Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Nuwe boeke | New books > Afrikaans

Wat die oog gesien het laat die lesersoog stilstaan


Madri Victor - 2011-05-10

Wat die oog gesien het
Christine Barkhuizen le Roux
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152563
Prys: R170.00

Klik hier en koop Wat die oog gesien het nou van Kalahari.net!



Wat die oog gesien het is Christine Barkhuizen le Roux se tweede kortverhaalbundel. Sy het in 2006 Waar koek en wyn ontbreek publiseer, haar eerste bundel kortverhale. Van haar verskyn ook twee digbundels, haar debuut dimensie in 2000 en Roset in 2006. Padmaker, die roman wat sy geskryf het ter aflegging van haar MA in Kreatiewe Skryfwerk, verskyn in 2010. Hiermee stel Christine hoë standaarde vir haarself. Die roman word baie goed ontvang en bevestig haar bekwaamheid as skrywer. (Dit word tans op RSG voorgelees.) Van só ’n skrywer verwag ’n mens dus ’n sekere gevoeligheid vir die woord, fyn waarneming en goeie tegniese beheer.

Die titel van hierdie bundel berei die leser daarop voor dat dit hier oor die waarneming gaan van dit wat oop en bloot is én dit wat versteek, misgekyk of gesuggereer word. Die motto van sir Arthur Conan Doyle bevestig dit: “The world is full of obvious things which nobody by any chance ever observes.” Verder suggereer die titel ook die geestesoog of innerlike waarneming. Dit is dan ook die “obvious things” wat die fokus van Christine se verhale word: verhoudings tussen man en vrou (“Boas”), werkgewer en werknemer (“Verby”), alledaagse dinge wat met ’n emosionele, sentimentele en estetiese waarde gelaai word (“Die boom”, “Pêrel”). Haar reisverhale gee die leser ’n nuwe blik op die skynbaar gewone, soos ’n pêrelhalssnoer (“Pêrel”), ’n besoek aan ’n museum (“Kadifekale”) en ’n uitnodiging om saam met iemand tee te drink (“Teeparty”).

Opvallend is die talle verhale wat die vrou se posisie binne ’n patriargale stelsel uitlig. Van nederige sekretaresses en plaasvroue tot die gesiene eggenoot van ’n ambassadeur, vervul hierdie vroue hulle mans se elke behoefte op sy tyd en weet hoe om die “stilte van iemand se swye” te lees (“Boas”). Hulle is dankbaar wanneer die man sy toestemming gee vir ’n klein onderneminkie sodat hulle nie “vir elke potjie naellak hoef te vra nie” (“Verby”). Hulle word deur hul mans voorgeskryf en regeer, ’n tradisie wat dikwels deur die seuns oorgeneem word, soos ’n mens in “Bed” sien. En byna altyd is daar ’n sekere aftakeling, fisiek sowel as geestelik, wat hiermee saamgaan. Die mans van hierdie vroue verwag van hulle om kos op ’n spesifieke tyd op die tafel te hê, bepaal wat in die huishouding gebeur en waarop geld spandeer word. Hulle neem alleen die besluite. Kortom, die man se woord is wet.

Dit is hierdie ontkenning deur hulle mans wat die vroue in Wat die oog gesien het na uiterstes dryf, soos in die aangrypende verhaal “Die boom”. Hierdie verhaal is waarskynlik een van die bestes in die bundel. Die verteller is ’n plaasvrou wat vroeg reeds geleer het om nie haar “dit (...) aan te trek” wanneer haar man kortaf is nie, iets wat dikwels gebeur. Sy vind verskonings vir sy gedrag, maak seker dat die huis vroegoggend reeds aan die kant is, want “dit was beter dat sy op haar pos is wanneer hy huis toe kom vir brekfis”. Nog erger is die stilte na elke miskraam; wanneer sy daarna soggens later wou opstaan, was haar man se “donker frons (…) erger as ’n skewe woord”. Sy vind haar ontvlugting in kwiltwerk – iets waarvan sy aanvanklik nie gehou het nie, maar omdat dit “vrouegoed” was, moes sy haar daarmee besighou. Sy fantaseer oor haar “vlamboom” wat sy as geskenk gekry het en wat vir haar na ’n regte Kersboom lyk, en werk dan ook in die geheim ’n kwilt uit met die boom as tema. Dit is die één ding op die plaas wat haar eie is, wat sy vir haarself toe-eien. Met die opening van die verhaal verklaar haar man: “Die boom moet uit!” en ontketen só ’n ongekende, maar stilswyende, opstand by sy vrou. Sy kan en mag nie haar man se besluit teëgaan in ’n woordewisseling nie en gebruik uiteindelik haar lyf daarvoor. Haar versetsdaad beklemtoon maar net wéér haar magteloosheid in die huwelik.

Teenoor die verhale waarin vroue ondergeskik aan die man gestel word, staan die talle reisverhale wat afspeel in lande soos Turkye en China. Die reisende vrou is vry en onafhanklik, sy kies haar eie roete, sy sien dít wat die meeste mense miskyk, soos die slotreël van die bundel so mooi illustreer: “Op die bruingebrande hand se vingertop kom sit, trillend, die middag se één blou vlinder.” (En hiermee word die omslag ook verklaar: die vlinder word simbolies daardie één insident tussen die vele ander wat uitstaan, maar so maklik misgekyk word.) Die vroulike verteller in die reisverhale klink telkens na dieselfde persoon. En ’n mens vind trouens daardie stem ook terug in van die verhale wat op ’n plaas afspeel, soos die geval in “Verby” en “Oukrismis”. Ek het dit hinderlik gevind dat daardie verteller se man, kinders en familie dan telkens ander name kry. Dit is jammer dat die verteller nie dieselfde persoon gehou is nie; dit sou heelwat van die verhale sterker gemaak het en vir ’n groter eenheidsgevoel gesorg het. ’n Vrou wat deur verskeie lande reis en telkens wegskram van die deurgetrapte toeristeroete vir ’n ander, nuwe ervaring sou in skerper teenstelling kon staan met die onderdanige en onderdrukte vroue in verhale soos “Boas”, “Glorie”, “Die boom”, “As Falco ja sê” en “Bed”.

Wat die oog gesien het laat die lesersoog stilstaan by die vreemde (van oorsese lande) en herkenbare daarin, ook by dít wat ’n mens verkies om mis te kyk (soos die onderdrukking van die vrou en bruin plaaswerkers wat steeds plaasvind). Ongelukkig voel die meeste verhale te effentjies; dit kom nie by die hoë standaard wat ’n mens van Christine Barkhuizen le Roux verwag nie. Sy het immers in Padmaker gewys dat sy tegnies bekwaam is en ’n verhaal dig kan weef met die nodige onderstrominge en emosionele lading. Dit is teleurstellend dat soveel van die verhale slegs by ’n waarneming bly en nie meer diepte het nie. Die skrywer val vas in die anekdotiese. Daar was heelwat clichés wat vermy kon gewees het en hinderlike stellings of vertellings wat eerder vir die leser gewys kon gewees het. Ek het die liriese element van die digter Christine gemis en sou graag ’n groter sensitiwiteit en woordgevoeligheid wou gesien het. Die uitsonderings is “Die boom”, “As Falco ja sê”, “Om te bêre” en “Bed”; hierdie verhale vind ek besonder knap en hulle sal die leser nog lank bybly.

Wat die oog gesien het is nietemin ’n toeganklike bundel sonder pretensie waarmee heelwat lesers sal kan identifiseer.