Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans

Die man sonder foute


Pienkes du Plessis - 2011-05-12

Untitled Document

Daar was eendag ’n man wat niks verkeerd kon doen nie. Tot eendag. Hy het baie dinge ook vooruit geweet. Ook tot eendag. Dit was dieselfde dag.

Sy naam is nie ter sake nie, maar ter wille van volledigheid kan gemeld word dat die naam Jakob Versteegh op al sy tersaaklike dokumente staan. Byvoorbeeld op sy doopseel van die kerk en op sy skoolrapporte en op sy troupapiere en ook op sy werkspapiere by meneer Ter Braak se fabriek waar hy in die agterste stoorkamer die papiere en lêers van die fabriek uitsoek en bêre.

Sy huis was ’n huis van die munisipaliteit waar hy en sy vrou, en hulle kat, en hulle papegaai in die voëlhok, en hulle goudvis in die glasbak, almal gebly het, meestal maar in die kombuis. Die voëlhok het op die een punt van die kombuistafel gestaan en die goudvis se glasbak op die kombuiskas net langs die besemkas. Hulle het verniet in die munisipaliteit se huis gebly omdat sy vrou by die munisipaliteit gewerk het, by die slagpale was dit, en dan kon sy ’n verniet huis kry met verniet water en verniet gas vir die stoof, wat ’n goeie ding was, het hy gedink. Anders moet hy baie geld hê en hy het dan ook heeltyd gewonder hoe sal baie geld wees. So baie dat dit in sy broeksak eintlik met ’n knop sal staan.

Jakob Versteegh se vrou se naam was mevrou Rebekka Versteegh, en sy was onaansienlik. Sy was meestal baie besig by die stoof in die kombuis of in die voorhuis waar sy altyd vee en afstof dat alles skoon moet wees vir die slag as die ouderling of ’n vreemde mens dalk daar kom. Dan het sy ook baie kere in die spaarkamer met rokpatrone vir haar lapmateriaal uitgesny en op die naaldwerkmasjien rokke daarmee gemaak. Sy het dus genoeg rokke gehad, maar nie winkelrokke nie, want winkelrokke kos baie geld.

Daar is nie veel meer om van mevrou Rebekka Versteegh te vertel nie, behalwe miskien om te sê van die bruin moesie op haar voorkop en van haar twee susters wat op ander dorpe bly en van haar ma wat in Huis Herfsblaar ’n kamer het. Huis Herfsblaar was ’n plek, ook in ’n ander dorp, waar daar baie ander mense bly wat oud geword het en pyne het en wat met kieries loop. As dit naweke is, en die telefoon dan nie so duur is nie, dan bel mevrou Rebekka Versteegh en haar susters en haar ma mekaar en praat oor alles. Van mekaar praat hulle, van die susters se kinders wat baie skatlik is, en van die ma se pyne praat hulle baie. En van die kat en die voël en die vis.

Jakob Versteegh en sy vrou het nie kinders gehad nie, alhoewel hulle al vir twintig jaar elke Saterdagaand op hulle groot bed paar om te kyk of hulle ’n kind kan maak. Maar hulle kon dit net nie regkry nie. Hulle doen seker maar iets verkeerd, het hulle gedink. Toe het hulle maar ’n kat en ’n papegaai en ’n vis gekry, wat beter was as niks. Hulle het nie vriende gehad nie, maar mevrou Rebekka Versteegh het darem met al die vrouens gesels wat ook klerke by die slagpale was, en ook met die twee buurvrouens weerskante van hulle huis, sommer so by die draadheinings. Hulle kon lank praat oor baie dinge, vir seker oor die munisipaliteit se huise wat so baie jare laas geverf is of oor die geute wat lek. Dan is daar ook nog die plate van die gasstowe wat begin roes.

Jakob Versteegh was verbaas dat mevrou Rebekka Versteegh so baie geselsgoed en geselsmense het, nie soos hy nie, want by meneer Ter Braak se fabriek het die trokdrywers en die ander wat daar werk, nie met hom gepraat nie, hoekom weet hy nie. As hulle koffie drink by die waentjie of hulle broodjies uit die kosblikke eet, lag en praat hulle apart met mekaar. Maar nie met hom nie. Dis hoekom hy liewer eenkant staan.

En dis hoekom ’n kat en ’n papegaai en ’n vis beter was as niks.

Die kat wat hulle by die dierewinkel in die stad gekry het se naam was Kat, wat, nadat hulle goed daaroor nagedink het, ’n goeie naam vir ’n kat was. Kat was ’n geel kat, met ronde groen oë, wat lief was om teen mevrou Rebekka Versteegh se been te skuur en dan drie keer in Kat se taal te miaau, ’n taal wat Jakob Versteegh glad nie geken het nie. Daar is nie veel verder om van Kat te vertel nie, behalwe dat Kat bedags in die kombuis in die besemkas slaap en snags in mevrou Rebekka Versteegh se kant van die hangkas. Mens kan ook sê dat Kat, vir ’n kat, nogal baie groot was. Kat was dus groot en geel met groen oë. Dit het ook gelyk of Kat nie ’n hoë dunk van Jakob Versteegh het nie, alhoewel Kat darem een nag in sy kouselaai geslaap het toe mevrou Rebekka Versteegh se kant van die hangkas per ongeluk toe was. Dit was ’n aand toe sy weer besig was met rokpatrone in die spaarkamer.

Maar dit was net die een keer.

Die papegaai wat hulle by die dierewinkel in die stad gekry het se naam was Voël, wat, nadat hulle goed daaroor nagedink het, ’n goeie naam vir ’n papegaai is, wat ’n voël is. In Voël se hok was daar ’n spieëltjie en ’n leertjie en ’n swaaitjie en ’n waterbakkie en ’n sadebakkie. Maar daar was nie ’n klokkie in Voël se hok nie. Voël het baie daarvan gehou om op die swaaitjie te sit en in die spieëltjie te kyk terwyl hy in Voël se taal fluit. Maar hy kon ook die man se naam fluit. Jakob!! fluit hy baie keer, en dit klink dieselfde as wanneer mevrou Rebekka Versteegh hom roep om ’n werk te kom doen, soos om die werf te vee, of om sy kos te kom eet by die kombuistafel net langs die besemkas. Maar eers bêre hy die werfbesem in die besemkas en maak seker dat hy nie vir Kat pla wat daarin slaap nie.

Die goudvis wat hulle by die dierewinkel in die stad gekry het se naam was Vis, wat, nadat hulle goed daaroor nagedink het, ’n goeie naam vir ’n vis is. In Vis se ronde glasbak is drie blou seeskulpe, twee bruin seeklippe, twee polle groen seegras bo-oor ’n rooi liggie en ’n pypie wat borrels blaas. Maar daar was nie ’n groot wit seeskulp in Vis se glasbak nie. Vis het nie ’n kosbak nie en eet sommer op enige plek in die water die viskos wat mevrou Rebekka Versteegh in die glasbak gooi. Vis swem meestal tussen die blou seeskulpe en die bruin seeklippe rond, of kruip agter die groen seegrasse weg. En hy roer ook heeltyd sy stert.

Kat het vreeslik baie daarvan gehou om met sy groot groen oë vir Voël en vir Vis te kyk. Hy sit dan regop voor Voël se hok of Vis se glasbak, krul sy stert om, en kyk ure lank vir Voël wat op die leertjie ry of vir Vis wat tussen die skulpe swem. Baie keer het Jakob Versteegh gesien dat Kat sy stert heen en weer swaai, van die een kant na die ander kant toe, as hy so vir Voël of vir Vis kyk. Dan sê mevrou Rebekka Versteegh, haai kyk vir Kat, hy wil seker met Voël of met Vis iets gesels. Waaroor sou hulle wou praat? wonder sy altyd.

Kyk net hoe groot word Kat se oë, dink Jakob Versteegh dan by homself waar hy by die kombuistafel sit. Hoekom word Kat se oë altyd ronder en groter hoe langer hy vir Voël en vir Vis kyk? wonder hy dan ook. En hoekom swaai hy sy stert so heen en weer? Hy piets daarmee.

En toe op ’n dag sien hy dat Kat nou vir hom ook begin kyk. Dit was net toe hy by die kombuistafel gaan sit dat Kat uit die besemkas klim en reg voor hom in die middel van die tafel kom sit. Kat swaai sy stert so heen en weer en sy oë word groter en ronder terwyl hy stip na Jakob Versteegh kyk. Vir ’n lang ruk sit hy so.

Jakob hou nie van Kat se oë as dit so groen en rond is nie, want dit lyk of Kat binne-in sy kop in kyk. Dis dié dat hy liewer wegkyk om nie Kat se oë te hoef te sien nie. Haai, kyk vir Kat, sê mevrou Rebekka Versteegh naderhand, hy wil seker vir jou iets sê. Wat sou dit wees? Maar toe miaau Kat drie keer en gaan terug na die besemkas toe.

