Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 10/05/2011: Die Royal Wedding


Tiens - 2011-05-09

Die TV-uitsending het al om negeuur die oggend begin en was ’n lang, uitgerekte en by tye ’n vervelige affêre. Veral die eerste ruk was daar byna niks om mens te prikkel nie. Net af en toe het daar ’n motorkar aangekom, of ’n koets later. Tot die skare mense langs die strate het vir my verveeld gelyk, totdat die koninklikes begin aankom het. Ek het gehoop op ’n bietjie militêre musiek, maar die twee orkeste wat hulle kortstondig gewys het, se musiek is nie op die voorgrond gebring nie. So het ek darem genoeg tyd gehad om tussenin ’n roesplek aan my karretjie te behandel. Ek het destyds prins Charles en Diana se troue gesien toe ek in Kaapstad gewoon het en gemeen dit sal interessant wees om nou hul seun se huwelik te kyk.

Op ’n stadium begin die kameras konsentreer op die aankoms van die gaste in die kerk, veral op die belangrike mense. So het hulle, myns insiens te veel, gefokus op David Beckham, iemand wat my nie eintlik interesseer nie. Dan was daar Diana se broer en sy familie, Prins Watsenaam van Monaco en die onpaar egpaar van Elton John en sy gade. En natuurlik nog ’n klomp ander.

Die reuse ou "kerk" met sy kruisvorm is na my mening te groot en die meeste mense kon nie sien wat voor by die altaar aangaan nie, het dit vir my gelyk.

Wat op hierdie stadium wel die moeite werd was om te aanskou, was die kleurryke en soms absurde hooftooisels van die vroue. Daar was die gewone meer konserwatiewe hoedens, party versier met goed wat lyk soos pyle wat in alle rigtings wys, of met vere, linte of wat ook al. Maar dan was daar ’n klompie wat al te snaaks was om te aanskou: een vrou het ’n ding wat lyk soos ’n klein satellietskottel voor haar voorkop, ’n ander het iets wat lyk soos daai outydse Sjinese skepe, ook voor haar kop, met die agterstewe wat in die lug opstaan en die boeg wat tussen haar oë indruk. Dan het ’n hele aantal vroue sommer ’n bondel vere op hulle koppe geplak. In party gevalle het dit gelyk soos die stertvere van ’n volstruis mannetjie na hy ’n met ’n luiperd geveg het, maar natuurlik pragtig gekleur.

Maar, alles in ag genome was die troue nogal mooi. Die koetse, met hul vergulde dele, was pragtig, die karre grênd. Die bruid het goed gelyk in haar wit gewaad met ’n korterige sleep, skynbaar van satyn, en die fyn sluier wat sy aan die begin oor haar gesig gehad het. Prins William het knap gelyk in sy rooi uniform. Maar Prins Harry, in ’n donker uniform met goue toue en goed, het vir my nou rêrig sexy gelyk. Die hofknape en die klein meisietjies (wat noem mens hulle?) het oulik gelyk en hulle soet gedra.

Gelukkig was die seremonie redelik kort, dat dit mens nie verveel het nie, maar die liedere wat gesing is het niks vir my gedoen nie. Ek voel hulle kon meer opgewekte musiek op die program gehad het.

Groete,

Tiens

Tiens, ek en die beter helfte het ook nogal die hooftooisels geniet. Op een stadium het ek myself simpel geskrik toe hy kliphard begin lag en skree: “Dis ’n koekiedrukker!” Die modes darem … – Maggie