Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Die eerbare uitweg


Jacques Liebenberg - 2011-05-11

Regisseur: Richard J Lewis
Kamerawerk: Guy Dufaux
Rolverdeling: Giamatti, Rosamund Pike en Dustin Hoffman
Looptyd: 134 min



Hoe oordeel ons mense?

Aan hul dade (ook wat hulle nié doen nie)?

En indien wel, oordeel jy iemand aan sy “gemiddelde” optrede, of is een flater genoeg om ’n vriendskap of verhouding te kelder?

Die vet weet, daar’s geen formule vir vergifnis nie. Dis seker maar veronderstel om soos aanvaarding te wees: onvoorwaardelik. Maar elkeen het daardie één ding wat nie vergewe kan word nie. Vir sommige is dit wreedheid teenoor bejaardes, kelners en diere; vir ander is dit ’n soen; vir nog mense seks; vir sommige die verkeerde geloof of vriende.

Waaraan sal ons die TV-vervaardiger Barney Panofsky (Paul Giamatti) oordeel? Hy’s effe van ’n slonskous en selfsugtig, maar ook ’n lojale vriend en eggenoot en ’n goeie pa en seun. Hy drink te veel, maar hy’s ook ’n hardkoppige kêrel wat niks in sy pad laat staan wanneer hy eers ’n besluit geneem het nie.


En Barney is vreesbevange. Hy glo (om goeie rede) al lank sy vrou gaan hom vir ’n alfa-bobbejaan-vriend los en dié vrees word op die spits gedryf wanneer sy (om goeie rede) alleen by hul seun – en die bobbejaan – in New York gaan kuier. Hy drink oudergewoonte te veel, ontmoet ’n aanvallige vrou, en sy lewe val in ’n oogwink uitmekaar.

Natuurlik hoef Barney nie te bieg nie. Maar sy gewete vreet hom op. En sy vrou hoef hom nie – vir die bobbejaan – te los nie. Maar haar pa het haar ma herhaaldelik en oor jare heen verneuk en Barney se een keer is vir haar genoeg. Ondanks die feit dat sy, ironies genoeg, in geen stadium vooraf van plan was om hom te los nie.

Eisj, die lewe darem. En dis maar net een – maar wel die deurlopende – tema van die biografiese drama Barney’s Version, wat gegrond is op Mordechai Richler se gelyknamige roman. Richard J Lewis het van dié gegewe ’n priemende twee uur lange studie van menswees gemaak. En die trefkrag lê nie net in sy sterk rolverdeling met onder andere Rosamund Pike, Dustin Hoffman, Scott Speedman en Minnie Driver se oortuigende spel nie, maar in die subteks wat hy (hoofsaaklik) geslaagd verskaf.


Lewis se boodskap is duidelik: Trap versigtig wanneer jy mense teenkom; oordeel eers wanneer jy die prentjie volledig kan sien. Hy en Giamatti leer mens dié les op die harde manier. En in terugflitse. Soos dit ons siening van Barney geld, geld dit ook syne van sy beste vriend (Speedman). Dis doeltreffend, want die mensdom dwing hom mos maar moeilik om van ’n ramp weg te kyk.

Maar Barney’s Version is nie bedoel om ’n neerdrukkende affêre te wees nie. Teen die tyd dat die klippies gepak word, wens mens jy was Pike se karakter; dat jy Barney kan vashou en weer van hom ’n sielsgelukkige mens kan maak. Want sien, Barney is die vergestalting van daardie dikwels verborge eienskappe in ons elkeen wat ons desperaat hoop ’n spesiale persoon sien raak. En dis genoeg vir ’n leeftyd.