Van toe af gaan sit Kat elke dag voor Jakob Versteegh by die kombuistafel en kyk met sy groot ronde oë binne-in Jakob se kop in. En elke dag draai Jakob Versteegh sy kop weg om nie Kat se oë hoef te sien nie. Maar Kat hou aan en aan tot hy dan uiteindelik drie keer miaau en teruggaan besemkas toe. So hou dit vir lank aan.

Dis in hierdie tyd dat Jakob Versteegh begin agterkom hy kan nie meer iets verkeerd doen nie, soos byvoorbeeld om nie papiere wat in lêer nommer 122A hoort, in lêer nommer 122B te bêre nie, of om sommer nuwe papiere in die oudste swart bokse op die verste rakke te gaan bêre waar niemand ooit kom nie. Soos wat hy baie keer gedoen het toe hy nog jonk was en wat meneer Ter Braak dan so kwaad gemaak het dat hy hom sommer eendag ’n Klerk Graad 3 gemaak het nadat hy nog die hele tyd ’n Klerk Graad 2 was. Dis net die oudste papiere wat niemand meer nodig het nie wat in die oudste swart bokse moet kom en waar dit vir altyd en altyd moet bly. Dus kan mens sien hoe kwaad meneer Ter Braak oor Jakob Versteegh se foute was. Of ook soos ander foute, byvoorbeeld om op Bus Nommer 17B te klim pleks van Bus Nommer 18B, wat hy baie keer gedoen het en dan aan die verkeerde kant van die stad beland het en nie in die straat waar meneer Ter Braak se fabriek is nie. Of dat hy op pad werk toe die vullisdrom op ’n Donderdag in die straat gaan sit in plaas van op ’n Dinsdag, iets wat weer mevrou Rebekka Versteegh baie kwaad gemaak het, want dan moes sy die drom terugsleep na hulle munisipale huis toe voor sy werk toe kon gaan by die slagpale van die munisipaliteit. Kat het die hele tyd saam geloop en in Kat se taal gemiaau oor Jakob Versteegh dinge so verkeerd doen.

Jakob Versteegh was ook nie skoon van aansien nie, en hy was ook al amper vyftig. Sy lyf was nie lank nie, dit was rond. Die hare op sy kop was baie min, maar daar het ’n groot bos hare op sy bors gegroei. Ook by sy neus se gate en sy ore het bietjie hare uitgegroei. Een maal ’n maand het mevrou Rebekka Versteegh haar skêr gevat waarmee sy lapgoed en rokpatrone in die spaarkamer uitsny, en dan versigtig die hare wat by sy neus en sy ore uitgroei, kort geknip. Terselfdertyd het sy dan ook van die hare wat nog op sy kop oorgebly het, korter gesny. Daarna het hy dan nie meer so onaansienlik gelyk nie en het hy verder begin nadink oor Kat wat met sy ronde oë in sy kop in kyk en oor alles wat hy nie meer verkeerd kon doen nie.

Daar was byvoorbeeld heelwat kleiner dinge wat hy nie meer verkeerd kon doen nie, soos om die geld by die koswinkel presies reg uit te werk vir alles wat in die waentjie was nog voordat die winkelmeisie dit op die masjien kon optel. Dan sê hy vir mevrou Rebekka Versteegh presies hoe groot die tjek moet wees wat sy moet uitskryf. Of sulke dinge.

Hy was ook rêrig verbaas om te sien hoeveel foute ander mense maak, soos byvoorbeeld die ouderling van die kerk wat die aand in hulle voorhuis gesê het die versie van die tiendes staan in die boek van Job terwyl dit al die tyd in ’n brief staan wat die apostel geskryf het – Paulus die apostel was dit. Eendag het hy ook gesien dat die geld op die rekeninge glad nie dieselfde is as die geld op die getekende papiere van die trokdrywers wat hy in die lêers moes bêre nie, en toe hy vir meneer Ter Braak gaan sê hy dink die trokdrywers vat meneer Ter Braak se geld, was meneer Ter Braak baie bly en toe maak hy hom weer ’n Klerk Graad 2. Toe is die trokdrywers nóg leliker met hom.

Al meer en meer het Jakob Versteegh begin agterkom hy weet beter as ander mense, veral beter as sy vrou Rebekka Versteegh, wat van hulle troutyd af nog altyd meer en beter as hy van alles geweet het, meestal nog vooruit ook. En nou sien hy dis hý wat meer en beter weet, en ook vooruit.

Maar hy was veral verbaas toe hy een môre agterkom hy verstaan Kat se taal. Dit was net nadat Kat op die kombuistafel die hele tyd met sy groen oë in sy kop in gekyk het en toe drie keer hard gemiaau het voordat hy weer terug is besemkas toe, dat hy uitvind Kat wil ’n kussing hê om op te lê. Miskien sal Kat goed raak vir hom, dink Jakob Versteegh, as hy hom sal help om ’n kussing te kry. Toe sê hy vir mevrou Rebekka Versteegh hy dink Kat raak nou oud en dalk moet hulle vir hom ’n stoelkussing onder in die besemkas sit, dis sagter as die harde plank van die kas. Haai Jakob, sê sy toe, jy is darem so goed vir Kat.

Dis hoe dit gekom het dat Kat van toe af ’n stoelkussing in die besemkas gehad het om op te lê. Maar dit het nie vir Jakob Versteegh gelyk of Kat bly is oor hy goed is vir hom nie, selfs al lê hy ook lekker op die stoelkussing, wat ’n bewys is dat Kat nie van hom hou nie. Wat moet hy nog doen? wonder hy, en toe begin hy ook sleg voel dat Voël en Vis niks gekry het wat vir hulle lekker is nie. Dis hoekom hy toe een middag by die dierewinkel in die stad afklim en vir Vis ’n groot wit seeskulp koop waarin hy kan wegkruip as hy moeg geswem is en vir Voël ’n klokkie wat sal lui as Voël dit pik.

Toe hy by die huis kom, sit hy die wit seeskulp in Vis se glasbak en hy hang die klokkie in Voël se hok op. Vis gaan kruip toe dadelik in die wit seeskulp weg en Voël begin die klokkie pik. Al die tyd sit Kat vir Vis en Voël en kyk, en mevrou Rebekka Versteegh sê haai Jakob, jy is darem so goed vir Voël en vir Vis.

Van toe af sien hy dat Kat al meer en meer vir Vis en vir Voël sit en kyk, met groen oë kyk hy, en dan sy stert so om hom draai en heen en weer piets. Al wat Voël dan doen, is om al meer en meer op sy nuwe klokkie te pik, terwyl Vis in sy nuwe wit seeskulp gaan wegkruip. Haai Kat, wat sou jy dan so graag met Voël en Vis wil gesels, vra mevrou Rebekka Versteegh dan. Jakob Versteegh sê dan niks nie, want dis toe nog net heel aan die begin dat hy vooruit begin weet, en hy dink miskien weet hy verkeerd vooruit.

En toe sommer op ’n dag sien hy Kat se oë word geel as hy vir Vis en vir Voël kyk. Nie meer groen nie. Hoekom is Kat se oë so geel? wonder hy bekommerd, en hoekom piets hy so met sy stert?

Dis toe Jakob Versteegh die een middag weer van die bus af klim en by die huis kom dat hy uitvind hy was nie verniet bekommerd nie. Mevrou Rebekka Versteegh was op haar knieë op die kombuisvloer besig om die glasstukke van Vis se glasbak bymekaar te maak. Want op een of ander manier het dit van die kombuiskas af op die vloer beland en in stukke gebreek. Die drie blou skulpe het eenkant gelê, die twee seeklippe nog verder aan, en die seegras sommer die hele vloer vol. Die rooi liggie was dood en die pypie het nie meer borrels gemaak nie. Die water wat in die bak was, was skoon weg, en al wat mens kon sien, was die vloer van die kombuis wat so nat was.

En Vis was weg.

Vis! Vis! het mevrou Rebekka Versteegh aanmekaar geroep, en oral rondgekyk, maar Vis was net skoon weg. Op een plek naby die besemkas het dit kompleet gelyk of daar ’n stukkie van ’n visgraat lê, maar dit was seker maar ’n stukkie van een van die blou skulpe, het sy gesê, en verder na Vis geroep en gesoek. Maar Vis was net heeltemal weg. Waar sou hy kon wees?

Die hele tyd lê Kat op die stoelkussing in die besemkas en raak glad nie eers aan sy kos wat mevrou Rebekka Versteegh vir hom in sy kosbakkie neersit nie. Ai, sê sy die aand later, Kat se eetlus is skoon weg. Wat sou hom makeer? Hy verlang seker na Vis. Want nou het hy net vir Voël om na te kyk. Haai siestog Kat, jy is seker nou so alleen.

