Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

Die Jesus Seminaar vier sy eerste kwarteeu: nabetragtings van ’n buitestander


Sakkie Spangenberg - 2011-05-11

Opsomming

Die Westar Instituut en die Jesus Seminaar het in 1985 deur die inisiatiewe van Robert Funk tot stand gekom. Die oogmerk met die stigting hiervan was die bevordering van godsdienstige geletterdheid in die VSA. Die burgerlike godsdiens in die VSA is oorwegend fundamentalisties en konserwatief evangelies. Die tweede golf van fundamentalisme, wat sedert 1970 oor die VSA spoel, neem mense op sleeptou en mobiliseer hulle ook polities. Fundamentalisme en imperialisme loop tans hand aan hand in die VSA. Ten einde te bepaal of die instituut en die seminaar suksesvol was, moet ’n mens na die groter sosiale en politieke konteks kyk en hul rol daarbinne bekyk. Die Jesus Seminaar se ondersoek na die historiese Jesus is allermins ’n kontekslose akademiese ondersoek. Die resultate van die ondersoek, die publikasies van Polebridge Press en die “On the road”-seminare dra by tot broodnodige gesprekke in die VSA oor die rol van godsdiens in die samelewing.

Trefwoorde: Westar Instituut, Jesus Seminaar, Jesus van Nasaret, Robert Funk, godsdienstige geletterdheid, fundamentalisme, Amerikaanse imperialisme

Abstract

The Jesus Seminar celebrates 25 years: reflections of an outsider

The Westar Institute and the Jesus Seminar were established in 1985 through the initiatives of Robert Funk. The main aim was to promote religious literacy in the USA. Civil religion in the USA is characterised by fundamentalism and conservative evangelicalism and the second wave of fundamentalism, which rose in 1970, is not only stronger than the previous one, it is also characterised by involvement in national politics. The current form of fundamentalism is going hand in hand with American imperialism. To assess whether the institute and the seminar were successful in their endeavours, one has to take account of the broader social and political context. The Jesus Seminar’s research into the historical Jesus was not merely an academic project. The results of the research, the publications of Polebridge Press and the “On the road” seminars have contributed without any doubt to discussions concerning the role of religion in society.

Keywords: Westar Institute, Jesus Seminar, Jesus of Nazareth, Robert Funk, religious literacy, fundamentalism, American imperialism

1. Inleiding

Die Westar Instituut, wat die Jesus Seminaar huisves, het in Oktober 2010 sy 25ste bestaansjaar gevier.1 Dit het tot stand gekom met die doel om godsdienstige geletterdheid in die VSA te bevorder. Wanneer mense ongeletterd is, staan hulle dikwels weerloos teenoor ideoloë, opruiers, kwaksalwers en uitbuiters. Godsdienstige ongeletterdheid lei ook maklik daartoe dat burgers staatspresidente, regeerders en politici as “God se gesalfdes” of “God se instrumente” beskou en dat laasgenoemdes hulle dan op sleeptou neem, en voorts dat die burgers hul kinders blindelings in oorloë instuur sonder om kritiese vrae te vra. Die artikel plaas en bespreek die Westar Instituut en die Jesus Seminaar binne hierdie konteks en sê ook die een en ander oor die Christelike godsdiens in die VSA.

2. ’n Aanloop tot die nabetragtings

Hierdie artikel gaan ver terug in die geskiedenis om konteks aan die Westar Instituut en die Jesus Seminaar te gee. Dit begin by die Persiese Ryk en die boek Daniël. Die rede vir hierdie lang aanloop hang saam met die VSA se ingrype in Irak en Iran se belewenis van bedreiging deur die VSA-imperium. Hierdie state is geleë in die gebied waar die Persiese Ryk vroeër geleë was. Die boek Daniël word ter sprake gebring omdat heelwat Christene meen dat hulle die verloop van die geskiedenis noukeurig daaruit kan aflei.

2.1 Die Persiese Ryk en die boek Daniël

Die Persiese Ryk onder die beheer van die Agemeniede het vir twee honderd jaar (539–333 v.C.) die ou Nabye Ooste oorheers (Widengren 1973:312–32). Die Persiese staat het in die sewende eeu v.C. op die suidoostelike grens van die Assiriese Ryk tot stand gekom. Die Perse het kort voor lank die Mediese Ryk ingepalm (550 v.C.) en daarna die Babiloniese Ryk (539 v.C.) voordat hulle hulself as heersers in die ou Nabye Ooste gevestig het. Koning Sirus (559–530 v.C.) was die eerste regeerder van die nuwe ryk en is in 539 v.C. met ope arms in die stad Babilon verwelkom. Sirus (Kores van die Ou Testament) is deur sy seun Kambuses II (530–522 v.C.) opgevolg en laasgenoemde het daarin geslaag om Egipte in te palm en dit tot die ryk toe te voeg. Hierdie verowering het die Persiese Ryk aansienlik uitgebrei. Na sy dood was daar ’n stryd om die troon, maar Darius I (522–486 v.C.) het daarin geslaag om homself as die nuwe troonopvolger te vestig. Darius I en sy opvolger Xerxes I (486–465 v.C.) het verskeie kere gepoog om ook die Griekse stadstate te verower en dus in Europa in te dring, maar hulle was onsuksesvol. Die Grieke kon die aanslae telkens afweer. Die laaste een, die Seeslag van Salamis (480 v.C.), het die Persiese vloot ’n gevoelige slag toegedien. Die Perse se dominering van die Egeïese See is sodoende verbreek. Regan (2002:9–12) reken die Seeslag van Salamis as een van die vyftig belangrikste oorloë in die afgelope 2 500 jaar.2 Vóór hierdie seeslag het die grense van die Persiese Ryk gestrek van lande wat ons vandag ken as Indië (in die ooste) tot Turkye (in die weste) en van die Kaspiese See (in die noorde) tot Egipte (in die suide).

Kort voor of tydens Darius I se bewind het hy ’n inskripsie teen ’n rotslys laat aanbring waarin hy sy roemryke dade in drie tale laat opteken het. Hierdie inskripsie staan bekend as die Bisitun-inskripsie en vanweë die feit dat dit in Oudpersies, Elamities en Babilonies weergegee is, het dit Henry Rawlinson (1810–1895) gehelp om die spykerskrif te ontsyfer.3

Na die Seeslag van Salamis het die Perse se greep op die Nabye Ooste verslap. Kort voor lank het die Grieke op die toneel verskyn en daarin geslaag om die bordjies te verhang. Philip van Masedonië het die Griekse stadstate tot ’n eenheid saamgesnoer en sy seun, Aleksander die Grote, het binne ’n dekade (333–323 v.C.) daarin geslaag om die Persiese Ryk te verower. Nou het ’n Europese mag die ou Nabye Ooste oorheers.4

Ons lees van hierdie gebeure in die boek Daniël, waar daar vertel word van ’n bokram uit die weste wat ’n skaapram uit die ooste die stryd aansê (Dan. 8:1–8). Dis ’n versluierde verwysing na die stryd tussen die Grieke en die Perse. Ten spyte van die wenk wat die skrywer van die boek Daniël lesers gee om die versluierde verwysings reg te verstaan (Dan. 8:20–1), het Christene die boek Daniël deur die eeue waninterpreteer (Koch 1980:182–213; Spangenberg 2009:65–72). Europese Christene het die apokaliptiese dele daarvan met die Romeinse Imperium en die verloop van die Europese geskiedenis in verband gebring (Koch 1997:62–125). Tans meen fundamentalistiese Christen-groepe in die VSA dat die apokaliptiese dele met die verloop van die Midde-Oosterse geskiedenis en die VSA se betrokkenheid dáár in verband gebring kan word.

