Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Vrye Woord-nuusbrief – 09.05.2011: Vrye Woord loods petisie teen die plundering van die omgewing


2011-05-11

Untitled Document

09.05.2011

Geen openbare inspraak of gesprek tel meer nie

Talle skrywers en woordwerkers wat die drukgroep Vrye Woord se geveg vir spaakvryheid ondersteun, was ook in verset tydens die era van apartheid en sensuur. Soos Tim du Plessis van Beeld dit stel: dit is egter tans ’n nuwe, groen struggle. Die omgewing word voor ons oë met behulp van die ANC verwoes. Weereens pas die ANC-regering sy bekende muilbandstrategie toe deur belangegroepe se versetstemme te ignoreer of te smoor. Ware openbare inspraak bestaan bykans nie.

Uiters belangrike besluite oor mynbouregte is helaas in die verlede oorgelaat aan politici wat soveel van bewaring weet as ’n aap van olie. En ewe min omgee. Die ANC/regering is min oor die plundering van ons hulpbronne en natuur gepla, want die staatskas en die vetkatte baat met elke nuwe vernietigingsprojek.

Ons sê nee vir maatskappye soos CoAL wat selfs ons vleie kom uitroei om onooglike swart pokmerke in die land agter te laat. Nee vir die magtige Shell wat ’n hele seegebied vol olie gelaat het en nou die droë Karoo se water wil steel en besoedel. Nee vir die beeldpoetsers (met watter beeld!) wat met gek voorstelle en aanvalle vrye spraak probeer muilband.

Ons dring aan op ons grondwetlike reg dat die omgewing beskerm moet word en op die spraakvryheid om misbruike aan die kaak te stel.

Ons redaksielid Charl-Pierre Naudé som die algemene gevoel goed op: "Die ANC se houding teenoor die omgewing is absoluut skreiend. Soos met die waardes van demokrasie, soos met vryheid, is hier nie sprake van deel word en wees van iets, saam met ander mense nie. Die beleid is anneksering, besetting, en uitwissing vir eie gewin."

Laat ons nie deur die kabinet se moratorium op die ontginning van skaliegas gepaai word nie. Die ANC kan dit nog steeds ophef wanneer dit hulle pas en Shell deel steeds propagandapamflette uit.

Vrye Woord het nou ’n petisie geloods om nog ’n stem van weerstand te laat hoor. Dit verskyn hier onder en ook op LitNet, waar dit onderteken kan word deur almal wat hierdie saak op die hart dra. As jy enigsins iets aan hierdie saak wil doen, gaan onderteken soos hier onder aangedui.



Petisie oor omgewingsbewaring en spraakvryheid daaroor

Vrye Woord as ’n drukgroep van skrywers en ander woordwerkers verfoei die manier waarop multinasionale maatskappye soos CoAL en Shell besware van die publiek teen hulle plundertog van die omgewing vir natuurlike hulpbronne omseil. Ons eis die reg om protes aan te teken teen mynboubedrywighede wat die omgewing vernietig en bewaringsgebiede beskadig. Dit is onaanvaarbaar dat daar uitsluitlik met ANC-politici onderhandel hoef te word om mynbouregte in sensitiewe gebiede te verkry en onherstelbare skade agter te laat.

As groeperings wat hulle vir vrye spraak en inspraak beywer, vind ons dit verwerplik dat byna alle pogings van omgewingsaktiviste om hul stemme te laat hoor by die ANC-regering op dowe ore val. Selfs waar daar onwettig groot pokmerke op die aarde gelaat word, versuim die regering ooglopend om op te tree. Dit is skrikwekkend dat ons kinders bykans 10% van hulle land sal moet prysgee as al die aansoeke vir mynbou soos tans roekeloos goedgekeur word.

Ons doen ’n beroep op die regering om dadelik onwettige bedrywighede te keer en verantwoordelike, volhoubare en omgewingsensitiewe bestuur toe te pas. Dit is ons almal se reg volgens die Grondwet. Bowenal moet daar ’n volledige en demokratiese inspraak oor beplanning deur alle betrokke gemeenskappe en belangegroepe moontlik wees.

Hierdie petisie word deur al die ondertekenaars ondersteun. Ondersteunende e-posse of opinies kan gestuur word aan petisie@litnet.co.za. Meer inligting by www.litnet.co.za.