Mens kon sien hoe alleen hy was, die volgende dag, toe hy vir Voël sit en kyk. Eers met groen oë, en toe na ’n ruk met geel oë, terwyl hy met sy stert heen en weer piets. Die hele Kat is nou geel,. Sy lyf, sy oë en sy stert. Maar hoekom die geel oë? wonder Jakob Versteegh. Groot geel oë waarmee hy binne-in Voël in kyk.

Drie dae later toe kry hulle Voël se hok ook op die kombuisvloer, onderstebo, die spieëltjie stukkend, die waterbakkie onderstebo, die saadbakkie heel eenkant op die verste punt van die kombuis, en nie ’n spoor van Voël nie. Voël!! Voël!! Roep mevrou Rebekka Versteegh aanmekaar, en sy probeer fluit soos Voël altyd fluit. Maar Voël fluit nie terug nie. Hy bly net weg. In die tuinpaadjie kry Jakob Versteegh twee vere. Die een lyk soos ’n stertveer en die ander soos ’n vlerkveer, ’n geel een en ’n blou een. Kan jy glo, sê mevrou Rebekka Versteegh, dis die lente wat alweer op pad is, kyk net hoe begin Voël alweer verveer. Voël!! Roep sy weer na die straatbome se kant toe. Kom dadelik huis toe.

Tipies, sê sy na ’n ruk. Voël was maar altyd bietjie ongehoorsaam. Wie dink hy gaan nou vir hom sade in ’n bakkie gee? Hoekom kom hy nie huis toe nie? Hier waar ons almal vir hom wag, ek en Jakob en Kat. Veral Kat. Vir wie kan Kat nou heeltyd sit en kyk? Sy sug ag ja. Maar hier is Kat se kos, sê sy vir Jakob Versteegh, gaan gee vir hom, hy is seker honger.

Jakob Versteegh gaan soek toe vir Kat en kry hom waar hy in die kouselaai slaap. Miaau, sê hy twee keer vir Jakob Versteegh en kyk in sy kop in voor hy weer verder slaap. Kat is nie honger nie, sê hy vir mevrou Rebekka Versteegh, jy kan maar sy katkos in die spenskas bêre. Dalk is hy môre weer bietjie honger. Maar hy sê nie vir haar Kat het gesê hy is nie honger nie. Ook nie dat hy vooraf geweet het Kat gaan nie honger wees nie.

Dis in hierdie tyd dat hy begin uitvind het hy weet ook ander goed wat ander mense nie weet nie, soos die keer op ’n helder sonskyndag toe hy die môre met ’n sambreel en ’n reënjas by meneer Ter Braak se fabriek opdaag en die meisies in die voorste kantoor wat heeldag tik, so vir hom gelag het. Kon hulle dan nie weet dit gaan die middag so vreeslik reën nie? het hy hom afgevra toe hy die papiere vir meneer Ter Braak se fabriek begin uitsoek en wegbêre. Maar hy was ook glad nie eers vermakerig die middag toe hy in die vreeslike reën kurkdroog uitstap busstop toe nie en almal in die kantoor sopnat raak soos hulle in die straat af hardloop. Maar die volgende môre toe dit so dig bewolk was en hy sonder ’n sambreel en ’n jas by meneer Ter Braak se fabriek aankom, kom hy agter dat die meisies in die voorste kantoor agter hulle hande met mekaar praat en vir hom lag as hy die papiere by hulle kom haal wat hulle getik het of as hy verbystap om nog meer papiere by die trokdrywers te gaan haal.

Toe dit later die oggend so swaar begin reën, lag hulle sommer hardop. Gelukkig reën dit toe darem nie die hele dag nie, want so teen drie-uur die middag toe trek die weer oop en kom helder sonskyn deur. By die busstop na werk het almal hulle jasse en sambrele vir hom probeer wegsteek, maar hy het glad nie gemaak of hy hoogmoedig is of beter as ander mense weet nie.

Ook nie eers by die fabriek se kantoorpartytjie die einde van die jaar toe hy die geldprys wen omdat hy reg geraai het hoeveel boontjies in die groot glasbottel was nie – 234 wit bone was dit, van die soort wat opswel as dit ’n nag lank in ’n skottel water lê. Hy het egter opgemerk dat meneer Ter Braak hom lank en aandagtig sit en dophou soos hy bietjie eenkant sit en maak of dit niks is dat hy van die reën en die boontjies so baie weet nie. Eintlik maak hy maar net of dit niks is nie, want hy voel kort-kort in sy binnesak na die koevert met die geldprys, 234 bone se geld was dit, dit maak so ’n bult in sy sak. En dit alles net oor hy vooruit weet.

Maar nie almal het net stil na Jakob Versteegh gesit en kyk nie. So iemand was byvoorbeeld die een vroutjie met die bolla wat ook heeldag tik, maar wat ook die sleutels van die stoorkamer dra waarin die kombuis se tee en koffie gebêre word, en papier vir die toilette, en die skoonmakers se seep en vadoeke, en die klerke se skryfpenne en skryfpapier en nuwe lêers, en die trokdrywers en die werkers se oorpakke, alles goed wat maklik weggedra kan word. Na haar tweede glas van die rooi pons in die groot glasbak in die middel van die tafel het sy hom reguit gevra of dit waar is dat hy met die helm gebore is. Sy het gesê “helmet”, en sy sê sy kan sien hy weet baie van reënstorms en busse en boontjiepitte af, en vooruit ook. Weet hy ook van perde wat reisies hardloop? Dan kan hy mos baie geld wen as hy op die perd wed wat eerste kom.

Jakob Versteegh was verleë omdat hy so min geweet het van perde wat reisies hardloop en daarom het hy maar net met sy kop “nee” geskud en skaam weggestap met die glas rooi pons wat die vroutjie met die bolla vir hom uit die groot glasbak geskep het. Soet pons was dit, met borreltjies in, wat die vroutjie met die bolla en die ander meisies laggerig gemaak het nadat hulle die tweede of derde keer daarvan in hulle glase geskep het.

Maar dit het hom nie laggerig gemaak nie, want hy het net een keer daarvan gedrink en toe stilweg by die agterdeur van die fabriek uitgestap om met die bus huis toe te ry waar mevrou Rebekka Versteegh en Kat vir hom wag. Die hele pad in die bus het hy gedink oor perde wat reisies hardloop en toe by die perdeplek in die stad afgeklim om die perdekoerant te koop waarin hulle skryf van perde wat reisies hardloop.

Daardie aand sit Kat op die kombuistafel en kyk met groen ronde oë nog langer in Jakob Versteegh se kop in. Maar hierdie keer draai hy nie sy kop weg nie, maar kyk terug, reguit in Kat se kop in, nog voordat Kat se oë dalk geel word en hy met sy stert begin piets. Toe miaau Kat net en gaan lê in die besemkas, en toe weet Jakob Versteegh dis oor hy in Kat se kop ingekyk het, verby sy groen oë, dat Kat kwaad is, en nie net oor hy die heeltyd in die perdekoerant lees nie.

Dit het alles op die Vrydagaand gebeur. En dit was op die volgende dag, die Saterdag, dat daar ’n klomp perde in ’n klomp reisiese sou hardloop, het die perdekoerant geskryf, en toe vir elke reisies die name gegee van die perde wat seker sal wen. Sommer met die eerste deurlees het Jakob Versteegh gesien die perdekoerant raai maar sommer net. Dit sal beter wees as hy liewer self by die reisiesbaan na die reisiesperde gaan kyk om te sien watter een gaan eerste kom. En dan sal hy op daardie een wed, nie op dié waaroor die perdekoerant raai nie. Hy besluit ook hy gaan nie vir mevrou Rebekka Versteegh van die boontjiepitte se geld vertel nie. Maar hy sê tog vir haar dat meneer Ter Braak wil hê hy moet op die Saterdag kom oortyd werk, want die werk het baie agter geraak en daar is nou baie papiere van die trokdrywers en die tikmeisies wat gebêre moet word.

Die Saterdagmôre toe sy dus nog slaap, toe staan hy al op en vat die koevert met die geld van die boontjiepitte, sit dit in ’n seilsak en ry met die bus tot by die perde se reisiesbaan. Die wedplek is net langs die pawiljoen daar, sê hulle vir hom. Hy tel agt rye mense wat voor sulke glasrame in toue staan en dan wed mens by die klerke agter die glas. Vir ’n lang ruk kyk hy na die klerke wat deur ’n ronde gat in die glasraam met die mense praat en dan hulle geld vat, die eerste klerk wat so ’n maer dunne is wat lyk of hy kwaai is, en dan ’n snorman, en dan so al met die rame langs tot by die laaste een wat ’n swart vrou is wat haar hare in sulke toue vleg, so ’n groot ronnerige vrou. Jakob Versteegh hou die seilsak met die boontjiegeld styf vas en stap na die glasraam toe waar die man staan wat ’n snor het wat weglê na die kante toe en wat toe vir hom sê wat om doen as hy wil wed en hoeveel geld hy gaan kry as hy reg raai. Jakob Versteegh sê vir die man hy gaan nie raai nie, hy gaan eers kyk hoe die perde lyk wat in die reisies hardloop en wat hulle voor die tyd so in ’n kampie rondlei, en dan sal hy op die regte een kom wed. Die man agter die glas lag toe lekker en draai sy snor dat dit skerp punte maak na die kante toe.