2.2 Darius I en George W. Bush I

Nog ’n rede waarom ek die verhaal oor die Jesus Seminaar by die Persiese Ryk begin, is Darius I en George W. Bush I se religieuse aansprake. Darius I s’n word weergegee in die Bisitun-inskripsie.5 Enkele reëls van die inskripsie lees soos volg (Von Voigtlander 1978:54, 57):

King Darius states: Under the protection of Ahura Mazda I am king. Ahura Mazda gave me the kingship. King Darius states: These are the lands which obey me. Under the protection of Ahura Mazda I became their king. Persia, Elam, Babylonia, Assyria, Arabia, Egypt, (those) on the sea, Sardis, Iona, Media, Urartu, Cappadocia … – a total of 23 lands. (Bisitun-inskripsie, afdeling 5–6)

Then the rebels rallied for another expedition and went toward Dadarshu to attack. Then they fought a battle in the town Digra, which is in Urartu. Ahura Mazda supported me. Under the protection of Ahura Mazda my troops defeated the rebels. (Bisitun-inskripsie, afdeling 23)

Op 28 Januarie 1992, kort na die val van die muur wat Oos- en Wes-Berlyn geskei het, het president George W. Bush I die volgende in sy “State of the Union Address” gesê:

We gather tonight at a dramatic and deeply promising time in our history, and in the history of man on earth. For in the past 12 months, the world has known changes of almost biblical proportions. [...] I am not sure we have absorbed the full impact, the full import of what happened. But communism died this year. [...] But the biggest thing that has happened in the world in my life – in our lives – is this: by the grace of God, America won the Cold War.

Die ooreenkoms tussen die aansprake van Darius I en George W. Bush I is nie toevallig nie. Regeerders het hulle nog altyd op hul Gode beroep wanneer hulle militêre sukses behaal of wanneer hulle op ’n bedekte wyse hulself geprys het. Daar is egter ’n belangrike verskil tussen die twee aansprake. Darius I vermeld sy God by name, naamlik Ahura Mazda, of dan die God van Zoroastrianisme. George W. Bush I, daarenteen, praat slegs van “God”. Die naam van hierdie God word verswyg, maar die veronderstelling is dat hoorders sal weet na watter God hy verwys. Dis die Christelike God, oftewel die Drie-eenheid, wat hy vir die oorwinning dank.6

2.3 Jahweh en die Drie-eenheid

Volgens Müller-Fahrenholz (2007:143–4) moet ’n mens, in soverre dit die Christendom in die VSA betref, fyn luister en nuanses nie ignoreer nie:

When President Clinton and George W. Bush speak about God, they refer to the God of the Bible. But that does not make the question of God’s character for Americans any easier for an observer to discern. The “God” in whose authority President Bush went to war against Iraq did not seem to be the same “God” in whose name many Christians opposed this adventure.

Müller-Fahrenholz is korrek wanneer hy hierdie onderskeid tref, maar hy moes hierop uitgebrei het. Die God na wie die drie VSA-presidente Bush I, Clinton en Bush II verwys, is die Drie-eenheid, en hy is nie die God van die Bybel nie, maar die God van die Christelike belydenisse soos dit in die vierde en vyfde eeue beslag gekry het. Dis die God van die Romeinse Imperium onder heerskappy van keiser Konstantyn en sy opvolgers. Hierdie God het wel trekke van die God van Israel bevat, maar duidelik ook trekke van die Gode van die Grieke en Romeine. Die Christelike godsdiens soos dit in die vierde en vyfde eeu beslag gekry het, is grootliks sinkretisties. Minstens twee Romeinse keisers het ’n rol gespeel in die vormgewing aan hierdie godsdiens en die daarstelling van ’n ondersteunende teologie. Keiser Konstantyn die Grote (275–337 n.C.) het die Christelike godsdiens tot ’n legitieme godsdiens van die Romeinse Imperium verklaar en die konsilie van Nisea byeengeroep. Die doel van hierdie konsilie was om eenheid onder die verskillende Christelike groepe te bewerkstellig en die verskille eens en vir altyd te besweer (Roldanus 2006:26–44; Dünzl 2007:49–59). Die eenheid van die Christelike godsdiens moes die eenheid van die imperium ondersteun.7 Tydens die konsilie is hoofsaaklik aan die goddelikheid van Jesus Christus aandag gegee.8 Keiser Teodosius die Grote (346–395) het later hierop voortgebou (Roldanus 2006:114–6). Hy het die Christelike godsdiens tot staatsgodsdiens verhef en die leer van die Drie-eenheid op sy onderdane afgedwing (Berkhof en De Jong 1967:57–8). Voorts het hy self ook ’n kerklike konsilie byeengeroep wat rigting in die teologiese ontwikkelinge moes gee. Dit was die konsilie van Konstantinopel (381) wat eers later as ’n ekumeniese konsilie erken is. Onder sy bewind het Christene die Joodse profeet Jesus van Nasaret sy godsdiens en sy boodskap finaal die rug gekeer. Maar op ’n vreemde wyse sou sy boodskap telkens weer in krisistye opklink. In sulke tye het sommige Christene weer ’n oor ontwikkel vir die boodskap van die Joodse profeet Jesus van Nasaret, en het hulle die keiserlike Jesus Christus op die agtergrond geskuif.

Die God na wie die Bybelskrywers verwys en die God wat Jesus van Nasaret aanbid het, is Jahweh, maar Hy en die Drie-eenheid is nie dieselfde karakter nie. Daar lê ’n paar eeue se teologiese ontwikkeling tussen die twee (Vermes 1993:208–15). Anders as Müller-Fahrenholz is ek van mening dat die verskille wat in Christelike geledere in die VSA na vore tree, saamhang met die feit dat sommige Christene die Drie-eenheid en die keiserlike Jesus Christus voorstoot, terwyl ander weer teruggryp na die boodskap wat die profeet Jesus van Nasaret verkondig het en sý verstaan van God. Hierdie verskille het ook tydens die apartheidsjare in die RSA na vore getree. Vergelyk in hierdie verband die Kairos-dokument, wat op 13 September 1985 gepubliseer is. Daarin word ’n onderskeid getref tussen “die teologie van die staat” en “profetiese teologie” (Het uur van de waarheid 1986). Die “teologie van die staat” gryp terug na die godsdiens van die Romeinse Imperium terwyl die “profetiese teologie” teruggryp na die boodskap van Jesus van Nasaret.

Müller-Fahrenholz moes ook die ontwikkeling wat die godsdiens van Israel en die Christelike godsdiens deur die eeue ondergaan het, in sy bespreking verreken het. Die Israelitiese godsdiens het vanuit ’n politeïsme in ’n monoteïsme ontwikkel (Smith 2004:124–58). Uit hierdie monoteïsme het die vroeë Christelike godsdiens en vroeë Rabbynse Judaïsme ontwikkel, maar die Christelike godsdiens in sy vierde-eeuse gewaad is, ten spyte van die redenasies van Christelike teoloë, nie ’n suiwer voortsetting van die godsdiens van Israel nie. Dit is ook nie ’n suiwer monoteïsme nie. Dit is ’n monoteïsme met duidelike trekke van politeïsme. Die Drie-eenheid kan slegs met breingimnastiek as ’n eenheid voorgehou word. Dis waarom Jode nie daarmee vrede kan maak nie: “The deity of Jesus is [...] inherently unJewish” (Casey 1991:176). Dis ook die rede waarom Moslems dit nie kan aanvaar nie: “From the perspective of Islam the Christian doctrine of the Trinity is thus a dangerous error which leads away from monotheism” (Dünzl 2007:2). Dis nie meer vreemd om Christen-teoloë ’n pleidooi te hoor lewer dat Christene na ’n suiwer monoteïsme moet terugkeer nie:

Laten we eenvoudig van de eenheid van God uitgaan (zoals alle hoger ontwikkelde religies dat doen), waarbij we wel geloven dat God zich in de mens Jezus op een bijzondere wijze heeft geopenbaard (zoals Hij zich ook in andere mensen en in andere godsdiensten heeft geopenbaard). Voor dat standpunt is op exegetisch en op historische gronden veel te zeggen. De triniteit wordt immers in de Schrift nergens geleerd of verondersteld. (Dingemans 2001:139)

Christene wat die imperiale magte in ons samelewings wil teenstaan, kan dit moeilik doen deur hulle te beroep op die keiserlike Jesus Christus soos hy in die ekumeniese belydenisse en die gereformeerde belydenisskrifte voorgehou word. Hy staan immers meer aan die kant van die heersers as aan die kant van die onderdruktes en weerloses soos wat Jahweh in verskeie Ou-Testamentiese tekste uitgebeeld word.
 
