Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 17/05/2011: Vyf gesprekke. Gesprek 1 ...


HJ - 2011-05-16

Nie dat dit belangrik is nie, maar dit is die jaar 1786. ’n Gesprek met my vriend, die eens priester en nou barrister Jakub Waters, se vader. Die handelaar Petruys Waters. My naam is Guielme Jonas Moot en ek is ’n sizar aan die kollege hier. ’n Student in die Fisika, met nog sowat sewe of agt jaar studie wat voorlê.

Ek hoop om voor my graduatus die aandag van die een of ander patronus te trek en sodoende ’n professoraatskap te kan koop. Om tot ’n belangrike Stoel verkies te word is feitlik onmoontlik. Die feit dat Sir Newton dit net met ’n groot gesukkel reggekry het, is ’n aanduiding van die formidabele aard van die stryd. Jy moet iets werklik buitengewoon kan bedink. En dan die politiese invloed kan bymekaarskraap om wat ook al, te kan maak staan. Om die een of ander mindere Stoel te koop is gewoon makliker maar terselfdertyd steeds duur. Pryse styg. As sizar is ek meer bevoorreg as baie ander studente hier. Teen drie pennies is my maaltye bykans gratis. Maar dan, sekerlik ook heelwat minder as ander soos Jakub wat kan staatmaak op die naam en fortuin van sy vader. Ek moet erken dat ek al gewonder het, gespekuleer het, of ek nie die ou wetter moet vra om my sponsor te wees nie. Die probleem is dat hy ’n monumentale weersin het aan enigiets akademies.

Dit is winter en bitter koud. Die rede waarom hierdie gesprekke aan die Watershuis plaasvind, is eerstens die vreugdevolle feit dat die ruim voorkamer ’n vuurherd het. En Petruys Waters kan bekostig dat sy seun, wat veronderstel is om ’n brandarm priester-barrister te wees, hout koop en dan verbrand. Om nie te praat van die besliste moontlikheid om ’n sopie of twee van die beste Bourgogne-brandewyn te kan geniet nie. Sowat van luuksheid! Ten tweede, die koffiehuise soos die “Greek”, (Naby Sturbridge en so genoem na die eienaar, ’n Griek.) was so vol van MA’s en dus raserig, dat ons klompie Vlaminge soms ’n stil en rustige fuif elders verkies.

Tydens die gesprek, so onthou ek, het ou Petruys die vertrek binnegekom en nukkerig verneem of ons nie iets beters, meer prakties kan begorrel as Sir Newton se wette nie. Sy weefstoele, een honderd van hulle, (stoom-aangedrewe! Wonderlik die nuwe tegnologie!) kort herstelwerk en kan derhalwe, vir die duur van die herstelwerk, min bydra tot sy reeds betekenisvolle fortuin.

Sy plan is om die masjiene oor ’n tydperk van eenhonderd dae, op ’n presiese patroon af en aan te skakel. Elke dag skakel hy sekere masjiene aan en af. Hy kan dan die rustende masjiene herstel en bewerk. En die lopende masjiene toets.

Dit werk so:

Voor die begin van die 100 dae-siklus is al die masjiene AF.

Op dag een van die 100 dae skakel hy al die masjiene AAN.(Eerste reeks.)

Op dag twee, skakel hy elke tweede masjien AF.

Op dag drie, skakel hy elke derde masjien Af as dit AAN is en AAN as dit AF is.

Op dag vier, elke vierde masjien AAN of AF.

Op dag vyf elke vyfde ensovoorts.

So doe hy tot op dag 100. Dus ’n 100 maal AAN- en -AF gesittery.

“ Mijnheer Moot, kan u vir my sê, hoeveel masjiene is op dag 100, AAN? En, welke masjiene is AAN? U kan reken dat elke masjien genommer is van 1 tot 100.”
Ek skrik my half nugter en besef dat ek, as ek die probleem kan oplos, miskien een trappie nader is aan ’n sponsor. Jakub kyk sy vader aan met ’n frons. Ek kan sien dat ek geen hulp van hom kan verwag nie. Sy hand neig na die bottel brandewyn.

Ek gryp ’n stuk papier en maak ’n som. Ou Waters bekyk die spulletjie-gekrap en stap weg met ’n “Mijnheer Moot, wanneer jy gereed is, maak ’n afspraak met my prokureurs Will. Ridlington van Trinity Hall. Verneem na Dr Keene.”

Hoe het ek die probleem so vinnig opgelos?

HJ