Toe kom die eerste reisies se perde in die kampie aan, en Jakob Versteegh sien toe dadelik dis nommer 17 wat gaan wen. Hy sien dit aan die perd se ore. Maar omdat hy versigtig van aard is, wed hy toe nie geld nie, maar wag eers om te sien wat rêrig gaan gebeur. Hy was toe reg, want nommer 17 het sommer ’n hele ent voor die ander perde die reisies gewen, drie lengtes het die man met die wit hoedjie langs hom op die pawiljoen gesê en toe die kaartjies wat hy in sy hand hou, een vir een stukkend geskeur.

Jakob Versteegh gaan kyk toe na die perde wat in die kampie rondgelei word voor die volgende reisies, maar hy kon toe nie een sien wat vir seker sou wen nie. Dis eers met die derde reisies dat hy nommer 9 raaksien, ’n klein bruin perd met ’n wit voet wat hy vir seker kon sien sal die reisies wen. Hy sien dit duidelik aan nommer 9 se ore wat so vorentoe kyk. Hy stap toe na die man agter die glas toe wat vroeër so lekker gelag het en wat die snor het wat weglê na die kante toe, en sê vir hom die perd met die wit voet, nommer 9, is die een wat gaan wen, en hier is die geld in die seilsak om daarop te wed. Die man sê toe daar is baie beter perde, maar toemaar, as dit is wat hy wil hê, is dit gaaf. Die man met die wit hoedjie sê toe ook hy kan sien Jakob Versteegh weet heeltemal niks van reisiesperde af nie en dis hoekom hy sy geld op nommer 9 sit.

Die witvoetperd, nommer 9, wen toe sommer maklik en toe gee die man agter die glas met die snorpunte wat na die kante toe weglê, vir hom ’n hele klomp geld terug, seker tien keer of meer van die geld wat in die seilsak was. Dit wys jou net, sê die man met die wit hoedjie ook, die geluk is baie keer aan ’n beginner se kant, en hy skeur die wedkaartjie op van een van die verloorperde wat hy die hele tyd in sy hand vasgehou het, nommer 2 was dit, dieselfde perd waarvan die perdekoerant geskryf het. Ja, sê Jakob Versteegh, hy het gesien die perdekoerant skryf so verkeerd.

Hy wag toe nog twee reisiese en toe sien hy in die kampie ’n skraal pikswart perd met ’n bleskol op sy voorkop, nommer 14, wat vir seker gaan wen, want hy sien dit aan sy ore. Dis hoekom hy toe die hele seilsak se geld vir die man agter die glasraam gee en sê dis die perd wat die volgende reisies gaan wen. Maar weer ’n keer sê die man wie se snor na die kante toe weglê, maar is hy seker? Want nommer 14 is eintlik heeltemal ’n slegte perd waarop niemand wed nie en hy gaan al sy geld verloor. Hy skud ook sy kop toe Jakob Versteegh so wegstap en op die pawiljoen gaan sit, net langs die man met die wit hoedjie. Hy sê ook vir die man met die wit hoedjie nommer 14 gaan wen, want hy kan sien die perdekoerant raai al weer verkeerd.

Die man met die wit hoedjie sê nooit nie, die bruin perd nommer 8 gaan maklik met vier lengtes wen, dis hoekom hy baie gelde op hom gaan wed by die man agter die glasraam.

Maar toe Jakob Versteegh ’n rukkie later weer by die glasraam staan en die man met die weglêsnor vir hom vreeslik baie geld uittel, sê hy ook vir hom hy is bly as een wat die eerste keer begin wed ’n bietjie geluk het, en wat gaan hy nou doen? Jakob Versteegh sê toe hy sien daar is nog twee reisiese oor en hy wil graag al die geld wat nou in die seilsak is, op twee perde sit wat hy in die kampies gesien het. Die een is nommer 3 in die een reisies en die ander een is nommer 11 in die laaste reisies. Hy sê nie vir die man agter die glasraam hoe hy na nommer 3 en nommer 11 se ore gekyk het nie, en hy toe geweet het hoe hy moet wed nie, maar kan hy hulle so saam-saam wed? Ja, sê die man, maar hy dink dis ’n baie dom ding om te doen, veral vir iemand wat vir die eerste keer na ’n perdereisies toe kom, want vir seker gaan hy al sy swaarverdiende beginner se gelukgeld net so in die water gooi, want die perde wat hy gekies het, is eintlik buiteperde wat glad nie vandag kan wen nie. Die afstande is nie reg vir hulle nie, en hulle dra ook te veel gewig. Wil hy nie na iets anders kyk nie? En ook nie so baie geld waag nie? Wat van net die helfte, dan kan hy darem nog met goeie geld huis toe gaan?

Nee, sê Jakob Versteegh, hy wil met baie geld huis toe gaan, hier is die seilsak se note en silwergeld vir perde nommer 3 en nommer 11. Onthou ek het jou gewaarsku, sê die man agter die glasraam toe hy die geld vat en sy snor se punte skerper draai. Die man met die wit hoedjie waarsku hom ook en skud sy kop uit jammerte vir Jakob Versteegh. Hy sit toe met die leë seilsak stil op sy plek langs die man met die wit hoedjie en hy wonder wat Kat van alles sou gesê het.

Dit het toe niks gehelp dat hulle hom gewaarsku het nie, want na die laaste reisies het die man agter die glasraam met verbaasde oë vir Jakob Versteegh gevra om by die sydeur in te kom en sy tjek te kom haal, duisende der duisende geld, want hulle betaal nie sulke groot bedrae in kontant uit nie. Nee dankie, het Jakob Versteegh geantwoord, hy wil nie ’n tjek hê nie, want hy het nie ’n bank nie, net mevrou Versteegh het ’n bank, die geld moet in note wees, want hy weet goed hoe om dit diep weg te bêre. En al is dit gevaarlik om so baie geld rond te dra, en al sê meneer Ter Braak altyd misdaad vier hoogty, wil hy liewer die geld in note hê. Sit dit in hierdie seilsak wat hy saamgebring het, sê hy vir die man met die snor.

Toe hy by die hek uitstap, wag die man met die wit hoedjie vir hom buitekant en wil hy weet of hy weer die volgende Saterdag na die reisiese gaan kom kyk, en kan hy weer langs hom sit?

By die huis vat hy die seilsak met die baie geld en sit dit in ’n leë kleretas bo-op die hangkas in die spaarkamer. Maar eers haal hy die boontjiepitte se geld uit die seilsak en sit dit in ’n koevert saam met nog van die perdereisies se wengeld daarby en gee dit vir mevrou Rebekka Versteegh. Hy sê vir haar dis sy wengeld van die boontjiepitte saam met sy oortydgeld wat meneer Ter Braak vir hom gegee het, en sy kan dit vir haar vat en ’n winkelrok gaan koop. Sy is toe baie bly en sê haai Jakob jy is so goed vir my.

Toe sy dit sê, klim Kat uit die besemkas en kom sit in die middel van die kombuistafel en kyk vir Jakob Versteegh. Hy piets met sy stert heen en weer terwyl sy oë groter en ronder word soos hy in Jakob se kop in kyk. Na ’n ruk gee hy twee keer ’n lang miaau wat beteken hy weet van die geld in die seilsak in die spaarkamer en wanneer gaan Jakob ophou om so vir sy vrou te lieg. Sê vir haar van die seilsak, sê Kat toe hy weer ’n keer miaau.

En dis toe dat sy oë geel word. Groot en rond en geel. En hy piets met sy stert, so heen en weer. Net soos die tyd toe Vis en Voël weggeraak het.

Maar Jakob Versteegh kyk nie weg nie. Hy kyk terug vir Kat, binne-in Kat se kop in. Hy draai sy kop aspris weg van Kat af en kyk die hele aand glad nie weer vir Kat nie. Wat het die geld in die seilsak in elk geval met Kat te doen? dink hy toe hy later die aand in sy en mevrou Versteegh se breë bed klim waar hulle altyd Saterdagaande paar. Haai Jakob, sê mevrou Versteegh later die aand toe hulle klaar gepaar het, jy is darem so verspot op ’n Saterdagaand.

Toe dit Maandag word, haal hy die seilsak uit die kleretas en vat dit saam na meneer Ter Braak se fabriek toe waar hy dit toepak onder die tikmeisies en die trokdrywers se papiere op sy tafel. Met etenstyd maak hy ’n spesiale bêreplek vir die seilsak tussen die heel oudste lêers in die oudste swart bokse in die heel agterste rakke op die verste plek in sy stoorkamer, by die papiere wat die fabriek nie meer nodig het nie. Omdat hy nie meer iets verkeerd kon doen nie, is hy baie tevrede dat niemand die seilsak met sy geld in die swart bokse sal kry nie. Hy wéét dit. Vooruit.

