Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Herman Wasserman gesels oor godsdienstige verwysings in koerantberigte oor misdaad en ongelukke


Herman Wasserman - 2011-05-11

Herman Wasserman reageer op die artikel “’n Kritiese evaluering van godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke in Beeld en Rapport” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Christo Lombaard en Johannes Froneman.

Lombaard en Froneman se artikel is ’n tydige bydrae tot die mediastudies-literatuur in Suid-Afrika, aangesien dit twee onderwerpe kombineer waaraan daar tot op hede nog te min aandag gegee is in die akademiese diskoers rondom Suid-Afrikaanse media. Dat daar in ’n land met sulke hoë misdaadvlakke nog relatief min navorsing gedoen is oor misdaadverslaggewing, is eintlik vreemd. Ook die veld van media en godsdiens – wat in byvoorbeeld die VSA ’n erkende navorsingsveld is (kyk byvoorbeeld Stuart Hoover se sentrum vir Media, Godsdiens en Kultuur by http://www.colorado.edu/journalism/CMRC/hoover.html) – is nie juis ’n aktiewe een nie.

Die artikel ondersoek voorts ook die representasie van trauma in die Suid-Afrikaanse media, eweneens ’n baie tersaaklike kwessie wat nog nie na behore in die veld in Suid-Afrika gedek is nie, terwyl byvoorbeeld die DART-sentrums (sien http://dartcenter.org) internasionaal belangrike werk op hierdie gebied doen om joernaliste en opvoeders te help om op meer verantwoordelike wyse oor trauma berig te gee, asook om hul eie trauma te verwerk. Lombaard en Froneman se artikel is dus ’n welkome bydrae tot die literatuur.

Dat die artikel op twee Afrikaanse koerante fokus, verleen daaraan ’n duidelik afgebakende kulturele veld waarbinne die verhouding tussen representasies van misdaad en godsdiens en ’n spesifieke taalgemeenskap ondersoek kan word. Dit sal interessant wees om in ’n toekomstige studie hierdie fokus uit te brei na ’n vergelykende studie wat meer mediaplatforms insluit, ten einde vas te stel of patrone binne die breër Suid-Afrikaanse samelewing bemerk kan word, en of die tendense wat in hierdie artikel aangeroer word, meer spesifiek tot die Afrikaanse leserspubliek behoort.

Die artikel raak verskeie kwessies aan wat verdere bespreking kan uitlok, asook aanleiding kan gee tot vrugbare verdere navorsing. Ek wil graag net een van hierdie kwessies vlugtig aanraak, naamlik wat die bevindinge van hierdie studie moontlik suggereer ten opsigte van die verband tussen verslaggewing oor godsdiensbelewings, die kulturele omgewing waarbinne die betrokke koerante funksioneer, en die verskuiwings wat die Afrikaanse media ondergaan het ten opsigte van hul ideologiese oriëntasie sedert die einde van apartheid.

Die outeurs verwerp die beskuldiging jeens die Afrikaanse media, by name Beeld, dat dit besonder hoë klem op misdaadkwessies plaas deur daarop te wys dat misdaad ook hoog op die nuusagenda van Engelse koerante verskyn. Dit mag so wees, maar die getal berigte wat ter stawing aangevoer word, weerlê nog nie die wese van die kritiek teen Beeld nie, aangesien dit niks sê oor die prominensie van die betrokke berigte (byvoorbeeld of misdaad telkens die voorblad-hoofberig was nie) of oor die tipes misdaad waaroor berig word nie (byvoorbeeld of plaasmoorde hoër op die nuusagenda geplaas word as moorde in townships), en misdaadberiggewing dus moontlik op hierdie wyse ’n politieke agenda kan ondersteun nie. Die outeurs se opmerking dat nuusberigte eers deur verskeie “interpretasielae heen gedistilleer” word voordat dit in die koerant verskyn, kan dus ewe veel op die godsdienstige dimensie as op die politieke dimensie van toepassing gemaak word. Die punt oor interpretasielae is egter ’n belangrike een, aangesien dit beklemtoon dat nuus nie maar net “gebeur” en dan deur koerante berig word asof hulle neutrale spieëls is wat die werklikheid reflekteer nie. Dit is ’n bekende teoretiese insig, maar verdien om opnuut gemaak te word: nuus word sosiaal gekonstrueer, en daarom kan nuusberigte ontleed word om te probeer vasstel wat nuuskeuses en -representasies ons sê oor ’n betrokke waardestelsel, in hierdie geval openbare spiritualiteit, asook oor die media se posisie binne ’n bepaalde samelewing. Die outeurs se bevestiging dat godsdienstige temas steeds dikwels in nuusberigte in Afrikaanse koerante voorkom, suggereer dat die positivistiese aansprake deur joernaliste – as dat hulle bloot “boodskappers” is wat empiriese feite weergee – nie heeltemal juis is nie. Selfs die beriggewing oor “harde feite” soos misdaad word onderlê deur ’n bepaalde waardestelsel. Dit opper die vraag wat deur die outeurs kortliks aangestryk word: Is hierdie waardestelsel een wat deur joernaliste gedeel word, dus een wat spruit uit oortuiging, of is dit eerder ’n tipe siniese mimiek van ’n waardestelsel wat onder dié koerante se leserspubliek bestaan, in die belang van groter sirkulasie? In laasgenoemde geval verkry godsdiens dan inderdaad, soos die outeurs opmerk, blote kommoditeitswaarde.

