan?” vra Jackie.

“Wat het ons nodig?” vra ek verbaas.

“Tabard … en ... kondome – dié het julle seker vergeet.” Ek was redelik onkant gevang, maar weet nou presies wat hulle planne met ons is …

Terwyl ek in die apteek is, koop die ander drie kos. Daar is net ’n middeljarige dame agter die toonbank en my hart sak in my skoene. Ek sien die buisie Tabard op die rak, vat dit en skraap al my moed bymekaar. Die dame is ywerig om my te help, want daar is nie ander klante by die toonbank nie. “Kondome asseblief,” vra ek skamerig. Sy reik onder die toonbank in en sit ’n pakkie van drie voor my neer. “Nog,” vra ek.

“Hoeveel dan?” vra sy vieserig.

“Twaalf,” antwoord ek.

Sy skud haar kop en haal ’n groot pak uit. “Dè,” sê sy, “gaan betaal by die kassiere.”

Die jong meisie by die kasregister glimlag breed toe ek die goed op die toonbank neersit. Sy lui dit op en ek betaal. “Lekker naweek,” sê sy toe ek uitstap, met die klem op “lekker”.

Studente weet presies hoe om spaarsamig met geld te werk. Toe die ander drie by die bakkie aankom, het hulle net twee plastieksakkies vol goed gekoop. Broodrolletjies, mieliemeel, ’n witbrood, eiers, melk, poeierkoffie, suiker, beskuit, tamatiesous, twee blikkies tamaties, uie, vuurhoutjies, kerse en twee rolle toiletpapier. André word slaghuis toe gestuur om wors te koop. Dié word saam met die bier en die melk in die koelboks geprop. Jackie reël vinnig dat ons twee nou agter gaan sit. André vat half teësinnig die sleutels en skuif agter die wiel in. Sanet skuif langs hom in. Hulle soen mekaar eers innig voor hy die sleutel draai. Ons vat die pad noorde toe.

Ek en Jackie sit langs mekaar met ons rûe teen die beddegoed, voor teen die kajuit. Jackie is stil en ek sien daar is iets wat sy wil sê. “Ek moet bieg,” kom dit uit. “Ons is albei maagde, ons kom van klein dorpies af. Was altyd engeltjies op skool. Ons het besluit ons wil meer pret op varsity hê, maar ons is nie slette nie. Ons wil net nie meer sulke kloosterkoeke wees nie. Belowe my julle sal, wat ook al die naweek gebeur, nie daarmee te koop loop nie. Ons het julle uitgekies omdat ons glo dat ons julle kan vertrou. Ek wil hê dat jy met André moet praat en hom vra om mooi te werk met Sanet. Sy is mal oor hom en ek wil nie hê sy moet seerkry nie.”

“Sal so maak,” sê ek en hoop ek kry die kans om André alleen te sien. “Ek was nog nooit só saam met ’n meisie nie. André ook nie. Julle sal ons moet wys wat julle wil hê,” bieg ek.

“Deal,” sê sy en glimlag. Sy kom nader en soen my, lank en diep. My tong en lippe speel gewillig saam.

Jackie skuif tussen my bene in waar ek half sit-lê teen die beddegoed, haar rug teen my bors. Sy vou my arms om haar lyf en plaas my hande op haar mooi, ronde borsies. Ek druk haar styf teen my vas en soen haar liggies in die holte van haar nek. Dan draai sy haar kop eenkant toe en trek haar T-hemp teen haar arm af om haar skouer te ontbloot. Ek ruik die lekker van haar hare en parfuum. Sy lig haar T-hemp op en ek skuif sy my hand onder-in. Ek streel haar tieties deur die bra en voel hoe die tepeltjies stywer begin trek. Ek skuif die bra weg en vryf die tepeltjies liggies tussen my vingers, hoor hoe sy na haar asem snak. Dan lei sy my ander hand na die mik tussen haar bene, waar die broekie styfgetrek tussen die lippies insny. Ek voel die klammigheid daar, en sy kreun saggies wanneer ek met my vinger daar speel. Dan knoop sy haar broekie oop en lei my hand na binne. Haar binnebroekie is deurweek en ek voel haartjies en die geswolle, sagte lippies daardeur. Sy trek die binnebroekie se rek vorentoe en my hand glip in. Binne is dit sopnat en glad. My vingers speel tussen die voutjies en gly sonder weerstand in haar vagina in. “Wag, wag, nie nou nie,” protesteer sy en gryp my hand vas. “Later ... vanaand.” Ek onttrek my hand en plaas dit terug op haar bors. “Sjoe,” sê sy, “jy maak my vreeslik lus.” Sy knoop die broekie weer toe. Ek voel baie ongemaklik met die ereksie wat styf teen my PT-broek se rek druk.