Toe dit weer Saterdag word, sê Jakob Versteegh vir mevrou Rebekka Versteegh daar is nou so baie papiere by meneer Ter Braak se fabriek dat hy van nou af op Saterdae vir meneer Ter Braak sal moet gaan help om alles uit te soek en te bêre, want anders gaan hulle net nie deur die werk kom nie. Haai Jakob, sê sy, jy is darem so ’n steunpilaar vir meneer Ter Braak.

Toe sy en haar susters op die ander dorpe, en haar ma wat pyne het en wat in Huis Herfsblaar bly, mekaar op die Saterdag soos gewoonlik begin bel en oor mekaar begin praat, sê sy haai die Jakob van haar darem, wat meneer Ter Braak sonder hom sal doen, weet sy nie. Hulle praat toe verder oor Jakob Versteegh en hoe goed hy vir haar en vir Kat is en hoe goed hy vir Voël en Vis was. Eers daarna praat hulle oor die susters se kinders en oor hulle so skatlik is. Hulle praat ook oor mekaar en oor die kos in Huis Herfsblaar wat nie goed is nie en wat dalk maak dat almal pyne kry en dan met kieries loop. Terwyl hulle praat, sit Kat die hele tyd en miaau, alles seker net oor die geld in die seilsak, maar mevrou Rebekka Versteegh maak hom stil, sy kan nie hoor wat haar ma-hulle sê nie.

Intussen staan Jakob Versteegh al die hele môre by die reisiesplek se perdekampies en soek die perde uit wat gaan wen. Hy kyk na hulle ore en hou die seilsak styf vas. Die man met die wit hoedjie het vroeër vir hom by die groot hek gewag en dadelik vertel wat alles in die perdekoerant staan, en wat dink hy van die perde waaroor die koerant skryf? En hier is sy broer wat ook vandag saam gekom het, en nog twee vriende ook, en aangename kennis, sê almal, en kan hulle vir hom ’n bier koop of iets om te eet dalk? ’n Broodjie met vleis op?

Haai, party mense is darem baie vriendelik, glad nie soos die trokdrywers en die tikmeisies by meneer Ter Braak se fabriek nie, dink Jakob Versteegh, toe hy ’n groot hap vat aan ’n broodjie met vleis. Hy hou dit sommer so in sy hand. Die man agter die glasraam wat die snor het wat na die kante toe weglê, onthou hom ook nog goed en groet net so vriendelik. En wat wed hy vandag? Nommer 8 in die eerste reisies? Sommer al die geld in die koevert hier binne-in die seilsak? Ja alles sê Jakob.

Die man met die wit hoedjie wat agter hom staan en sy broer en hulle twee vriende praat saggies onder mekaar en sê nommer 8 is presies die perd wat hulle ook uitgesoek het en hier is hulle baie geld wat hulle toe vir die man met die snor gee.

Die perd nommer 8 wen toe maklik en almal lag bly toe hulle hulle wengeld gaan haal. Die man met die wit hoedjie en sy broer en hulle twee vriende wonder nou watter perd die volgende reisies gaan wen. Seker maar nommer 12, want dis ’n baie goeie perd wat altyd ver wen. Wil hy nie bietjie na die perde in die kampie gaan kyk nie? vra hulle vriendelik en wil terselfdertyd weet of hy nie lus is vir nog ’n broodjie met vleis op nie. Jakob Versteegh sê miskien later, maar eers wil hy na die perde se ore gaan kyk. Dis ’n goeie plan, sê die man met die wit hoedjie, hulle wou juis ook na die perde se ore gaan kyk het, en dus stap hulle sommer saam agter hom aan. Jakob sien toe dadelik nommer 12 is nie die regte perd nie, maar wel nommer 6, want sy ore kyk meer vorentoeër. Ja, sê almal, hulle stem saam met hom, hulle sien nou ook duidelik dis nommer 6 wat gaan wen en nie nommer 12 soos die perdekoerant raai nie.

Toe Jakob Versteegh al die geld in die seilsak vir die man met die snor gee en sê dis op perd nommer 6, vat die man met die wit hoedjie en sy broer en hulle twee vriende en nog drie ander wat weer vriende is van sy broer se eerste twee vriende en wat nou bygekom het, ook al hulle geld en gee dit vir die man met die snor. Nommer 6, sê hulle almal.

Perd nommer 6 wen toe ook maklik en almal lag lekker saam toe hulle hulle wengeld gaan haal. Jacob Versteegh sien dat sy wengeld nie so baie is soos wat hy gedink het dit gaan wees nie, maar hy wil nie lelik wees en onnodig uitvra nie, en bly toe maar stil. Dis eers na nog vier reisiese toe hy en die man met die wit hoedjie en sy broer, en sy broer se twee vriende saam met hulle drie nuwe vriende en vier ander vriende wat sy broer ook het, plus almal in die ry agter hulle op die pawiljoen, hulle wengeld gaan haal dat hy vir die man met die snor vra nou hoekom wen hy nou al minder en minder, sy seilsak is nog nie eers halfpad vol nie, dat die man met die snor vir hom sê dis geen wonder nie, want die man met die wit hoedjie en sy vriende en die helfte van die pawiljoen wed nou almal op dieselfde perd, en dis hoekom die wengeld nou so min is. Hoekom gaan wed hy nie eenkant alleen nie en sê vir niemand wat die regte perd is nie.

Toe doen Jakob Versteegh iets baie leliks waaroor hy agterna baie sleg voel. Met die volgende reisies kan hy sien daar is ’n vosperd nommer 15 wat los voor gaan hardloop, maar hy sê vir die man met die wit hoedjie dis nommer 8 wat los voor gaan hardloop. Die man met die wit hoedjie en sy broer en hulle vriende en hulle nuwe vriende plus almal in die ry voor hulle en die ry agter hulle lag vriendelik met mekaar, en ook met hom, en almal gaan wed vinnig baie geld op nommer 8 wat los voor gaan hardloop. Hy self gaan nie na die man toe wat die snor het wat na die kante toe weglê nie, maar na die swart vrou toe wie se hare in toue gevleg is en wat by die laaste glasraam staan. Hy sê saggies vir haar sy moet al die geld in die seilsak op die vosperd nommer 15 sit.

Die vosperd hardloop toe los voor al die ander perde by die wenpaal verby en nommer 8 kom toe heel laaste. Toe is die man met die wit hoedjie en sy broer en hulle vriende en al die ander baie ongelukkig en sê vir Jakob Versteegh hy moet volgende keer sy oë oopmaak en beter kyk hoe die perde se ore lyk. En wat gaan hy doen dat hulle met die twee laaste reisiese darem hulle geld kan terugwen wat hulle verloor het oor hy so verkeerd kyk? Hy is jammer, sê Jakob Versteegh, hy sal hierdie keer mooi kyk, en hy begin na die perdekampie toe stap. Maar eers gaan hy na die groot swart vrou toe wie se hare in toue gevleg is en kry al sy wengeld, wat hy in die seilsak pak.

In die kampie kan hy duidelik sien dit moet perde nommers 4 en 16 wees, maar hy sê vir die man met die wit hoedjie dis nommers 2 en 11 wat ver gaan wen. Hierdie keer is hy doodseker, sê hy, want hy gaan al sy geld ook op nommers 2 en 11 sit. Die man met die wit hoedjie en sy broer en hulle nuwe vriende en almal in die rye voor en agter hulle op die pawiljoen lyk toe meer tevrede en gaan wed duisende gelde op nommers 2 en 11 saam-saam. By die verste glasraam by die groot swart vrou maak Jakob Versteegh sy seilsak leeg. Nommers 4 en 16, sê hy saggies vir haar sodat niemand anders dalk kan hoor nie, vernaam nie sy nuwe vriende wat vir hom bier en broodjies koop nie.

Die verkeerde perde verloor toe weer ver en die man met die wit hoedjie en sy broer en hulle vriende en almal op die pawiljoen in die rye voor en agter hom lag toe glad nie meer nie en raak baie onvriendelik. ’n Paar is kwaad en een man vloek op hom met lelike woorde terwyl hy sy wedkaartjies opskeur. Die man met die wit hoedjie groet hom nie toe hy by die hek uitstap nie, en sy broer wat vir hom die broodjie met vleis op gekoop het, ook nie. Jakob Versteegh bly toe alleen agter en dis toe dat hy so sleg begin voel, want hy sien toe sy nuwe vriende is net so lelik met hom soos die trokdrywers by meneer Ter Braak se fabriek, hulle en die tikmeisies in die voorste kantoor. Dis oor hy so lelik was met die verkeerde perde, dink hy, maar hy begin toe darem beter voel toe hy by die groot swart vrou al die geld in die seilsak pak wat hy op perde nommer 4 en 16 gewen het. Dis so baie dat hy skaars die laaste paar note kan inkry, en hy dink toe dat dit miskien goed sal wees as hy volgende keer ’n groter seilsak bring.