2.4 Diversiteit

In die eeu waarin ons leef, is dit dwaas van staatspresidente en politici om hulle op God as opdraggewer te beroep en te verkondig dat Hý militêre oorwinnings gee. Sulke ondeurdagte uitsprake en aansprake jaag ander mense met ander godsdienstige oortuigings dikwels die harnas in, want dit wek die indruk van: “Mý God is beter as jou God; mý God laat my oorwin, terwyl jou God jou in die stof laat byt!” Geen mens aanvaar vernedering met ’n glimlag nie en godsdienstige vernedering laat mense dikwels irrasioneel optree.

Maar dis nie al nie. Ons leef in ’n globale wêreld waar die diversiteit van tale, kulture en godsdienste erken moet word en waar mense sensitiwiteit en respek vir ander moet ontwikkel. Alle godsdienstige groepe sal hul aansprake dat slegs húlle die waarheid besit en verkondig, moet hersien. Wat dit betref, kan ’n mens nie anders as om die volgende sinne van Wiggins (1996:34) te beaam nie:

All religious traditions, but perhaps none more so than Christianity, are at a crossroad that may determine their futures, depending upon choices that are made. If its most conservative voices prevail, Christianity may increase in size and thereby self-righteously continue to proclaim its superiority over other religions. In that case, its numeric gain may be costly. Instead of being a force preventing a nuclear holocaust, for example, or depletion of environmental resources, Christianity will likely be complicit in hastening the end of this fragile ecosphere.

3. Die konteks van die Jesus Seminaar

Die Westar Instituut en die Jesus Seminaar het op ’n bepaalde plek op aarde en binne ’n spesifieke konteks hul oorsprong. Dis die na-oorlogse VSA waar fundamentalisme sedert die sewentigerjare herleef het en waar konserwatiewe Christen-groepe hul gewig ingooi agter die beleid en handelinge van die Amerikaanse Imperium. Dis ’n konteks waar staatspresidente en ander politieke leiers godsdienstige retoriek gebruik en burgers sodoende op sleeptou neem. Dis ’n konteks waar legitieme Christelike verset teen die imperium maar eers onlangs duidelik verwoord word.
 
3.1 Fundamentalisme

Fundamentalisme het met die eeuwending (van die 19de na die 20ste eeu) in die VSA kop uitgesteek. Daar was groepe Christene wat hulle verset het teen die paradigmaverandering in die Bybelwetenskappe en die teologie, asook teen veranderinge in die omringende kultuur (Spangenberg 2002:100–7; Marsden 2006:240).9 Hulle het veral klem gelê op die onfeilbaarheid van die Bybel en daarom die kritiese bestudering daarvan veroordeel. Verder het hulle Jesus se maagdelike verwekking en geboorte, sy plaasvervangende sterwe aan die kruis, sy fisiese opstanding, hemelvaart en wederkoms beklemtoon (Barr 1977:1–39). Christene wat nie húl sienings aanvaar het nie, is nie as ware Christene beskou nie. Hierdie soort fundamentalisme het aanvanklik nie groot aanhang geniet nie. Voorts het diegene met fundamentalistiese sienings hulle nie met die heersende politiek bemoei nie. Dit het vir hulle daarom gegaan om siele te wen en om hulself voor te berei op die wederkoms en die hemel. Die hemel en hoe om daar te kom was die primêre fokus, en daarmee saam “siele vir die Lam”.

Sedert die sewentigerjare van die vorige eeu het daar egter ’n verandering in die VSA ingetree. Mense binne hierdie dampkring het ekonomies vermoënd geraak en hul geld begin gebruik om hul fundamentalistiese sienings te propageer. Verder het hulle by die politiek betrokke geraak en ook daar hul gewig begin rondgooi. Marsden (2006:232) som dit só op: “The most striking feature of fundamentalism since the 1970s that distinguishes it from its forebears is its deep involvement in mainstream national politics.” Daar word deesdae in die VSA na die “Religious Right” verwys, en dit sluit nie net harde fundamentaliste in nie, maar ook “conservative evangelicals”, wat deesdae in veral die Republikeinse Party ’n rol speel.
 
Een van die boeke wat hierdie tweede golf van fundamentalisme ingelui het, was The late great planet earth van Lindsey (1970).10 Hy het die gebeure wat voor Jesus se wederkoms op aarde gaan afspeel, met allerlei rare interpretasies uit die boeke Daniël en Openbaring afgelei en gemotiveer. Volgens hom was een van die belangrikste gebeure die afgelope tyd die totstandkoming van die staat Israel in 1948. Lindsey was vas oortuig dat Jesus binne ’n kwessie van veertig jaar ná die stigting van die staat Israel sou terugkeer. Hierdie idees het hy bekom uit sy interpretasie van Jesus se verwysing na die vyeboom:

Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit. (Matt. 24:32–5)

Die vyeboom wat begin blare stoot, is volgens Lindsey die totstandkoming van die staat Israel in 1948. Die menslike geslag wat alles gaan beleef, is diegene wat tydens hierdie gebeure leef. Die Bybel hou ’n geslag as veertig jaar voor en daarom het Lindsey gereken dat die wederkoms rondom 1988 sou plaasvind. Die antichristelike magte wat in die vlakte van Meggido sal veg en die onderspit sal delf, is kommunistiese Rusland en sy ondersteuners. Maar 1988 het gekom en gegaan en niks van sy voorspellings is bewaarheid nie. Verder het die USSR verbrokkel en is kommunisme nie meer ’n bedreiging nie. Maar soos in die verlede het daar net nuwe voorspellers die toneel betree. Tans is dit Tim Lahaye en Jerry Jenkins wat met hul reeks Left behind-boeke die toekoms beskryf en allerlei verhale oor ’n sogenaamde wegraping, ’n tyd van verdrukking en ’n uiteindelike vredestyd vertel (Gold 2006:34–49; Müller-Fahrenholz 2007:23–5).11 Vreemd genoeg is dit nie die Midde-Oosterse lande met hul oorwegende Moslem-bevolkings wat volgens hierdie skrywers die antichris huisves nie. Die antichris is steeds iemand wat uit die ou kommunistiese Oosblok-lande kom. Hy word dan hoof van die Verenigde Nasies (VN) en streef na wêreldoorheersing. Oor hierdie aspek lewer Gold (2006:44) soos volg kommentaar: “Clearly Lahaye and Jenkins reflect the scepticism, mistrust and the ill-feelings that many Americans have towards the UN.”

3.2 Amerikaanse imperialisme

Apokaliptiese eindtydverwagtings waarin die VSA aan die kant van die goeie magte sal veg en sorg dat die antichristelike magte die onderspit delf, is kenmerkend van voetsoolvlak Christelike oortuigings in veral Protestantse kringe in die VSA. Hulle verdeel die wêreld simplisties in twee kampe: die goeies en die slegtes, en die VSA en sy burgers staan aan die kant van die goeies. Die vraag wat verskeie VSA-burgers ná die aanval op die toringgeboue in New York gevra het, naamlik “Waarom haat die mense ons – ons is immers goed?” weerspieël die naïwiteit waarmee hulle na hulself en hul regering kyk (Chomsky 2003:83–7). Hulle kan eenvoudig nie insien dat wat hul regering doen en al in die verlede aan ander gedoen het, as boos geklassifiseer kan word nie. Griffin (2006) vermeld in sy bydrae in The American empire and the commonwealth of God van hierdie wandade wat die VSA al in die verlede gepleeg het.

Griffin en sy kollegas is nie die enigstes wat daarop wys dat die VSA al geruime tyd besig is om soos ’n imperium op te tree nie. Daar is verskeie geleerdes wat hierop wys. Onder hulle tel Horsley (2003), Vidal (2004) en Chomsky (2006). Hulle wys daarop dat verskeie staatspresidente die waardes en ideale van die grondleggers van die VSA versaak het. Sommige mense argumenteer dat die VSA ná die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) onwillekeurig in hierdie rol ingedwing is. Die VSA het volgens hulle nog altyd ’n republikeinse ideaal nagestreef, maar met die opkoms van kommunisme ná die Tweede Wêreldoorlog moes die VSA as die bewaker van vryheid, demokrasie en die vryemarkekonomie optree (Bacevich 2002:7–9). Ander geleerdes wys op hul beurt daarop dat die geskiedenis van die VSA die teendeel weerspieël. Ná die onafhanklikheidsoorloë waardeur die oostelike state hul vryheid met bloed gekoop het en tot ’n eenheid saamgesnoer is, het hulle die westelike dele van Noord-Amerika binnegeval en die inheemse bevolking se grond ingepalm. Daarna was daar byna geen keer aan hul uitbreidingsdrang en hul begeerte om ander lande klone van die VSA te maak nie (Horsley 2003:137–40).