Skielik is ons op die grondpad en dit klink of alle hel losgebars het. Alles ratel en raas, die warm vryery op ’n ent. Ons klou verbete, want dit skud verskriklik op die sinkplaatpad.

“Hoe ver nog?” vra ek desperaat.

“Nog so dertig kilometer,” antwoord sy.

Half uitmekaar geskud kom ons op die plaas aan, baie bly om agter die bakkie uit te kom. Dit was al laatmiddag en die son het laag begin lê. “Ons moet wikkel, julle moet gaan vuurmaak,” sê Jackie.

“W-waar?” vra André, sy tong skielik losser.

“In die donkie en die lapa, daar’s baie hout.”

Ons dra die laaste goed in die huis in. “Waarheen?” vra ek vir Jackie, met my arms vol beddegoed.

“Ek en jy hier, die ander twee daar,” beduie sy.

Agter by die donkie kry ek die geleentheid om met André te gesels. “Ons is in vir ’n ding, ou pel. Hulle is al twee maagde en wil hê ons moet hulle daarmee help. Jackie het my kondome laat koop, hulle is doodernstig.”

“W-w-w-w-wat?” sukkel André. “H-h-h-hoe doen mens dit?”

Ek steek die vuurtjie aan. “Ek weet self nie, maar sy sal jou wys. Wees net nice met haar en luister wat sy wil hê.”

André stook die vuurtjie, wat nou mooi begin brand het.

“Jy mag niks hiervan sê nie. Hulle is nie slette nie, hulle wil net nie meer kloosterkoeke wees nie. Hulle vertrou ons hiermee en ons gaan hulle nie drop nie.”

“Ou-ou-oukei,” is al wat arme André uitkry.

Toe die vuurtjie lekker brand, vat ons ’n paar brandende stompe op ’n graaf lapa toe en steek daar ’n lekker groot vuur aan. André bring die koelboks uit die bakkie nader en maak vir ons elkeen ’n bier oop. Die meisies sluit by ons aan. Jackie sit ’n driepootpotjie op die vuur en Sanet sny uie vir die sous. “Gooi vir ons ’n dop asseblief,” vra Sanet. André gooi vir hulle twee blikbekers halfvol sjerrie. Ons kuier rustig saam terwyl ek braai, Jackie behendig die pap maak en Sanet se sousie rustig in die platboompotjie prut. André bly die vuur stook. Hy lyk bekommerd. Die meisies is rustig, skynbaar sonder enige afwagting. Alles verloop, lyk my, volgens hulle plan.

Die braaivleis, pap en sous was heerlik na weke se koshuiskos. Na ete is die meisies huis toe om “te gaan regmaak”. Ek en André drink ons laaste bier. Hy is nou so senuweeagtig, hy probeer nie eers meer praat nie. “Ontspan ou pel, julle sal fine wees,” probeer ek hom moed inpraat.

“D-d-die kondoom ding?” stamel hy.

“Toemaar, sy sal jou help.” Ons kry die kondome in die bakkie en stap na die huis toe. André lyk of hy in die finaal van die koshuisrugbyliga moet gaan uitdraf. “Sterkte pel,” sê ek toe ons by die deur instap. Hy knik net.

Die huis het nie krag nie en oral is kerse opgesteek. Die meisies wag vir ons in die kamers en my heldhaftigheid begin ook nou kwyn. “Altyd grootbek, until push comes to shove,” dink ek van myself.

Jackie glimlag vir my toe ek die kamer binnekom. Sy lyk pragtig in die dowwe kerslig, net met ’n ligte nagrokkie aan. Ek sluit by haar op die bed aan. Sy slaan haar arms om my nek en trek my vas teen haar lyf, soen my innig. My lippe beweeg na haar wang, haar nek, haar skouers. Haar lyf begin onder my beweeg. “Sal jy my vanaand lekker naai asseblief? Ek wag al soveel jare hiervoor,” fluister sy in my oor, haar asem warm. Ek neem haar bors in my hande, haar tepeltjie reeds styf. “Suig hom,” smeek-fluister sy terwyl sy die tepel teen my lippe vryf. Ek byt saggies met my lippe daaraan en suig dit saggies in my mond in. Haar oë val toe en haar mond maak oop. Sy haal diep asem asof sy die genot diep in haar longe wil intrek. Ek voel hoe sy haar bene wyer oopmaak terwyl sy my hand na haar poesie lei. My vingers voel die warmte en die nattigheid. My hart begin hewig bons terwyl my soene vanaf haar bors afskuif na haar maag, talm by haar naeltjie en dan afskuif na haar liefdesheuwel. My tong begin instinktief die klammigheid van haar poesie opsoek. “Moenie,” sê sy terwyl sy haar hand tussen my tong en haar geslag inskuif. “Jy maak my skaam.”