Nou die tyd vir gewone mense om in te klim en regte te eis

Elise Tempelhoff

Die beste omgewingsjoernalis in die land, van Beeld, sê haar steun aan die petisie toe en doen ’n baie nodige beroep op die publiek om deel te neem.

Baie dankie dat julle so vasberade is om die aksie te loods. Dit is só noodsaaklik. Ek was Donderdag by ’n sessie waar ek saam met lede van verskillende gemeenskappe opleiding gekry het in die toepassing van die drie wette (MPRDA – die mynbouwet, die waterwet en die wet op omgewingsbestuur) waaraan ontwikkeling en omgewingsbewaring moet voldoen. Dit is baie duidelik dat die departement van mynbou en sy minister homself as verhewe bo alle ander wette/ministeries beskou. Die myne en alle ander ontwikkelaars buit hierdie aspek natuurlik tot hul eie voordeel uit en begin plekke platstoot sonder dat hulle die nodige omgewingsgoedkeuring het. Die departemente van waterwese en omgewingsake word totaal verlam hierdeur. Daar is geweldige probleme met koördinering tussen die departemente en daar is duidelik ook ’n gebrek aan politieke wil by Waterwese en Omgewingsake.

Nóú is die kruks van die saak dat die gewone mense dié wette moet bestudeer om uit te vind wat hul regte is / watter wette oortree is. Húlle moet die departemente probeer druk om die wette behoorlik toe te pas. Die verantwoordelikheid om ons omgewing te bewaar, maar ook om volhoubare ontwikkeling te laat plaasvind, is nou geplaas op die skouers van die gewone mense – wie se lewens in baie opsigte/gevalle tot ’n algehele stilstand gekom het – want hulle moet nou wette opswot.

Hierdie regering van ons doen nie hul werk nie; hulle laat toe dat ons land vernietig word. Hulle moet gedwing word om hul werk te doen, of uitgestem word. Ons betaal hul salarisse.

Alle belangrike besluite, soos ook die bou van luukse hotelle in die Krugerwildtuin, moet aan openbare debat onderwerp word.

Dit wil voorkom asof ons met ’n outokratiese regering te make het – wat in sommige gevalle (veral wat mynbou betref) wetgewing ignoreer – dus oortree hulle hul eie wette.

Dalk is dit hier (in ons eie omgewing) waar ons demokratiese prosesse in die land aan die werk kan kry.



Shell keer nou by sy vulstasies

Jan Joubert

Rapport, 8 Mei

Die oliereus Shell het begin om pamflette by sy Suid-Afrikaanse vulstasies uit te deel nadat klante vulstasie-eienaars begin peper het met vrae oor Shell se omstrede eksplorasieplanne in die Karoo.

Elton Fortuin, Shell se woordvoerder, het gister by navraag gesê die pamflette bevat die inligting wat vulstasie-eienaars benodig om dié vrae te beantwoord. Die maatskappy wil nie hê onsekerheid oor sy eksplorasiemetode, bekend as fracking, moet lei tot ’n onwilligheid om Shell se brandstof in te gooi nie.

Fracking is die omstrede tegniek van hidrouliese breking wat Shell wil gebruik om te kyk of hy skaliegas in die Karoo kan ontgin, maar ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap staan die pogings teen, omdat dit as riskant beskou word.

Kommer by sakelui en omgewingsbewustes dat fracking die ondergrondse waterreserwes waarvan die inwoners van die Karoo vir oorlewing afhanklik is, kan besoedel, het daartoe gelei dat die kabinet verlede maand ’n moratorium op fracking geplaas het.

Die moratorium sal geld terwyl ’n paneel kundiges bepaal watter risiko fracking vir die Karoo inhou. Sommige omgewingsaktiviste meen dis verkeerd van Shell om die pamflette te versprei terwyl die moratorium geld.

Fortuin sê Shell is onseker of die moratorium wel ook op bestaande prosesse van toepassing is en het ’n vraag hieroor aan die kabinet gerig.

Intussen het Shell die omgewingsbestuursplan wat hy wil volg indien die groen lig wel vir fracking gegee word, by die tersaaklike regulerende owerheid, Petroleum SA, ingedien.

Fortuin het by navraag die versekering gegee dat Shell die morato­rium sal respekteer.

“Ons moet nou, ná die indiening van die omgewingsbestuursplan, in elk geval wag om te hoor of ons die lisensie bekom het om te eksploreer, so ons is nie tans besig met enige optrede betreffende fracking nie,” het hy gesê.


Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index