Die VSA se inval in Irak onder die voorwendsel dat dit gedoen word omdat die Irakkese regering wapens van massavernietiging besit en kop in een mus is met die mense wat vir die aanval op toringgeboue in New York verantwoordelik was, het vele mense se oë laat oopgaan om te besef dat die VSA inderdaad ’n imperium is. Volgens Griffin (2006:5) het Bacevich se American empire (2002) hiertoe bygedra.12 Die besef het gedaag dat die VSA Irak binnegeval het om beheer te verkry oor die onontginde olievelde. Een van die boeke wat dit die duidelikste uitspel, is The new American imperialism (Fouskas en Gökay 2005). Die VSA se eie oliereserwes is besig om uitgeput te raak en hulle moet so gou moontlik beheer verkry oor die land wat die tweede grootste hoeveelheid oliereserwes besit (Chomsky 2006:37–8; Heinberg 2006:12–23; Ford 2009:3–5). Konserwatiewe Christene ondersteun hierdie optrede, omdat hulle die VSA as ’n instrument in die hande van die Drie-eenheid sien en die oortuiging deel dat die antichris hier is en die wederkoms op hande, en voorts dat die Irakkese oorlog slegs maar deel van die eindtydgebeure is.13

Hiermee saam deel hulle ook die oortuiging dat die VSA die staat Israel moet beskerm teen die bose magte wat sy ondergang wil bewerkstellig en die Jode wil uitroei. Die Jode gaan immers in massas tot bekering kom net voor die wederkoms. Hulle gaan Jesus as die beloofde Messias aanvaar en hulle tot die Drie-eenheid bekeer. Maar vóór dit gebeur, moet die tempel in Jerusalem herbou word. Die bedenklike rol wat die VSA speel in die sogenaamde vredesonderhandelinge tussen Israel en die Palestyne, en sy onbeskroomde partydigheid, word egter totaal misgekyk. Chomsky (2003:31–5; 2006:171–204) lewer hierop verdoemende kritiek (vgl. ook Falk 2006:51–3).

4. Die oogmerk van die Westar Instituut en die Jesus Seminaar

4.1 Bevordering van religieuse geletterdheid

Wanneer ’n mens oor die Westar Instituut en die Jesus Seminaar besin, moet dit in die bovermelde konteks geplaas en teen hierdie agtergrond verstaan word. Die opbloei van fundamentalisme in die VSA kon eenvoudig nie gelate aanvaar word nie. Die beste manier om Christelike fundamentalisme teen te gaan, is om mense van kennis oor die Bybel, Jesus van Nasaret en die oorsprong van die Christelike godsdiens te voorsien. Barr (1984:174) maak hieroor die volgende opmerking:

Generally speaking, people do not become fundamentalists if they are already well informed about scripture and theology. I do not mean that fundamentalists are necessarily ill-informed; some of them are very well informed. But people who are well informed do not then become fundamentalists. Characteristically people become fundamentalists before they know much about scripture or about doctrine.

Kinders en jongmense moet so vroeg moontlik met nuwere kennis oor die Bybel, Jesus van Nasaret en die Christelike godsdiens in aanraking kom, dit wil sê voor hulle deur fundamentaliste op sleeptou geneem word. Dit was die uitgesproke mening van Robert Funk (1926–2005), wat as die vader van die Westar Instituut en die Jesus Seminaar beskou word. Hy het beklemtoon dat Bybelwetenskaplikes uit hul studeerkamers en biblioteke moet kom en die markplein moet betree. Hulle het ’n duur plig om kennis te deel. Die instituut het hieraan uitdrukking gegee deur ’n tydskrif met die titel The Fourth R te publiseer. Die titel sinspeel op die drie R’e wat ’n belangrike rol behoort te speel in kinderonderrig en -opvoeding, nl. “reading, ’riting and ’rithmetic”. Kinders moet leer lees, skryf en somme maak om hulle vir die volwasse lewe voor te berei. Maar “religion” (godsdiens) is ewe belangrik en kinders behoort van kleins af met die nuwere kennis rondom die Bybel, Jesus van Nasaret en die Christelike godsdiens in aanraking te kom. Hulle moet weet dat daar ander sienings en oortuigings naas die ortodokse sienings en fundamentalistiese oortuigings bestaan.

Funk het die oogmerke van die instituut en die seminaar in sy boek Honest to Jesus  (1997:1–14) uitgespel. Die titel van die boek sinspeel op die titel van Robinson se boek Honest to God (1963), wat in die sestigerjare van die vorige eeu ’n gefladder in Brittanje veroorsaak het (Wilson 2008:116–24). Robinson het geargumenteer dat Christene nie meer op die tradisionele wyse oor God kan dink en praat nie. Funk het op sy beurt geargumenteer dat Christene nie meer op die tradisionele wyse oor Jesus kan dink en praat nie. Die kennis waaroor ons tans beskik, laat ons eenvoudig nie meer toe om só oor Hom te praat nie. Die boek sluit af met 21 stellings wat hy gepubliseer het om gesprek te stimuleer (Funk 1997:297–314). Met sy boek en stellings het hy self uitdrukking gegee aan die oogmerk om die publiek ingelig te hou.14

Marcus J. Borg (een van die lede van die Jesus Seminaar) het twee jaar tevore ook ’n boek oor die historiese Jesus gepubliseer (1995). Dit dra die beskrywende titel Meeting Jesus again for the first time: The historical Jesus and the heart of contemporary faith. Hiervan is meer as 270 000 kopieë in ’n dekade verkoop (Dorrien 2006:527), ’n bewys dat mense ontvanklik is vir die nuwere kennis en insigte. Konserwatiewe Christene het die seminaar egter as van die bose beskou en sommige teoloë het die tradisionele geloofstandpunte met mag en mening verdedig.15

Die Jesus Seminaar het grootliks by die liberale tradisie van die Christelike godsdiens aansluiting en byval gevind, maar sommige Amerikaanse kerkhistorici ag dit nie eens ’n inskrywing werd in hul historiese oorsigte nie. Vergelyk in hierdie verband Allitt (2003), wat nóg Funk, nóg Borg, nóg die Jesus Seminaar vermeld. Die enigste lid van die aanvanklike stigterslede van die seminaar na wie verwys word, is John Shelby Spong, maar hy word net vermeld vanweë sy standpunt oor mense met ’n homoseksuele oriëntasie en sy bevestiging van ’n “gay” assistentbiskop in die Episkopaalse kerk (Allitt 2003:237).16

4.2 Aksies om die oogmerk te bereik

4.2.1 Navorsing oor die historiese Jesus

Die Jesus Seminaar het afgeskop deur op Jesus se woorde te fokus. Verskeie Nuwe-Testamentici wat lede van die seminaar geword het, het twee keer per jaar vergader. Tydens hierdie byeenkomste het van hulle lesings oor aspekte van die probleem gelewer en ook dele van die evangelies intensief ondersoek. Daarna het hulle die betrokke teksgedeelte deeglik bespreek voordat hulle tot stemming oorgegaan het om te besluit of spesifieke woorde wél deur Jesus uitgespreek kon gewees het. Die stemprosedure wat hulle gevolg het, het veral kritiek ontlok.17 Die teenwoordiges het deur middel van rooi, pienk, grys en swart krale hul stemme uitgebring.18 Die resultate van hierdie navorsing en stemming het uitgeloop op ’n publikasie met die titel The five gospels: The search for the authentic words of Jesus (Funk, Hoover en Jesus Seminar 1993). In dié publikasie is Jesus se woorde in rooi letters weergegee. Die woorde wat Hy moontlik kon geuiter het, is in pienk gedruk. Dít waaroor twyfel bestaan, is in grys gedruk en dít wat nie aan Hom toegeskryf kan word nie, staan in swart. Die Tomas-evangelie is by hierdie navorsing ingesluit — vandaar die titel The five gospels. Ook hieroor is daar kritiek uitgespreek, want nie alle Nuwe-Testamentici ag die Tomas-evangelie as ’n vroeë evangelie wat op gelyke voet staan met die vier kanonieke evangelies nie (Wright 1999; Casey 2010:533–4).

