Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Straight > Fiksie | Fiction

Vir jou, net vir jou


Sneeuwolf - 2011-05-10

Untitled Document

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

Die bad is effe oorvol met water. Ek gooi net effe te veel badsout in. Ek roer met albei my hande. Die warm water op my vel is heerlik. Skuimborrels klou vas aan my arms. Ek blaas dit terug in die bad.

Ek sit eers net een voet in die water. Hierdie heerlikheid wil ek rek. Ek plaas die ander voet in en stadig sak ek my lyf in die wonderlike lafenis in. Ek sak af, rus my kop teen die kant, en onderdompel my hele lyf. Die water vloei oor my lyf en ek kan voel hoe dit die hede wegspoel. Ek lê in die bad met net my mond en neus wat tussen die skuim borrels uitsteek. Ek sluit my oë en drink die wonderlike lafenis in wat my oorval. My oë kom tot rus op die bos pragtige tulpe wat ek sommer in die wasbak neergesit het. Die dag met sy gebeurtenis vervaag. My liggaam word gewigloos. Ek sweef weg, ’n ruimte in. ’n Ruimte van heerlike ontspanning en tevredenheid.

Johan is my man. Ek en Johan is getroud. Veertien jaar saam. Net saam. Een lewe, een huis, een hond, een tuin. Twee kinders: dogters, pragtig en liefdevol.

Die eerste twee jaar was ’n fantasie. Johan, ’n man duisend. Ons het kalm besluit oor ’n gesin. Beplan en drome gedroom. Die bykomende verantwoordelikheid wat ’n swangerskap meebring, het die ware vrou in my na vore laat tree. Ek het my werk bedank en huis toe gekom. Ek gaan nou huisvrou en gesinsvrou wees.

Johan is nie eintlik ’n huisman nie. Bed opmaak, kos maak, huis skoonmaak en skottelgoed was is ’n vrou se werk. Maar, ek het hom aanbid vir dit wat hy is.

Ek het as die vrou van die huis my take sonder beswaar afgehandel. Die natuur gee aan ’n vrou bomenslike kragte en uithouvermoë.

Die tweede swangerskap het spoedig gevolg.

Soms het ek teen die lewe in opstand gekom. Dit egter dadelik onderdruk.

Ek is ’n vrou. ’n Vrou het pligte. Ek het soms net gewonder. Moet ’n vrou, omdat sy ’n vrou is, so swaar dra? Met een kind in die lyf, een onder die arm en ’n man wat soos ’n kind bedien moet word. Ek het myself reggeruk. Dit aanvaar as deel van die getroude lewe. Wees vrugbaar, vermeerder en hang jou man aan.

Wanneer Johan van die werk af kom, stap hy ’n gesinshuis in. As hy sy tas neersit en moeg in die rusbank wegsak, is sy koppie koffie klaar in sy hand. Die geur uit die kombuis is aptytwekkend.

Ek laat hom, soos gewoonlik, eers so ’n rukkie dut. Sy moeë lyf rus. Dit gee my kans om die kinders te voed en vir die nag reg te kry. Die etenstafel reg te kry, en die kos af te rond.

Na sowat ’n uur is Johan op en wakker.

Na ete bring ek vir hom die kinders om bietjie kwaliteit tyd mee te spandeer, terwyl ek opruim en die kombuis aan die kant te kry vir die ontbyt in die oggend. Dan saam met Johan die kinders geniet voordat ek hulle in die bed gaan sit.

Terwyl Johan televisie kyk, het ek myself vir die nag gaan regkry. Die moegheid en groeiende eentonige reëlmaat van my lewe in ’n warm bad weggespoel.

Johan se passievolle romantiek het in die afgelope jare verflou na slegs ’n fisiese liggaamlike behoefte. ’n Slaapmiddel. My daaglikse pligte as vrou van die huis, tuinier en skoonmaker het in my ook geen romantiese gevoelens meer aangewakker nie.

Johan het die begroting streng hanteer. Ek het al die huishoudelike aankope gedoen. Weinig ekstra geld vir eie gebruik, vir eie vroulike aankope of genietinge.

Ons werk mos saam aan ’n kommerlose aftrede.

Is dit wat die werklike lewe is?

Moet aardse pligte en verantwoordelikhede die mens in jou vermoor? Natuurlike behoeftes, drange en genietinge vernietig? Is dit waarin die lewe verander omdat ek trou gesweer het in die kerk? Tot die dood ons skei. Moet ek dan nou net lewe, asemhaal, net om eendag dood te gaan? Met krag verwerk ek die groeiende opstand in my wese.

Die natuur is kragtiger as die mens. Vir ’n paar dae van elke maand vind verandering in die vrou se liggaam plaas. Verandering wat die brein onbewustelik hanteer.

Die huis langsaan kry nuwe intrekkers. Doodnatuurlik hou ek die bedrywighede dop, terwyl ek woel en energie wegwerk in die blombeddings.

Ek het genoeg vrye tyd. Die dogters kom eers om twee-uur uit die skool. Eers dan word my eentonige dag baie besig.

Teen die tweede week na die intrek in die huis kom ek agter dat dit net een man alleen is. Uit blote nuuskierigheid het ek meer dikwels aan die bedding teen die lae skeidingsmuurtjie gewerk. Ons het mekaar net vriendelik gegroet en dan aangegaan met waarmee ons besig was. Ek het gewonder watse beroep hy volg. Hy is dikwels, meer as dikwels, tuis en lief om in die tuin te woel. Ek skat hom dieselfde ouderdom as Johan.

Eendag, terwyl ek onkruid uittrek in die bedding, trek hy my aandag met ’n vriendelike groet. Ek lig my krom lyf regop, skuif die breërand-sonhoed effe terug en sien die glas koeldrank in sy uitgestrekte hand. “My naam is Willem.”