“Dit proe baie lekker hier, ontspan net en geniet dit,” moedig ek haar aan. Haar hand beweeg stadig weg. My tong vind die stywe knoppie tussen die lippies en maak sirkelbeweginkies daarom. Haar asemhaling raak vinniger en ek voel haar hande in my hare. Sy hou my kop styf vas, asof sy nie wil hê ek moet ooit daarmee ophou nie. Dan beweeg my tong laer af, tussen die lippies in. Ek proe die liefdesous op my tong.

“Naai my nou … asseblief,” smeek sy, “ek kan nie langer wag nie.” Ek was net besig om my lyf tussen haar bene in te skuif toe sy van die kondoom onthou. Ek haal dit uit die PT-broek se sak en gee dit vir haar. My piel staan stokstyf, regop teen my lyf. Sy skeur die omhulsel oop en bekyk die rubberdingetjie van alle kante. Ek help haar om die ringetjie oor my glans te trek en rol dit stadig teen my penis af. Dan lê sy terug op haar rug en maak haar bene wyd oop. Haar nat poesie glinster in die kerslig. Sy neem my penis in een hand en vou die lippies effens met haar vingers oop. Dan vryf sy my liggies tussen die lippies. “Kom in,” smeek-vra sy, haar stem nou heserig. Sy lei my in, die kop verdwyn. Sy knyp haar oë styf toe en dit lyk of sy seerkry. “Steek my … hard!” beveel sy en ek stamp teen die weerstand. Skielik bars ek deur en voel ek hoe ek in haar in verdwyn. Haar bene vou om my boude en sy hou my styf in die posisie vas. Haar oë vou stadig oop en ’n glimlag verskyn. “Dankie,” fluister sy “nou kan jy my maar naai.” Haar bene laat los en ek begin stadig op en af beweeg. Sy geniet dit en ek raak al hoe meer opgewonde. Dan kom ek en trek uit. Ek val op my rug langs haar neer. Sy neem die handdoek onder ons en vee ons albei skoon.

“Was dit seer?” vra ek, half verleë.

“Bietjie,” antwoord sy “maar daarna was dit baie lekker.” “Kom ons gaan maak vir ons koffie,” stel sy voor.

Ek volg haar kombuis toe en ons stap verby André-hulle se kamer. Ek wonder nog hoe dit met hulle gaan, toe ons die ou katel hoor stamp en kraak. Jackie draai om en glimlag vir my. Ek voel verlig, maar het altyd geweet dat hulle sou regkom. Ons neem die koffie kamer toe en begin dadelik weer vry. Lank na die kers uitgebrand het, was ons nog steeds besig. Toe ons wakker word, is dit al lig. Ek kon die pragtige, naakte lyf langs my net bewonder.

Nadat ons opgestaan en koffie gemaak het, kom die ander twee die kombuis binne, Sanet styf onder André se arm ingevou. Sy rugbyslot-liggaam toring uit oor haar fyn lyfie. Hy glimlag breed en Sanet bloos effens.

“Was dit lekker?” vra Jackie reguit.

“André is ’n great lover,” sê Sanet en druk hom nog stywer vas. My maat druk sy groot bors ekstra-ver uit en glimlag nog breër.

Dit was net na graadvang dat ons “Hy lyk vir my so baie …” op André en Sanet se troue gesing het. Na die wonderlike naweek het ek en Jackie besef dat ons nie eintlik pasmaats is nie, maar ons het tot André-hulle se troue vriende gebly. Sy het met ’n nat-agter-die-ore prokureurtjie by die troue opgedaag en ’n jaar later het ons “Hy lyk vir my so baie …” op húlle troue gesing. Ek is toe intussen met my droomvrou getroud en mettertyd het ons kontak met André-hulle verloor.

Dit was twintig jaar later toe ek André en Sanet op Facebook opspoor. Hulle is albei onderwysers op Stellenbosch, hy by ’n seunskool en sy ’n meisieskool. André is die afrigter van die skool se eerste rugbyspan. In my gedagtes kan ek hom tydens die spanpraatjie voor die wedstryd in die kleedkamer hoor sê “K-k-komaan boys, k-k-kom ons vat hulle.” By Sanet het ek gehoor dat Jackie en die prokureur dit toe nooit gemaak het nie. Sy woon en werk in Bloemfontein.