Die besluit om Jesus se woorde in rooi te druk, het as voorloper die sogenaamde rooiletter-Bybels – Bybels waarin ál Jesus se woorde in die vier evangelies in rooi gedruk staan. Met hul navorsing en stemming wou die Jesus Seminaar se geleerdes uitwys dat hierdie soort praktyk nie op goeie navorsing berus nie; dis eintlik misleidend, want die verskillende evangelieskrywers het ook dialoë en uitsprake vir Jesus geskep. Bybellesers moet ’n onderskeid tref tussen die Jesus-karakter van die Markus-evangelie, die Matteus-evangelie, die Lukas-evangelie en die Johannes-evangelie. In die woorde van Carroll (1991:28, sy beklemtoning): “A wise reader of the Gospels will cautiously talk about ‘the Jesus of Mark’, or ‘the Jesus of the Fourth Gospel’, without making the mistake of thinking or implying that the historical Jesus actually did or said such things.”19

Na die voltooiing van die navorsingsprojek oor Jesus se eiendomlike woorde het die lede van die Jesus Seminaar op Jesus se dade gefokus. Hulle het dieselfde werkwyse as met die vorige navorsingsprojek gevolg en uiteindelik ’n boek gepubliseer waarin rooi, pienk, grys en swart letters gebruik is om die grade van waarskynlikheid aan te dui. Hierdie boek dra die titel The acts of Jesus: The search for the authentic deeds of Jesus (Funk en Jesus Seminar 1998).

Ná hierdie twee boeke het van die mees prominente seminaarlede ’n derde boek gepubliseer met die titel Profiles of Jesus (Hoover 2002). Hierin het hulle hul perspektiewe op Jesus van Nasaret, gegrond op die navorsing wat oor meer as ’n dekade gedoen is, weergegee. Sodoende het hulle aan lesers en belangstellendes gewys dat daar ook onder die lede verskillende perspektiewe op Jesus bestaan. Wat egter vasstaan, is dat Jesus ’n doodgewone mens was wat soos alle mense gebore is deurdat ’n manlike spermsel ’n vroulike eiersel bevrug het. Jesus het nie ’n bestaan voor sy aardse bestaan gehad nie. Hy het ook nie vanuit die hemel na die aarde gedaal en via ’n vrou ’n menslike liggaam aangeneem nie. Jesus was ’n Joodse man wat soos sy tydgenote onder die juk van die Romeinse Imperium geleef het. Hy het nie aan die kruis gesterf om die weerligwoede van God te besweer nie, maar omdat hy hom nie met die heersende orde in Palestina kon vereenselwig nie. Om sy boodskap en optrede te verstaan, moet ’n mens hierdie konteks deeglik in ag neem.

In hierdie opstelle het hulle ook op beskuldigings en wanvoorstellings gereageer. Een reaksie verdien om aangehaal te word. In sy opstel oor die Johannes-evangelie en die historiese Jesus skryf Fortna (2002:230) die volgende:

Finally it needs to be said that the result of the Seminar’s work is to throw out nothing; we are not in the business of “debunking” the gospels, as many have said. On the contrary, we debunk the kind of simplistic, literal reading of the gospels that leads to fundamentalist and rigid interpretation, and is dangerous in the modern world. (Take, for example, the malevolent and reactionary politics of some fundamentalists, or their savagely homophobic stance.)

4.2.2 Publikasies om die publiek ingelig te hou

Funk het ’n groot rol gespeel in die totstandbrenging van ’n uitgewery wat die materiaal van die seminaar sou kon publiseer en versprei. Die uitgewery het die naam Polebridge Press gekry en alhoewel dit nie die twee boeke oor Jesus se woorde en dade gepubliseer het nie, berus die kopiereg daarvan by hierdie uitgewery. Polebridge het wel die derde boek wat hier bo vermeld is, gepubliseer. Verder publiseer dit die gidse van die seminaar, boeke van seminaarlede, asook DVD’s.20 Dit publiseer ook boeke van nie-Amerikaanse Bybel- en godsdienswetenskaplikes en teoloë wie se oortuigings met dié van die seminaar rym. Die uitgewery het al verskeie boeke van Don Cupitt, Lloyd Geering, Gerd Lüdemann en Nigel Leaves gepubliseer.21 Hierdie vier se oortuigings resoneer met die oortuigings van die seminaarlede. Hulle het afskeid geneem van die Augustiniaanse paradigma van die teologie wat as die “sondeval-verlossing-eindoordeel”-paradigma getipeer word (Kennedy 2006:ix). Hulle beskou nie die Christelike godsdiens as die enigste ware godsdiens en Jesus as ’n goddelike persoon nie. Hulle ontwikkel ’n nuwe paradigma – een wat erns maak met die stand van ons kennis; wat mense nie beskou as die kroon van die skepping en beeld van God nie, maar as deel van alle lewende dinge op aarde en weinig meer as die primate. Hulle keer hul rug op imperialisme en is begaan oor die ekologiese krisis. Hulle maak erns met die boodskap van Jesus van Nasaret en dink nuut en anders oor God.22

Afgesien van die boeke en DVD’s wat Polebridge publiseer, publiseer die Westar Instituut die tydskrif The Fourth R. Dit verskyn elke tweede maand en staan tans onder die redakteurskap van Robert Miller. Hierdie tydskrif dra ook by tot die bevordering van godsdienstige geletterdheid en bevat soms artikels waarin snydende kritiek op die beleid en optrede van die VSA-regering gelewer word. Een so ’n artikel is Ford s’n (2009). Hy gebruik die gelykenis van die arbeiders in die wingerd (Matt. 20:1–15) om kritiek te lewer op die sogenaamde goeie bedoelings wat die VSA nagestreef het met sy ingrype in Irak. In die gelykenis maak een van die arbeiders beswaar teen die eienaar se onbillike uitbetaling van die daglone. Diegene wat ’n volle dag gewerk het, ontvang dieselfde bedrag as diegene wat slegs ’n paar uur gewerk het. Die gelykenis wek die indruk dat die eienaar buitengewoon goed gehandel het, maar Ford (2009:4) wys daarop dat die teendeel waar is. Hy het nie goed gehandel soos hy te kenne gee nie, maar het mense steeds uitgebuit. Dagloners in daardie samelewing was uiters weerloos en diegene wat ’n volle dag gewerk het, moes in alle billikheid meer betaal gewees het as diegene wat later ingeval het. Net soos die eienaar se verweer dat hy “goed is”, nie waar is nie, is die VSA se verweer dat hulle goed is, nie waar nie. Ford (2009:22) skryf dan: “We thereby go on believing that we are good – and if the Iraqi people oppose us, they must be evil. Along with the vineyard owner, we too have the arrogance to say, ‘Is your eye evil because we are good?’”
 
4.2.3 Jaarlikse seminare dwarsoor die VSA

Die Jesus Seminaar bied sedert 1995 dwarsoor die VSA tussen 20 en 25 seminare per jaar aan. Hierdie “Jesus Seminar on the Road” (JSOR) het toevallig begin toe ’n predikant Funk versoek het om by haar gemeente te kom optree en hy vir Roy Hoover genooi het om hom te vergesel (Hoover 2010:27). Tydens hierdie seminare lewer van die lede en ander teoloë lesings vir kerklidmate en ander belangstellende lede van die publiek. Dit vind klaarblyklik groot byval. Ook op hierdie manier word religieuse geletterheid dus bevorder. Wat interessant kan wees, is dat vroulike teoloë hulle gewig agter die JSOR ingooi en daaraan deelneem, al verskil hulle van die seminaarlede se werkwyse. Elisabeth Schüssler Fiorenza en Anne Primavesi tel onder hierdie groep vroulike teoloë.