Toe hy die aand die seilsak in die kleretas bo-op die hangkas wegpak, spring Kat op en gaan sit op die kleretas, waar hy drie keer hard miaau en vir Jakob Versteegh kyk. Haai, sê mevrou Rebekka Versteegh toe sy in die slaapkamer kom, kyk net hoe verspot is Kat, hoekom gaan lê hy nie op sy stoelkussing in die besemkas nie? Ja, sê Jakob Versteegh, Kat is regtig verspot, alhoewel hy weet dat Kat nie verspot is nie maar wel baie kwaad omdat hy nie vir mevrou Versteegh wil sê van die perdegeld in die seilsak binne-in die kleretas nie.

Die hele naweek bly Kat op die kleretas sit en miaau net kort-kort terwyl hy met kwaai oë vir Jakob Versteegh kyk. Eers die Maandag toe Jakob die seilsak na meneer Ter Braak se fabriek toe vat om die geld in die agterste swart bokse weg te bêre, klim hy van die kleretas af en gaan lê op sy stoelkussing in die besemkas. Maar saans as Jakob Versteegh van die fabriek af kom en by die kombuistafel gaan sit, kom sit Kat reg voor hom en kyk binne-in sy kop in. Na ’n ruk begin sy stert piets en raak sy oë rond en geel.

En die hele week hou dit so aan. Tot dit Saterdag word. Dan begin alles weer van voor af. Maar eers kry Jakob Versteegh ’n nuwe seilsak by die winkel wat seilsakke verkoop, ’n groter sak sodat al die gelde wat hy wen daarin kan gaan en hy nie party gelde sommer in sy broeksakke moet steek nie.

Saterdag na Saterdag as mevrou Rebekka Versteegh dink hy pak die papiere van die trokdrywers en die tikmeisies weg by meneer Ter Braak se fabriek, dan kyk hy vir die perde se ore in die perdekampie en wed uit die seilsak by die glasrame waar die man staan met die snor wat na die kante toe weglê of by die groot swart vrou met die gevlegte touhare. Of by ander ook – by die ou vette met die blink bles of die maer kwaai vrou met die dun lippe. Enigeen. Solank die man met die wit hoedjie en sy broer net nie hoor hoe hy wed nie. Aan die een kant is Jakob Versteegh nogal jammer dat hulle vir hom kwaad is en nog nooit weer vir hom ’n broodjie met vleis op gekoop het nie, al het hy hulle nou ook al ’n paar keer vriendelik probeer groet. Hulle draai net hulle rug op hom en gaan wed op die perde waarvan die perdekoerant so skryf.

Jakob Versteegh sal dan met die seilsak vol geld van die perdereisies af kom, dit in die kleretas bo-op die hangkas wegpak, wanneer Kat dan weer op die kleretas kom sit en hard vir Jakob miaau. Haai, die Kat darem, sê mevrou Rebekka Versteegh dan altyd, kyk net hoe verspot is hy op ’n Saterdagaand, en vol allerhande streke, net soos iemand anders wat sy ken wat ook streke het op Saterdagaande en dan verspot is.

Toe Kat weer een aand op die kombuistafel vir hom sit en kyk, en sy oë weer so rond en geel raak, en sy stert weer so piets, toe grom Kat vir Jakob en trek sy ore plat. Dis soos Kat moet gelyk het die tyd toe Vis en Voël weggeraak het, dink Jakob, en dis hoekom hy nie meer vir Kat in die huis wil hê nie. Kat moet weggaan, besluit hy. Hy moet net eers ’n plan kry.

Die plan wat hy toe een Saterdag kry, was ’n baie goeie plan. Dit het so gewerk.

Kyk, sê hy vir mevrou Rebekka Versteegh, dis tyd dat sy ’n vakansie kry. Sy werk so hard die hele tyd by die slagpale en kry nooit vakansie nie. Sy moet na haar baas toe gaan en vra vir ’n vakansie vir twee weke. Hier in die seilsak is van die geld wat meneer Ter Braak hom gegee het oor hy Saterdae papiere kom wegpak. Sy moet dit vat en vir haar winkelklere gaan koop en aansmeergoed om haar op te maak en presente vir haar ma in Huis Herfsblaar en vir haar susters en haar susters se kinders en ’n nuwe kleretas om alles in te pak. Wil sy dalk ’n hoed ook hê? Of van die nuwe soort skoene met dik hakke? Hier is ook die geld om met die toerbus na hulle toe te ry. Bly daar vir twee weke, dan kan hulle baie kuier en oor mekaar en oor haar susters se kinders gesels wat so skatlik is. Sal dit nou nie lekker wees nie?

Haai Jakob, jy is so goed vir my, sê sy toe. Net Maandag doen sy dit.

Dis hoe dit gekom het dat mevrou Rebekka Versteegh die volgende Sondag van die busseplek in die stad af met die toerbus weggegaan het. By hierdie busseplek was daar baie busse wat na baie plekke toe gegaan het, na ander dorpe toe, of na die see se kant toe, of na die berg se kant toe waar mens dan weer op die karretjie kan klim wat aan ’n dik ysterkabel hang en wat tot bo-op die berg ry. Hy self het al baie keer gewonder hoe dit bo-op die berg sal wees en waar hy hoor die wind so baie waai. ’n Wind so sterk dat mens kan wegwaai, sê die vroutjie met die bolla by meneer Ter Braak se fabriek wat eenkeer saam met kuiermense op die berg was.

Maar mevrou Rebekka Versteegh ry toe op die Sondag nie met die berg se bus weg nie, maar met die toerbus na haar susters en haar ma se dorpe toe wat ver is. Sy het van haar nuwe winkelklere aangetrek, saam met die nuwe soort skoene met die dik hakke. Sy het ook haar nuwe hoed opgesit. In haar nuwe kleretas het sy ook nog ander nuwe winkelklere saam met die presente vir haar susters en haar susters se kinders en vir haar ma in Huis Herfsblaar. Toe die toerbus ry, kyk sy deur die venster en waai vir hom met haar sakdoek.

Jakob Versteegh bly toe alleen agter. Hy en Kat. Dit was die Sondag.

Die tweede deel van sy plan begin toe op die Maandagmôre voor hy met die bus na meneer Ter Braak se fabriek toe ry. Hy gee nie vir Kat kos nie, want hy weet Kat gaan tog nie kos nodig hê nie. Hy kyk eers goed of Kat mooi op die stoelkussing in die besemkas lê en toe maak hy die kombuis se binnedeur en die vensters goed toe sodat daar nie lug kan inkom of uitkom nie en ook dat Kat nie kan inkom of uitkom nie. Toe draai hy die gaskraan van die stoof heeltemal oop en stap uit. Hy sluit ook die deur agter hom. Kat bly toe alleen agter en slaap op die stoelkussing in die besemkas.

En dit was hoe die plan gewerk het wat Jakob Versteegh uitgedink het.

Toe hy die middag by die huis kom, draai hy weer die gaskraan van die stoof toe en maak al die vensters en deure wyd oop terwyl hy met sy hand sy mond en sy neus styf toe hou om nie van die stoof se gas in te asem nie. Dit is baie giftige gas, sien hy, want Kat lê toe morsdood stil op die stoelkussing in die besemkas.

Jakob Versteegh gaan stap toe ’n ver ent in die straat af totdat al die giftige gas van die stoof by die deure en vensters uitgewaai het. Toe eers gaan hy terug en tel vir Kat op wat stokstyf dood is en gooi hom in die vuilgoeddrom wat die vuilgoedlorrie van die munisipaliteit sal kom wegvat, die volgende dag, want dis op Dinsdae dat die vuilgoedlorrie kom. Dan sal hulle vir Kat wegvat, vir altyd en altyd.

Mens kan dus sien dat die plan wat Jakob Versteegh oor Kat uitgedink het, ’n baie goeie plan was, want dit was nog vroeg, nog voordat hy na die busstop toe is, dat hy deur die venster gesien het hoe die vuilgoedlorrie die dromme oplaai en wegry. En met Kat daarin.

Hy was egter bietjie kwaad vir homself toe hy na ’n ruk op die bus sien hy het op Nommer 17B se bus geklim pleks van Nommer 18B. Hy beland toe aan die anderkant van die stad in plaas van by meneer Ter Braak se fabriek, waar hy toe baie laat aankom. Meneer Ter Braak was gelukkig nie vir hom kwaad nie, want dis al ’n hele lang ruk dat Jakob Versteegh nooit laat kom nie en so mooi werk. Meneer Ter Braak sê toe niks nie, maar die tikmeisies sê agter hulle hande iets vir mekaar.

