Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Grieselige verhaal wen Nederlandse literatuurprys


Carina van der Walt - 2011-05-13

Op Maandagaand 9 Mei is die wenner van die Libris Literatuurprys 2011 in Amsterdam bekend gemaak. Hy is Yves Petry met sy skokkende roman De maagd Marino (2010) van die uitgewery De Bezige Bij. Die prysgeld is 50 000 euro. Die verhaal van De maagd Marino is gebaseer op die ware verhaal van ’n Duitse kannibaal uit 2002 wat sy waansin as ’n soort religieuse ritueel uitgevoer het. In De maagd Marino het die dader (Marino Mund) en sy vrywillige slagoffer (Bruno) vooraf ’n ooreenkoms gesluit: Marino sal Bruno ontman, hom keel afsny en hom daarna opeet.


Die perspektief is onkonvensioneel dié van die slagoffer, Bruno: “Ik dicteer, hij noteert.” Bruno beskou homself as niks meer as ’n elektromagnetiese siddering deur die breinlobbe van Marino nie. Dit het niks te make net seksuele genot of met ’n passiemoord nie, al laat die titel hierdie suggestie by die leser agter. Waarna verwys die maagdelikheid van Marino in die titel dan? Dit is iets wat die leser self moet ontdek.

Die lewe van Marino, ’n alleenloper, gly onvermydelik af na hierdie gruwelike bloed-en-vreet-fees. Daarmee begin die roman. Mens gril. Dis ’n verhaal van onbegryplike menslike gedrag. Intelligensie kom net voor in ’n oomblik van twyfel. Dit gebeur as die verdowing uitgewerk is en Bruno die helse pyn voel. Sy beul huiwer vir ’n oomblik. Dan sny Marino hom keel af.

In die hofsake wat volg, verwerp Marino die psigologiese verklarings van die prokureur.

Petry gebruik sy bedwelmende skryfstyl om die niksbeduidende persoonlikheid van Marino te beskryf. “Een gezicht – zetel van de ziel – zo muf als een uitgewoonde hondenmand.” Selfs Marino se ma sluit daarby aan as sy hom “kortwiek tot een bonsaimannetje”. Die volgende sinnetjie uit die jurieverslag weerklink in verskeie artikels ná die toekenning: “De maagd Marino zou een kaal verhaal zijn, als het niet uitblonk door de schitterende stijl die op elke bladzij getuigt van het geloof in ‘de kracht van de precieze formulering’.”

Die roman werk ook met teenstellings: dader versus slagoffer; alfa (letterkundedosent, Bruno) versus beta (rekenaarkenner, Marino); ego (die “geboren ik-zegger”, Bruno) versus die onbestaanbare (die gedepersonaliseerde, lewende dooie, Marino). In een van sy klasse verduidelik Bruno aan sy studente dat ware literatuur iets is soos ’n muilband vir ’n krokodil. Dit is iets wat die leser onverhoeds gryp. Dieselfde verduideliking neem die jurie van die Libris Literatuurprys oor. De maagd Marino is ’n geheimsinnige roman wat deur hierdie toekenning bo die vlak van ’n skandaal uitgehef word.

Die ander genomineerdes was Gerhard Bakkes met Die omweg, Peter Buwalda met Bonita Avenue en Esther Gerritsen met Superduif. Met die twee volgende genomineerdes het die Afrikaanse leserspubliek al kennis gemaak: Arnon Grunberg met Huid en Haar en Adriaan van Dis met Tikkop, wat aan die Suid-Afrikaanse Weskus afspeel.

Petry is die derde Vlaamse skrywer in ’n ry wat hierdie eer te beurt val. In 2010 het Bernard Dewulf die prys gewen met sy novelle Kleine Dagen en in 2009 was dit Dimitri Verhulst met Godverdomse dagen op een godverdomse bol. Die boekverkopers reageer bietjie bekaf. Nog ’n relatief onbekende Vlaming! Hulle het al in hulle verbeeldings gesien hoe vlieg duisende Tikkop of Huid en Haar van die winkelrakke af. Maar Petry reageer versigtig optimisties. Nou sal die verkope van sy roman weer ’n hupstootjie kry, want dit het al ’n rukkie stil gelê in België.

Hier vertel Yves Petry hoe hy aan sy storie gekom het.

Foto: Harry Heuts