Die outeurs gaan nie in op hierdie aspek van die kommodifisering van godsdiens in belang van winsbejag nie, en ontleed godsdienstige verwysings in koerantberigte “ongeag of dit op grond van meer filosofiese of meer ekonomiese beginsels geskied”, ten einde vas te stel watter “‘impulse rondom geloofsake” binne die bepaalde Afrikaanse lesersgemeenskap “verruil” word. Die vraag rondom die kommodifisering van godsdiens is egter ’n belangrike een wat verdere navorsing vereis.

Vorige studies (kyk byvoorbeeld Wasserman 2009; Wasserman en Botma 2008) het aangetoon hoe die Afrikaanse media sedert die einde van apartheid ’n groter kommersialisering ondergaan het, deels as ’n poging om van die ideologiese bagasie van hul assosiasie met die apartheidsregime ontslae te raak. Kenmerkend van hierdie skuif na kommersialisering is ’n toenemende privatisering en kommodifisering van taal en kultuur (waarvan die toenemende getal Afrikaanse kunstefeeste ’n aanduiding is). Die bevinding in hierdie artikel, naamlik dat die meerderheid van godsdiensuitsprake in Afrikaanse koerante godsdiens binne die private sfeer geplaas het, met ’n klem op die hiernamaals as ’n “tipe weerligafleier”, opper die vraag of godsdiens ook toenemend geprivatiseer en moontlik gekommodifiseer word op ’n soortgelyke wyse as wat sedert die einde van apartheid in die Afrikaanse media met taal en kultuur gebeur het. Die outeurs bevind dat “harde kwessies” verruil word vir “sagter antwoorde” wat op “die lange duur geen bevredigende antwoorde kan bied nie”. Nie alleen is hierdie keuse ten opsigte van die joernalistieke representasie van godsdienstige belewenisse ’n verspeelde kans vir die Afrikaanse media om leiding te gee op maatskaplike kwessies in die openbare domein nie, maar dit dui moontlik ook op die ontwikkeling van ’n tipe spiritualiteit wat maklike (dog onvolhoubare) antwoorde verkwansel eerder as om vanuit godsdienstige oortuiging te worstel met werklik grondige en diepgaande probleme. So ’n spiritualiteit hou verband met ’n neoliberale kultuur van individualiteit, privatisering en die strewe na kitsoplossings en ontvlugting in ’n verbruikerskultuur. Dit is moontlik daarom nie toevallig dat hierdie spiritualiteit uiting vind in ’n samelewing wat meer en meer gekenmerk word deur materialistiese strewes nie, asook binne ’n Afrikaanse media wat op sigself ook in die afgelope jare toenemende neoliberalisering ondergaan het. Op die oomblik is hierdie skakel slegs spekulatief, maar verdere navorsing op hierdie gebied kan dalk interessante verbande aan die lig bring.

Verwysings

Wasserman, H. 2009. Learning a new language: Culture, ideology and economics in Afrikaans media after apartheid. International Journal of Cultural Studies, 12(1):59-78.

Wasserman, H. en Botma, G.J. 2008. Having it both ways: Balancing market orientation and political claims at a South African daily newspaper. Critical Arts, 22(1):1-20.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<