Nog ’n plek waar Jakob Versteegh vir homself bietjie kwaad geraak het, was by die koswinkel die Woensdagmiddag toe hy heeltemal verkeerde geld vir die vrou by die geldlaai uitgetel het. Sy vra toe vir hom of hy dink hy kan met skelmstreke wegkom en minder betaal as wat hy gekoop het. Hy sê toe aanmekaar jammer, maar dit het nie gelyk of sy hom glo nie.

Dit was op dieselfde aand toe die ouderling by hulle huis aankom om die kerk se geld te kom haal en Jakob vir hom moet sê hy weet nie waar mevrou Versteegh die koevert sit met die kerk se geld daarin nie en hy moet anderdag weer kom. Dis nie dat hy nie die geld wil gee nie, want hy weet baie goed dit staan in Job hy moet ’n tiende van sy geld vir die kerk bêre. Die ouderling sê toe haai broer Versteegh, nou raak hy skaam want hy onthou nog goed hoe broer Versteegh hom tereg gewys het dat dit die apostel was wat dit geskryf het, en nie Job nie – die apostel Paulus was dit. Hoe praat broer Versteegh dan nou weer anders? Toe is dit Jakob Versteegh wat skaam raak, en ook ’n bietjie kwaad vir homself.

Maar Jakob Versteegh was nog meer vir homself kwaad toe hy op die Donderdagmôre die vuilgoeddrom straat toe gesleep het. Hy het al die tyd vergeet dat die vuilgoedlorrie op ’n Dinsdag kom en nie op ’n Donderdag nie. Veral nie omdat hy tog goed weet dat Kat op die Dinsdag met die lorrie weg is en hy nog self vir Kat in die drom gegooi het.

Toe hy die Vrydag weer met Bus nommer 17B verkeerd ry en weer laat kom, het meneer Ter Braak sy bril op sy neus laat sak en lank vir hom gekyk. Maar hy het weer niks gesê nie. Net die tikmeisies het agter hulle hande gelag.

Jakob Versteegh was op sy meeste kwaad vir homself toe hy op dieselfde Vrydag van die tikmeisies se papiere in lêer 122A gebêre pleks van in lêer 122B, en ook nog twee keer van die trokdrywers se papiere by die tikmeisies se papiere gesit het. Dit was die vroutjie met die bolla wat dit agtergekom het en dadelik vir meneer Ter Braak gaan sê het. Hulle het die hele middag na die deurmekaar papiere gesoek voor hulle dit uiteindelik gekry het, amper op die einde van die rakke waar die swart bokse begin. Dís hoe ver hy dit verkeerd gebêre het. Dis toe eers dat meneer Ter Braak vir hom begin kwaad raak het, net soos die tyd toe hy ’n Klerk Graad 3 geword het.

Jakob Versteegh was toe baie bly dat die week verby was en hy weer die Saterdag met sy seilsak na die perdereisies toe kon gaan. Maar wat hy toe nie kon verstaan nie, was dat die perde se ore almal dieselfde gelyk het, vorentoe of regop of agtertoe, hy kon net nie sien wie gaan wen nie. Hy wed toe net bietjies-bietjies op die perde met die langste ore en verloor elke keer. Die man met die wit hoedjie wed elke keer net wat die perdekoerant sê en wen die hele tyd. Toe Jakob Versteegh ook op die perd wed waarvan die koerant skryf, verloor hy daardie geld ook. Die man met die snor wat na die kante toe weglê, is ook glad nie meer vriendelik toe hy na die glasraam toe stap om te kyk of hy nie net dalk geld gewen het nie. Hy sê kan hy nie sien die kaartjie vir perd nommer 5 is niks werd nie, want nommer 5 het heel laaste gekom? Moenie met verloorkaartjies in die tou kom staan en almal se tyd mors nie.

So word die dag nie vir hom ’n lekker dag nie, maar hy hou aan en aan wed en aan en aan verloor. Nog voor die laaste reisies is die geld in die seilsak op. Hy hou die sak onderstebo en skud dit goed uit, maar dis heeltemal leeg. Gelukkig kry hy darem nog ’n bietjie busgeld in sy broeksak en gaan toe huis toe.

Die hele aand en die volgende dag lê hy op die groot bed en dink. Hy dink die meeste oor Kat wat saam met die vuilgoedlorrie weg is. Ook oor Vis en oor Voël. Hy dink ook oor die perde se ore en oor mevrou Rebekka Versteegh en oor die baie geld in die agterste swart bokse by meneer Ter Braak se fabriek. Hy wonder hoe dit sal wees as hy ’n broer het, soos mevrou Rebekka Versteegh wat susters op ander dorpe het. Of soos die man met die wit hoedjie wat ’n broer het wat ook na die perdereisies toe kom. So een. Een om mee te praat.

En toe kry hy weer ’n plan. En die plan werk so.

Die Maandagmôre baie vroeg vat hy die twee groot kleretasse in die spaarkamer en ry met die bus na meneer Ter Braak se fabriek toe waar hy vir die man wat die hek oppas sê hy het nou so baie papiere om uit te soek, hy kom dus vroeg werk toe en hy gaan laat werk en al twee die tasse vol papiere saam huis toe ook vat om al sy werk klaar te kry. Dis voorbeeldig van hom, sê die man wat die hek oppas – as die trokdrywers en die tikmeisies en al die ander by meneer Ter Braak se fabriek ook maar sy voorbeeld sou volg, sal daar nie so baie goed weggedra word nie en sal sy werk ook makliker wees.

Jakob Versteegh sit toe die kleretasse heel ver op die agterste rakke neer en wag die middag tot almal al huis toe is voor hy die geld in die swart bokse alles oorpak in die kleretasse. Dit vat ’n hele ruk, want daar is baie geld van baie weke se perdereisiese wat hy in die seilsak aangedra het en in die swart bokse weggepak het. Toe hy uiteindelik klaar is, is die kleretasse propvol en so swaar dat hy eintlik sukkel om al twee kleretasse tegelyk te dra. Haai Jakob, sê die man wat die hek oppas toe Jakob uitstap, jy is darem so voorbeeldig, jy sal jou nog doodwerk. Ag dis niks nie, my werk kom eerste, antwoord Jakob toe hy met die sware kleretasse aansukkel tot by die busstop.

Toe hy by die huis aankom en die kleretasse op die bed in die spaarkamer neersit, is hy eintlik papnat gesweet. Dís hoe swaar en hoe baie die perdegeld in die kleretasse was.

Hy sluit al die deure van die huis en trek ook die gordyne voor die vensters goed toe dat niemand binnekant toe kan sien nie. Hy weet niemand sal na hulle huis toe kom nie, want die ouderling was die maand alreeds daar, maar dis goed om net doodseker te maak dat niemand dalk per ongeluk deur die venster kyk nie. Toe begin hy die geld in hopies uitpak, elke soort by elke soort, sodat die gelde wat dierekoppe op het, almal na dieselfde kant toe kyk, en dat die gelde wat menskoppe op het, soos die president se kop, ook almal na dieselfde kant toe kyk. Of soos ’n mynhoop dalk, soos wat party gelde op het, of ’n spies of ’n kierie wat ander gelde weer op het. Jakob Versteegh pak al baie jare papiere wat bymekaar hoort in hopies uit en dit is dus vir hom nie te moeilik om al die soorte gelde in hulle regte hopies uit te pak nie, hopies van dierekoppe, menskoppe, mynhope en kieries en spiese. Maar omdat die gelde so baie is, pak hy die eerste aand nie eers die helfte van die groot kleretas se gelde in die regte hopies uit nie en toe is hy moeg. Toe is die spaarkamer se bed ook al vol van al die hopies.

Die volgende aand werk hy vinniger, want dis toe al makliker vir hom om die mynhope en menskoppe en spiese op die gelde uitmekaar te ken en in die regte hopies te pak. Dit was ook makliker om die hopies op die vloer te maak pleks van op die bed, en dis hoekom hy met die eerste tas se gelde klaar is sommer nog voor dit laat die aand word. Op die derde en vierde aand gaan dit nog vinniger, so vinnig dat al twee die kleretasse se gelde op die Vrydagaand klaar uitgepak was en hy met die volgende deel van sy plan kan begin.

Dis die deel van die seilsak.

Hy vat ’n klompie van die hopies met die meeste gelde en waarop daar leeukoppe is en pak dit in die seilsak, sy groot nuwe seilsak wat hy die tyd gekry het toe hy sien die perdegeld wat hy wen, was te veel vir sy eerste sak. Hy pak toe ook van die gelde in wat die mynhope en die president se kop op het, en toe ook nog ’n hele klomp gelde van dié met spiese en kieries op. Die seilsak is toe so vol dat dit eintlik ’n bult maak na die kant toe. Hy los al die ander hope gelde net so op die bed en op die vloer. Toe hy die aand gaan slaap, dink hy heeltyd aan wat hy alles die volgende dag gaan doen.