5. Was die aksies geslaagd en wat lê voor?

Vra ’n mens jou af of die Jesus Seminaar suksesvol was en of hulle werklik oor die afgelope 25 jaar godsdienstige geletterdheid in die VSA bevorder het, is ’n ja-antwoord gepas. Die dagbladpers het die seminaar, hul werkwyse en die resultate van hul navorsing aanvanklik goed bekendgestel. Mense het kennis geneem en daar was veral in konserwatiewe kerklike kringe hewige gesprekke en debat oor hul werkwyse en die resultate van hul navorsing. Die woorde “Jesus Seminaar” vervul steeds konserwatiewe kerklidmate met wrewel – selfs hier in Suid-Afrika (vgl. Verhoef 2005:23–35). Een van die redes is die feit dat die Nuwe-Testamentici wat by die Jesus Seminaar betrokke is, op grond van hul vertolking van die tekste in die sinoptiese evangelies aanvaar dat Jesus nie homself as bestaande uit twee nature beskou het nie. Voorts dat hy (as Joodse profeet) die idee van ’n Drie-eenheid totaal vreemd sou vind.23

Wanneer ’n mens na die indrukwekkende lys boeke kyk wat Polebridge Press die afgelope 25 jaar gepubliseer het, asook na die studiegidse en DVD’s, kan ’n mens nie anders as om onder die indruk te kom van goeie beplanning nie. Hierdie materiaal help om die inligting te dissemineer. ’n Mens moet egter nie onder die waan verkeer dat dit fundamentalisme in die VSA stuit nie. Die gewildheid van die Left behind-boeke reflekteer hoe moeilik dit is om kerklidmate tot ander insigte te bring. Die seminare wat landwyd in kerke aangebied word, dien wel as ’n goeie teenvoeter vir fundamentalisme en die letterlike interpretasie van byna alle Bybeltekste.

Tydens die 25-jarige feesvieringe in Oktober 2010 is daar aangekondig dat die seminaarlede hulle die volgende paar jaar met die vraagstuk van God gaan besig hou. Daar word reeds van “The God Seminar” gepraat en Thomas Sheehan het tydens die feesvieringe ’n lesing met die titel “What is (are) the God question(s)?” gelewer. Dit het ’n voorsmaak gegee van wat onder die vergrootglas gaan kom. Nadat die seminaar intensief oor Jesus se woorde en dade navorsing gedoen en gesprek gevoer het, is die logiese stap seker om nou oor God te praat. Wanneer Jesus van Nasaret nie meer as “waarlik God en waarlik mens” beskou word nie, bring dit die tradisionele Christelike verstaan van God in die gedrang en moet daar nuut besin word oor God en spesifiek die Drie-eenheid. Die seminaarlede gaan hier gewis moeilike vaarwaters binne, want anders as met hul vorige handelings sal hulle nie maar deur middel van stemmings uitsprake oor God kan maak nie. Kennedy (2006:255) sê tereg: “Humans have no sure way of demonstrating that anything they ever say of God represents God in the least.” Dis een ding om stellige uitsprake oor Jesus se woorde en dade te maak, maar dis ’n perd van ’n ander kleur om stellige uitsprake oor God te kan maak.

Wat kritiek op die Amerikaanse imperialisme betref, is die klanke uit die Westar Instituut en die Jesus Seminaar nog gedemp, maar daar is lede en medewerkers wat hulle nie laat stuit om kritiek uit te spreek nie. Taylor (2005:163) se oordeel, “In the United States, [...], counterimperial Christian groups are few and far between. May they one day grow stronger”, kan slegs beaam word. Mag die hoop dus nie beskaam nie dat daar uit die geledere van die Jesus Seminaar duideliker kritiek op die VSA-imperium en sy handelinge na vore sal kom. Mag hul besinnings oor die Christelike verstaan van God en die God wat Jesus van Nasaret verkondig het, ’n bydrae lewer daartoe.

Bibliografie

Allitt, P. 2003. Religion in America since 1945: A history. Columbia histories of modern American life. New York: Columbia University Press.

Arweck, E. en P. Collins (reds.). 2006. Reading religion in text and context: Reflections of faith and practice in religious materials. Hampshire: Ashgate.

Barr, J. 1977. Fundamentalism. Londen: SCM.

—. 1984. Escaping from fundamentalism. Londen: SCM.

Bacevich, A.J. 2002. American empire: The realities and consequences of U.S. diplomacy. Cambridge: Harvard University Press.
 
Berkhof, H. en O.J. de Jong. 1967. Geschiedenis der kerk. Nijkerk: Callenbach.

Borg, M.J. 1995. Meeting Jesus again for the first time: The historical Jesus and the heart of contemporary faith. New York: HarperCollins.

Botha, J. 1990. Kom ons stem: Wat het Jesus regtig gesê? Hervormde Teologiese Studies, 46(1 en 2):15–35.

Botha, P.J.J. 2006a. Konstantyn as draaipunt in die geskiedenis van die Christendom (deel 1). http://www.nuwe-hervorming.org.za/wiki/konstantyn-draaipunt-geskiedenis-christendom-deel-1 (25 November 2010 geraadpleeg).

—. 2006b. Konstantyn as draaipunt in die geskiedenis van die Christendom (deel 2). http://www.nuwe-hervorming.org.za/wiki/konstantyn-draaipunt-geskiedenis-christendom-deel-2 (25 November 2010 geraadpleeg).

Carroll, R.P. 1991. Wolf in the sheepfold: The Bible as a problem for Christianity. Londen: SPCK.

—. 1997. Wolf in the sheepfold: The Bible as problematic for theology. Londen: SCM.

Casey, P.M. 1991. From Jewish prophet to gentile God: The origins and development of New Testament Christology. Cambridge: James Clarke.

—. 2010. Jesus of Nazareth: An independent historian’s account of his life and teaching. Londen: T & T Clark.

Chilton, B. en C.A. Evans (reds.). 1999. Authenticating the activities of Jesus. Leiden: Brill.

Chomsky, N. 2003. Power and terror: Post-9/11 talks and interviews. Houghton: Jacana.

—. 2006. Failed states: The abuse of power and the assault on democracy. Londen: Hamish Hamilton.

Crossan, J.D. 1992. In parables: The challenge of the historical Jesus. Santa Rosa: Polebridge.

Cupitt, D. 2001. Reforming Christianity. Santa Rosa: Polebridge.

—. 2003. Life, life. Santa Rosa: Polebridge.

—. 2008. Above us only sky: The religion of ordinary life. Santa Rosa: Polebridge.

Dewey, A.J., R.W. Hoover, L.C. McGaughy en D.D. Schmidt. 2010. The authentic letters of Paul: A new reading of Paul’s rhetoric and meaning. Salem: Polebridge.

Dingemans, G.D.J. 2001. De stem van de Roepende: Pneumatheologie. Kampen: Kok.

Dorrien, G. 2006. The making of American liberal theology: Crisis, irony and postmodernity, 1950–2005. Louisville: Westminster John Knox.

Dünzl, F. 2007. A brief history of the doctrine of the Trinity in the early church. Londen: T & T Clark.

Falk, R. 2006. Slouching toward a fascist world order. In Griffin e.a. 2006.

Ford, R.Q. 2009. Jesus’ parable of the vineyard workers and US policy in Iraqi oil. The Fourth R, 22(4):3–6, 22.

Fortna, R.T. 2002. The gospel of John and the historical Jesus. In Hoover (red.) 2002.

Fouskas, V.K. en B. Gökay. 2005. The new American imperialism: Bush’s war on terror and blood for oil. Westport: Praeger Security International.

Funk, R.W. 1997. Honest to Jesus: Jesus for a new millennium. San Francisco: HarperSanFrancisco.

—. 1998. The coming of radical reformation: Twenty-one theses.
http://www.westarinstitute.org/Periodicals/4R_Articles/funk_theses.html (22 November 2010 geraadpleeg).

Funk, R.W., R.W. Hoover en Jesus Seminar. 1993. The five gospels: The search for the authentic words of Jesus. New York: Macmillan.

Funk, R.W. en Jesus Seminar. 1998. The acts of Jesus: The search for the authentic deeds of Jesus. San Francisco: HarperSanFrancisco.

Funk, R.W., B.B. Scott en J.R. Butts. 1998. The parables of Jesus: Red letter edition. Santa Rosa: Polebridge.

Geering, L. 2009. Coming back to earth: From gods, to God, to Gaia. Salem: Polebridge.

Gold, M. 2006. The Left behind series as sacred text? In Arweck en Collins (reds.) 2006.

Griffin, D.R. 2006. America’s non-accidental, non-benign empire. In Griffin e.a. 2006.

Griffin, D.R., J.B. Cobb, R.A. Falk en C. Keller. 2006. The American empire and the commonwealth of God: A political, economic, religious statement. Louisville: Westminster John Knox.