Ek neem die koeldrank by hom, vat sy uitgestrekte hand, en voel die ferm greep.
“Ek is Sonja. Aangename kennis.”

Uit die opvolggesprek het dinge duidelik geword. Hy is ’n reisende verkoopsverteenwoordiger en bepaal sy eie werktyd. Met die groot vraag kon ek duidelik die verandering op sy gesig sien. Hy het agt jaar gelede sy vrou en kind in ’n ongeluk verloor. Tot vandag is hy dwalend met geen sosiale lewe nie.

Die vrou in my het onbewustelik na hom uitgegaan. Ek wou hom net ’n drukkie gee.

Sy onmiddellike regruk, professionele respek en agting vir my het dit nie toegelaat nie.

Die platoniese vriendskap is deur die kennis van die dramatiese gebeurtenis in sy lewe effe verander. My lewe het ’n liggie gekry. ’n Liggie waarna ek soms uitgesien het.

Tot ...

Blykbaar het hy vroegoggend gaan draf.

Die huise se ingangshekke is langs mekaar. Ek het per motor teruggekom na ek die kinders by hulle skole gaan aflaai het. Hoërskool en laerskool is naby mekaar. Toe ek by my toe hek stop (toe om te keer dat die hond nie die straat vat nie), draf hy nader en maak die hek oop. Met sy buk om die onderste pen van die hek op te tel, val my oog op die draf broekie en … Ek sien die rondings van sy boudjies. Wat met die vrou in my aangaan, weet ek nie. Toe hy die hekke oopstoot en ek sien die atletiese lyf met die mooiste paar boude, ruk iets in my wese tot plofbaarheid. Ek het sy bewegings, soos hy die hekke weer toemaak, in die truspieëltjie gevolg. Iets in my binneste, iets wat ek jare laas gevoel het, het ontwaak. Ek het uitgeklim en net met die hand gewaai om dankie te sê.

In die kombuis het ek eers gaan sit. Diep asemgehaal. Myself reggeruk en aangegaan met my huisvroupligte. Selfs die eentonige geraas van die stofsuier kon my woelende gedagte egter nie in toom hou nie. Die man het wragtig ’n paar boudjies wat enige vrou sal roer. Selfs die toedruk van my gesig met ’n stoelkussinkie en ’n ligte klap teen my eie wang kon die warmte in my liggaam nie demp nie. Slegs jare se onderdrukking en selfdissipline het weerstand en versoeking in bedwang gehou.

Ek het vir twee dae die voortuin vermy. Myself ingehok en gedissiplineer. Twee dae later eers weer my normale lewe voortgesit. Platoniese groet en gesels het roetine geword.

Iets het net sterker geword. Sien ek iets in sy handeling ook? Hoe beheer ek my oë? Hoe keer ek ’n nuuskierige kyk oor die heining as die man in die tuin woel? Sy duidelike professionele afsydigheid en onpersoonlike gedrag teenoor my het my respek afgedwing.

Tog het ’n dieper vriendskap stelselmatig ontwikkel.

Ek is besig met die huis skoonmaak. Nie juis geklee vir besoekers nie. ‘n Dringende klop aan die voordeur roep my daarheen. Ek maak oop. Hy staan voor my. Effe bleek. Hou sy hand uit. Toegedraai in ’n paar kombuislappe. Ek sien bloed deursyfer. “Die grassnyer se lem,” stamel hy.

“Hene Willem, kom in laat ek kyk.” Ek lei hom na die badkamer. “Sit op die rand van die bad sodat ek kan kyk.”

Dit was toe nie te erg nie. Net ’n klein kapmerk op die vinger. Skoonmaak, ontsmet en in pleister het die ding gedoen.

Wat die ergste was, was sy nabyheid. Die aanraking, die reuk van sy liggaam. Die elektries-gelaaide fisieke kontak.

Die ketting het gebreek.

In die dae wat gevolg het, het hy my een of twee keer sy huis in genooi vir nietige vroulike raad in huisdinge. Ek het hom van oor die heining genooi vir selfgebakte beskuit en koffie.

Na twee die middag is die kettingskeiding weer ingehaak. Geen persoonlike kontak tussen ons nie.

Tot in die oggend. Die horlosie het al geweet. Hy sal die hek oopmaak. Tienuur drink ons koffie. Sy humor was uit die boeke. Sy sien van die lewe en behandeling van ’n vrou, te veel om te absorbeer. Sy pragtige bene en boudjies ’n versoeking.

My verjaarsdag. Ek bak koek en doen voorbereidings vir vanaand as Johan tuiskom.

’n Klop aan die voor deur laat my dit oopmaak. “Sonja, goeiemôre en geluk met jou versjaarsdag.”

In die een hand het hy ’n pragtige bos tulpe. Die ander hand is na my uitgestrek soos in met die hand groet. Iets binne my knak. Breek flenters. Ek trek hom met albei hande aan die skouers, die huis in, draai hom in die rondte en druk die deur met my rug toe. Ek vou my arms om sy nek en trek hom styf teen my vas. Sy wanhopige flou, probeer keer: “Sonja, Sonja …” My lippe op syne. My hande sak af teen sy rug. My vingers wriemel agter in sy drafbroekie in. Krampagtig vat ek sy stywe boudjies en trek hom styf teen my vas. Ek hoor hoe die bos tulpe op die vloer val.

Ek het in die bad aan die slaap geraak. Die water is alreeds koud. Ek draai op my knieë en my oë rus vir ’n wyle weer op die bos tulpe. Onder die stortkop was ek my hare.

Vreemd. Ek is gelukkig. Ek het geen skuldgevoelens nie. Die vrou binne my is gevoed, warm en gelukkig.