Hy staan vroeg op, en al was dit Saterdag, trek hy sy kerkpak aan en sit sy hoed ook op sodat almal kan sien hy is stigtelik. Hy hang die seilsak oor sy skouer en klim by ’n plek in die stad af waar die hele plek net vol winkels is, winkels vol kos en klere en karre en huisraad en kombuisgoed en speelgoed vir kinders en televisies en boeke en musiek en plekke om te eet en te drink en plekke wat huise verkoop of toere verkoop met toerbusse of met bote of vliegtuie wat na verre lande toe vlieg en nog baie ander winkels. Jakob Versteegh is verbaas om te sien hoeveel duisende mense van die een winkel na die ander toe hardloop om al die goed te koop wat in die vensters is. Party mense stoot glads waentjies rond wat volgepak is met speelgoed, seker vir kinders wat skatlik is, en kos en klere en baie goed wat in blink papiere toegedraai is terwyl hulle jaag om by die volgende winkel nog ander goed by te koop.

Jakob Versteegh weet glad nie wat hy wil hê nie. Wat sal hy met ’n motorkar maak as hy nie eers weet hoe om daarmee te ry nie? En waarheen sal hy ry? Netnou kom ry mense in hom vas. Of na watter land toe sal hy heen vlieg of met watter boot op die see wegvaar? Hy ken niemand op ander plekke nie, en vernaam nie op plekke wat anderkant die see is nie. By een winkel kyk hy lank na al die stoele en banke en tafels en wonder hy waar hy en mevrou Rebekka Versteegh daarvoor plek gaan kry, hulle huis van die munisipaliteit is alreeds so klein en beknop. Hy kan ook niks met die speelgoed maak nie, want mevrou Rebekka Versteegh het al klaar vir haar susters se kinders speelgoed saamgevat. By die winkel wat klere verkoop, staan hy lank en dink of hy nie dalk ’n nuwe kerkpak moet koop nie, maar hy sien toe sommer daar is nie ’n kerkpak wat reg is vir kerk nie, alles net pakke vir rondry in vliegtuie of vergadering hou, nes meneer Ter Braak en die mense van die bank altyd. Hy gaan staan nie eers en kyk by die winkel van die lampe en ligte nie, hy stap net verby, want in hulle huis het die munisipaliteit reeds klaar ligte ingesit.

Jakob Versteegh is egter baie verbaas om te sien hoeveel winkels daar is wat rokke verkoop en hoeveel daar is wat net skoene vir vrouens verkoop. Gelukkig het mevrou Rebekka Versteegh al klaar twee winkelrokke gekoop en ook skoene met die nuwe soort hakke, dus gaan dit nie nodig wees om nog meer daarvan te koop nie. Dit gaan nou weer ’n lang tyd vat voordat sy weer met die toerbus sal ry, en daarom stap hy toe maar verder en kyk vir die ander winkels waar hy dalk iets kan koop met die geld in die seilsak. Maar hoe meer hy kyk en hoe meer hy soek, hoe minder kry hy iets wat hy wil koop. Wat gaan hy daarmee maak? Of waar bêre hy dit? Dis wat hy aanmekaar vir homself vra as hy iets sien wat hy net dalk wil koop. Dan stap hy maar weer net verder.

Toe hy amper al die hele dag na die winkels gekyk het, kom hy heel op die einde af op ’n plek wat broodjies maak. Hy was toe al honger en moeg van die baie stap en na winkels kyk dat dit vir hom lekker was om by so ’n tafeltjie te gaan sit en ’n broodjie te koop. Met vleis op, sê hy vir die meisie met die skinkbord. En het hulle bier?

Toe onthou hy weer van die keer by die perdereisies toe die man met die hoedjie se broer vir hom die broodjie met vleis op gekoop het, en ook met ’n bier daarby. Hulle was darem so vriendelik die dag, onthou hy, totdat hy so lelik met hulle was en die verkeerde perde se nommers vir hulle gesê het.

Hoe jammer is hy nie nou nie?

Maar aan die ander kant, dink hy, het hy darem nou al die baie geld, ’n bietjie hier in die seilsak en die ander op die bed en op die vloer van die spaarkamer by die huis. Hy soek nog net iets om te kan koop. Hy moet net eers goed daaroor dink en dan sal hy aan baie dinge dink wat hy kan koop. Miskien tog wel ’n kerkpak.

So dink Jakob Versteegh by homself die hele tyd dat hy die broodjie eet en later met die bus huis toe ry.

By die huis gaan lê hy op sy en mevrou Rebekka Versteegh se groot bed en dink hy nog verder. Hy dink die hele aand en die nag ook nog. Toe hy baie gedink en klaar geslaap het, staan hy die Sondagmôre op en pak al die hopies geld weer terug in die twee groot kleretasse. Al die dierekoppe op die gelde mooi bymekaar, leeukoppe is dit, en die mynhope en die president se koppe en die spiese en die kieries ook, alles agtermekaar. Hy wonder of hy die hopies moet tel, maar besluit toe dis onnodig. Die plan wat hy uitgedink het, was ’n baie goeie plan, want toe hy by die voordeur uitkyk, sien hy dat die wind sterk waai. Sy plan sal goed werk, dink hy, en wel nog op dieselfde dag dat mevrou Rebekka Versteegh met die toerbus terugkom van haar susters en haar ma af.

Hy vat eers bietjie van die geld in die seilsak wat so met ’n bult staan en sit dit onder die broodblik waar mevrou Rebekka Versteegh ook nog ander geld vir hom gebêre het wat hy dalk sou nodig kry terwyl sy weg is. Dieselfde tyd kry hy ook onder die broodblik die kerkgeld in ’n koevert wat sy vir die ouderling daar gebêre het en waarvan hy skoon vergeet het. Hy voel toe rêrig aardig dat hy nooit vir die ouderling die kerkgeld gegee het nie, maar dink toe dat die kerk seker nog ander geld iewers moet hê en dat hulle darem seker genoeg geld sal hê tot hulle volgende keer dubbeld kry. Toe hy tevrede is dat daar genoeg geld onder die broodblik is wat mevrou Rebekka Versteegh kan nodig kry, hang hy die seilsak oor sy skouer en sleep die sware kleretasse na die busstop toe.

By die busseplek in die stad sukkel hy om die kleretasse op die bus te kry wat berg toe gaan. Die busman wat die kaartjies vat, sê vir hom die bus is nie bedoel vir mense wat sware tasse bergop wil vat nie en netnou steel iemand nog die kleretasse met sy klere en sy goed daarin en dus hy moet maar net hier naby sy tasse staan tot hulle afklim. By die karretjie wat aan die ysterkabel hang, is dit amper net so ’n gesukkel, maar uiteindelik staan Jakob Versteegh met sy tasse heel agter en kyk hy hoe die stad onder hom al kleiner en kleiner word soos wat die kabel die karretjie teen die berg optrek. Maar die karretjie swaai heen en weer soos ’n sterk wind dit waai en dan skreeu die meisietjies in die karretjie hardop soos wat hulle lag en maak of hulle bang is.

So ry hulle tot hulle in die gebou bo-op die berg is en Jakob die kleretasse verder dra tot by een van die bankies waar mense van heel bo af op ’n mooi dag vir die stad en die see kyk. Maar niemand wil op hierdie oggend van die bankies af vir die stad en die see kyk nie, omdat dit nie ’n mooi dag is nie en die wind te sterk is. Almal vlug na die anderkant van die gebou toe waar die wind nie so waai nie, of na die eetplek toe waar hulle worse en broodjies en ander kosse en sappe kan kry, en toe is Jakob alleen by die bankie wat oor die stad en die see uitkyk.

Toe begin die laaste deel van sy laaste plan. Hy vat ’n groot handvol van die geld met die leeukoppe op en gooi dit in die lug op waar die wind dit skep en teen ’n wilde spoed die berg afjaag. Die een oomblik was die gelde nog in die lug en die volgende oomblik was dit weg in die verte. Jakob vat nog ’n handvol gelde, weer van dié met die leeukoppe op, en gooi dit ook in die lug op, toe nog sommer twee handevol van enige soort in die tas. Alles verdwyn oombliklik in die bloute. Nou raas en ruk die wind om die bankie en dit klink vir Jakob of die wind smeek vir nog gelde. Nóg, nóg, huil die wind, asseblief nog méér, en sluk handevol gelde in wat Jakob in die lug opgooi, enige gelde, van dié met spiese en kieries op en presidentkoppe en dierekoppe en mynhope, al die soorte. Die wind op die berg gryp dit, sluk dit in en verdwyn daarmee sommer in wolke hier naby of ver teen die hange daar onder.

En toe is die eerste tas leeg. Toe die tweede tas. En eers daarna die seilsak se gelde. Hy voel toe in sy broeksak en is bly toe hy sien hy het genoeg geld vir ’n broodjie. Een met vleis op.