Heinberg, R. 2006. The oil depletion protocol: A plan to avert oil wars, terrorism and economic collapse. Gariola Island: New Society Publishers.

Het uur van de waarheid: Het “Kairos-document” van Zuidafrikaanse christenen met een inleiding van David de Beer en bijdragen van Herman Wiersinga en Theo Witvliet. 1986. Baarn: Ten Have.

Hoover, R.W. 2010. Why I give. The Fourth R, 23(5):26–7.

Hoover, R.W. (red.). 2002. Profiles of Jesus. Santa Rosa: Polebridge.

Horsley, R.A. 2003. Jesus and empire: The kingdom of God and the new world disorder. Minneapolis: Fortress.

Kennedy, P. 2006. A modern introduction to theology: New questions for old beliefs. Londen: I.B. Tauris.

Koch, K. 1980. Das Buch Daniel. Erträge der Forschung 144. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

—. 1997. Europa, Rom und der Kaiser vor dem Hintergrund von zwei Jahrtausenden Rezeption des Buches Daniel. Berichte aus den Sitzungen der Joachim-Jungius-Gesellschaft der Wissenschaften e.V., Hamburg. Jahrgang 15, Heft 1. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

König, A. 2009. Die evangelie is op die spel: Die verwarring oor die Bybel, en oor Jesus se lewe, sterwe en opstanding. ’n Alternatief op liberalisme en fundamentalisme. Wellington: Lux Verbi.

Kuhn, T.S. 1970. The structure of scientific revolutions. Chicago: University of Chicago Press.

Lahaye, T. en J.B. Jenkins. 1995. Left behind: A novel of earth’s last days. Wheaton: Tyndale House.

—. 2004. Glorious appearing: The end of days.Wheaton: Tyndale House.

Leaves, N. 2006. The God problem: Alternatives to fundamentalism. Santa Rosa: Polebridge.

—. 2010. Religion under attack: Getting theology right. Salem: Polebridge.

Lindsey, H. 1970. The late great planet earth. Grand Rapids: Zondervan.

Lüdemann, G. 2008. Eyes that see not: The Pope looks at Jesus. Santa Rosa: Polebridge.

Mackey, J.P. 1983. Trinity, Doctrine of. In Richardson en Bowden (reds.) 1983.

Marsden, G.M. 2006. Fundamentalism and American culture. Tweede uitgawe. New York: Oxford University Press.

Miller, R.J. 1999. The Jesus Seminar and its critics. Santa Rosa: Polebridge.

—. 2001. The apocalyptic Jesus: A debate. Santa Rosa: Polebridge.

—. 2003. Born divine: The births of Jesus and other sons of God. Santa Rosa: Polebridge.

—. 2006. The future of the Christian tradition. Santa Rosa: Polebridge.

Müller-Fahrenholz, G. 2007. America’s battle for God: A European Christian looks at civil religion. Grand Rapids: Eerdmans.

Powell, M.A. 1998. Jesus as a figure in history: How modern historians view the man from Galilee. Louisville: Westminster John Knox.

Regan, G. 2002. Battles that changed history: Fifty decisive battles spanning over 2 500 years of warfare. Londen: André Deutsch.

Richardson, A. en J. Bowden (reds.) 1983. A new dictionary of Christian theology. Londen: SCM.

Robinson, J.A.T. 1963. Honest to God. Londen: SCM.

Roldanus, J. 2006. The church in the age of Constantine: The theological challenges. Londen: Routledge.

Scott, B.B. 2010. The trouble with resurrection: From Paul to the fourth gospel. Salem: Polebridge.

Scott, B.B. (red.). 2008. Finding the historical Jesus: Rules of evidence. Santa Rosa: Polebridge.

Smith, M.S. 2004. The memoirs of God: History, memory and the experience of the divine in ancient Israel. Minneapolis: Fortress.

Spangenberg, I.J.J. 2002. Beleef die Christelike teologie soos met die vorige eeuwending weer ’n paradigmaverandering? Hervormde Teologiese Studies, 58(1):100–17.

—. 2009. Jesus van Nasaret. Kaapstad: Griffel.

Spong, J.S. 1998. Why Christianity must change or die: A bishop speaks to believers in exile. San Francisco: HarperSanFrancisco.

—. 2002. A new Christianity for a new world: Why traditional faith is dying and how a new faith is being born. New York: HarperCollins.

—. 2007. Jesus for the non-religious: Recovering the divine at the heart of the human. New York: HarperSanFrancisco.

State of the Union Address: 28 Januarie 1992. http://www.fas.org/spp/starwars/offdocs/union92.htm (15 November 2010 geraadpleeg).

Tatum, W.B. 1994. John the Baptist and Jesus: A report of the Jesus Seminar. Santa Rosa: Polebridge.

Taylor, M.L. 2005. Religion, politics, and the Christian right: Post-9/11 powers and American Empire. Minneapolis: Fortress.

Van Aarde, A. 2001. Fatherless in Galilee: Jesus as child of God. Harrisburg: Trinity Press International.

Verhoef, P.A. 2005. Op vaste fondamente: Kerk en dwaalleer – les van die geskiedenis. Stellenbosch: P.A. Verhoef.

Vermes, G. 1993. The religion of Jesus the Jew. Londen: SCM.

Vidal, G. 2004. Imperial America: Reflections on the United States of Amnesia. Forest Row: Clairview.

Von Voigtlander, E.N. 1978. The Bisitun inscription of Darius the Great: Babylonian version. Corpus inscriptionum Iranicarum. Part I: Inscription of ancient Iran. Volume II: The Babylonian version of the Achaemenian inscriptions. Text I. Londen: Lund Humphries.

Widengren, G. 1973. The Persians. In Wiseman (red.) 1973.

Wiggins, J.B. 1996. In praise of religious diversity. Londen: Routledge.

Wilson, A.N. 2008. Our times: The age of Elizabeth II. Londen: Hitchinson.

Wiseman, D.J. (red.). 1973. Peoples of Old Testament times. Oxford: Clarendon.

Wright, N.T. 1999. Five gospels but no gospel: Jesus and the seminar. In Chilton en Evans 1999.
http://www.ntwrightpage.com/Wright_Five_Gospels.pdf (25 November 2010 geraadpleeg).

Eindnotas

1 Die 25ste verjaardagviering is 13–16 Oktober 2010 in Santa Rosa (Kalifornië) gevier. Ek het dit bygewoon om eerstehands te ervaar hoe hulle seminare inrig. Afgesien van ’n terugblik en ’n toekomsblik het die fokus tydens die seminaar op Jesus se opstanding en Paulus se eiendomlike briewe geval. Twee boeke wat as onderbou vir die lesings gedien het, is onder andere te koop aangebied: The trouble with resurrection (Scott 2010) en The authentic letters of Paul (Dewey e.a. 2010).

2 Die tweede Golf-oorlog van 1991 is, volgens Regan (2002:214–20), die laaste een van die vyftig belangrikste oorloë die afgelope 2 500 jaar. Die rede? Die gesofistikeerde wapentuig wat gebruik is en die eensydigheid van die oorlog. Saddam Hoessein se magte was nie opgewasse teen die geallieerde magte nie. Maar dan wys hy daarop dat die Amerikaners, soos so dikwels in die verlede, ’n bedenklike rol in die oorlog gespeel het. Hulle het Hoessein se magte uit Koeweit verdryf, maar hom nie uit die saal gelig nie. Hulle het hom met ’n sterk genoeg weermag agtergelaat sodat hy steeds die septer in Irak kon swaai — natuurlik tot voordeel van die VSA: “If Desert Storm was not decisive it was because the Americans did not want it to be” (Regan 2002:220).

3 Die Bisitun-inskripsie word net so belangrik geag as die Rosettasteen. Laasgenoemde het geleerdes gehelp om die Egiptiese hiërogliewe te ontsyfer, terwyl eersgenoemde hulle gehelp het om die Akkadiese en Babiloniese spykerskrif te ontsyfer. Die omgewing van die Bisitun-inskripsie word vandag deur UNESCO as ’n wêrelderfenisterrein erken.

4 Dit sou byna 550 jaar duur voordat die Perse weer in staat was om ’n ryk in hul tradisionele gebied tot stand te bring. In die derde eeu n.C. het die Sassaniede-dinastie op die toneel verskyn en verhinder dat die Romeinse keisers hier ’n vastrapplek kry. Selfs die keisers van die Bisantynse Ryk kon nie daarin slaag om Persië in te palm nie. In 642 n.C. is die Sassaniede-ryk deur Moslem-Arabiere binnegeval en is dit deel van die Arabiese Ryk gemaak. Die Persiese geskiedenis word dus gekenmerk deur ’n wisseling in periodes van onafhanklikheid en periodes van oorheersing deur ander.

5 Die ouer benaming vir hierdie inskripsie is die “Behistun-inskripsie”. Beide benamings word egter in die literatuur gebruik.

6 Die term god is eintlik ’n generiese term wat nie met ’n hoofletter geskryf behoort te word nie, maar dit het standaardpraktyk geword om ’n onderskeid te tref tussen God en die gode. Eersgenoemde verwys dan na die God van die Christelike godsdiens, wat ook as die “Drie-eenheid” bekend staan. Die Drie-eenheid word as die enigste ware God voorgehou, terwyl alle ander gode (hoe hulle ook al benaam word) as afgode of nonentiteite beskou word. Wanneer Christene ’n onderskeid tussen God en die gode tref, wek dit ook die indruk dat daar ’n rangorde is. Wat eintlik maar gebeur, is dat Christene vanuit húl perspektief na ander godsdienste kyk en die Christelike God dan voorhou as die enigste ware en lewende God wat bo ander uittroon. Ná die Protestantse Reformasie was Christene baie meer daarop ingestel om die term Drie-eenheid (of Drievoudigheid) te gebruik wanneer hulle oor húl God gepraat het, maar daardie term het grootliks in onbruik verval. Verder het dit in die Westerse Christendom ingeburger geraak om bloot van God te praat sonder om die God te benaam of te omskryf. Na regte het die Christelike godsdiens die afgelope jare vervlak tot ’n soort Jesus-godsdiens. In hierdie artikel wyk ek van die standaardpraktyk af en skryf ek deurgaans “God”, of dit nou die Christelike God of ander sogenaamde gode is.

7 Oor keiser Konstantyn en sy handelinge het Botha (2006a, 2006b) ’n insiggewende artikel geskryf. Dit berus op ’n lesing wat hy op 26 Maart 2006 tydens ’n byeenkoms van die Nuwe Hervorming Netwerk in Midrand gelewer het.

8 Mackey (1983:581) verwoord dit soos volg: “The doctrine of the Trinity is primarily a christological doctrine and its most widely accepted form is a product mainly of the fourth century AD.”

9 ’n Paradigmaverandering behels ’n grondige verskuiwing in hoe navorsers na die objek van hul studie kyk en dit dan dienooreenkomstig bestudeer (vgl. Kuhn 1970:85). In die geval van die Bybel hang dit saam met ’n verskuiwing van die beskouing dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is na die beskouing dat dit feilbare menslike geskrifte is.

10 Volgens berekeninge is meer as 10 miljoen eksemplare van hierdie boek verkoop (Gold 2006:35).

11 Lahaye en Jenkins het nie minder nie as twaalf boeke in die reeks Left behind gepubliseer. Dit het afgeskop met die boek Left behind: A novel of the earth’s last days (1995) en geëindig met Glorious appearing: The end of days (2004) – almal gepubliseer deur Tyndale House in Wheaton. Rondom dié reeks het daar intussen ’n hele geldmaak-industrie ontstaan (Gold:2006:36).

12 Bacevich (2002:244) sluit sy boek met die volgende sinne af: “The question that urgently demands attention – the question that Americans can no longer afford to dodge – is not whether the United States has become an imperial power. The question is what sort of empire they intend theirs to be.”

13 Oor die vervlegtheid van fundamentalisme en imperialisme maak Horsley (2003:142) die volgende opmerking: “Especially striking to people from outside the United States is how fanatically religious American imperialism can be.”

14 Funk se stellings is ook op die internet beskikbaar (Funk 1998).

15 In die RSA het iets soortgelyks gebeur. Van Aarde (2001) se boek oor die historiese Jesus is deur König (2009:236–74) getipeer as ’n boek wat die evangelie in die gedrang bring. Van Aarde is die enigste Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentikus wat lid is van die Jesus Seminaar, terwyl König ’n sistematiese teoloog in die evangeliese tradisie is. Casey (2010:21) se opmerking oor die kritiek van konserwatiewe VSA-teoloë is hier ter sake: “Some of them write books which appear to assume that, if they can demonstrate that the Jesus Seminar is wrong, they thereby demonstrate the absolute truth of Protestant fundamentalism or Catholic orthodoxy [...].”

16 Spong het met verskeie publikasies daartoe bygedra om die nuwere kennis met die gewone publiek te deel. Hy het ’n buitengewone vermoë om met mense te kommunikeer en sy boeke is byna deur die bank topverkopers. Onder die topverkopers tel: Why Christianity must change or die: A bishop speaks to believers in exile (1998); A new Christianity for a new world: Why traditional faith is dying and how a new faith is being born (2002); Jesus for the non-religious: Recovering the divine at the heart of the human (2007).

17 Miller bespreek hierdie werkwyse van die seminaarlede in ’n hoofstuk van die boek waarin hy reageer op die kritiek van ander. Volgens hom beskou seminaarlede hul navorsingsresultate allermins as “evangelie”. “It would be a disappointing irony if our judgments were ‘taken as gospel’” (Miller 1999:60), is sy eie woorde.

18 Botha (1990:33–4) het ’n dekade gelede ’n artikel oor die Jesus Seminaar gepubliseer. Hierin het hy verslag gelewer oor hul werkwyse en wat hul oogmerk was. Hy het positief geoordeel oor aspekte van die navorsing, maar was ongemaklik met die onderskeid tussen Jesus van Nasaret en Jesus Christus van die Christelike tradisie.

19 Carroll was nie ’n lid van die Jesus Seminaar nie, maar ’n Skotse Ou-Testamentikus. Sy oortuigings resoneer egter met dié van die seminaar. Hy het met sy boek Wolf in the sheepfold (1991) konserwatiewe Christene in Brittanje die harnas ingejaag deur uit te wys dat deeglike eksegese van die Bybel nie die leerstellings van die Christelike godsdiens ondersteun nie. Dit het daarop uitgeloop dat die eerste uitgewer (SPCK) nie die boek wou herdruk nie. Die tweede druk is deur SCM Press behartig. Hulle het dit onder die nuwe titel Wolf in the sheepfold: The Bible as problematic for theology (1997) gepubliseer.

20 Dit is nie moontlik om in hierdie artikel ’n volledige lys van gepubliseerde boeke te verstrek nie, maar die volgendes verdien om vermeld te word: In parables: The challenges of the historical Jesus (Crossan 1992); John the Baptist and Jesus: A report of the Jesus Seminar (Tatum 1994); The parables of Jesus: Red letter edition (Funk, Scott en James 1998); The apocalyptic Jesus: A debate (Miller 2001); Born divine: The births of Jesus and other sons of God (Miller 2003); The future of the Christian tradition (Miller 2006); Finding the historical Jesus: Rules of evidence (Scott 2008).

21 Onder die boeke van Cupitt (’n Britse teoloog en godsdienswetenskaplike) tel: Reforming Christianity (2001); Life, life (2003) en Above us only sky (2008). Onder die boeke van Geering (’n Nieu-Seelandse teoloog en godsdienswetenskaplike) tel: Coming back to earth: From gods, to God to Gaia (2009). Onder die boeke van Lüdemann (’n Duitse Nuwe-Testamentikus) tel: Eyes that see not: The Pope looks at Jesus (2008). Onder die boeke van Leaves (’n Australiese teoloog) tel: The God problem: Alternatives to fundamentalism (2006) en Religion under attack: Getting theology right (2010).

22 Ons het hier met ’n radikale verandering te doen. Oor God, Jesus en mense word anders gedink en gepraat as hoe Christene oor die algemeen oor hulle dink en praat.

23 Daar is Nuwe-Testamentici wat meen dat die seminaarlede verkeerd te werk gaan en die antieke bronne totaal verkeerd vertolk. Wright (1999) is een van hulle. Powell (1998:65–81), daarenteen, spreek ’n baie gebalanseerde oordeel uit oor die Jesus Seminaar en die lede se werkwyse in sy boek Jesus as a figure in history.