Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Neels Jackson gesels oor godsdienstige verwysings in koerantberige oor misdaad en ongelukke


Neels Jackson - 2011-05-09

Neels Jackson reageer op die artikel “’n Kritiese evaluering van godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke in Beeld en Rapport” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Christo Lombaard en Johannes Froneman.

Is daar genoeg om enigiets te sê?

Christo Lombaard en Johannes D Froneman se artikel “’n Kritiese evaluering van godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke in Beeld en Rapport” roer twee kwessies aan. Die een is die openbare spiritualiteit soos blyk uit die berigte, en die ander is die joernalistieke aspek: die koerante se hantering van godsdienstige verwysings en die moontlike invloed wat hulle daarmee weer op hul lesers kan hê.

Laat my daaroor die volgende opmerkings maak:

1.  Die studie het ’n baie beperkte fokus, soos dit self ook aandui. Dit kyk slegs na berigte wat oor misdaad en ongelukke gaan. Dit ignoreer dus alle ander berigte wat oor kerke en godsdiens gaan. Dit ignoreer ook alle ander berigte, hetsy oor politiek, sport of ander kwessies, waarin daar godsdienstige verwysings ter sprake mag kom. Dit ignoreer alle diepte-artikels oor godsdiens. Dit ignoreer alle lesersbriewe met godsdienstige verwysings. Dit ignoreer die eksplisiet godsdienstige daaglikse rubriek “Goeie Nuus” in Beeld en dit ignoreer weeklikse godsdienstige rubrieke soos “Godsdiens-aktueel” en “’n Woord onderweg”. Dit ignoreer ander weeklikse rubrieke waarin daar godsdienstige verwysings mag voorkom. Kortom, dit ignoreer die oorgrote meerderheid godsdienstige verwysings in die koerante. Dit fokus slegs op ’n klein minderheid tekste, berigte oor misdaad en ongelukke, en selfs daarin kom godsdienstige verwysings volgens die artikel in ’n minderheid van gevalle voor. As koerante dan wel met hul godsdienstige verwysings ’n invloed op lesers kan hê, soos die artikel aanvoer, is dit ’n vraag of ’n mens daardie invloed bloot uit die klein minderheid verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke sou kon aflei. Ek dink nie so nie. Of sou die verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke ’n ander en afsonderlike invloed van die res van die godsdienstige verwysings in die koerant kon hê?

2.  Die outeurs plaas die godsdienstige verwysings in berigte oor ongelukke en misdaad binne die teoretiese raamwerk van agendastelling, as iets “waaroor daar gedink en gepraat word”. Dít terwyl dit in my ervaring as praktiserende joernalis vir meer as twee dekades by ’n dagblad eintlik niks meer as toevallighede is nie. Wat bedoel ek daarmee? Dat die vraag na godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke iets is wat nog nooit, waarvan ek bewus is, eksplisiet binne Beeld se redaksie bespreek is nie. Dis nie iets waaroor daar ’n beleid of agenda is nie. Dis iets wat terloops as ’n gegewe opduik tussen ’n horde ander gegewens.

Miskien help dit as ek die proses van misdaadverslaggewing beskryf. ’n Misdaadverslaggewer hoor van ’n misdaad of ongeluk, gaan uit na die toneel toe en probeer met die betrokkenes praat. Kortliks is die verwagting dat die verslaggewer moet uitvind wat gebeur het en die betrokkenes se reaksies moet kry. Die idee is om die menslike kant van die storie te vertel. Ek kan nie dink dat ’n misdaadverslaggewer of ’n nuusredakteur ooit sal vra: “Het ons godsdienstige verwysings gekry?” nie. Of die slagoffers en hul naasbestaandes in godsdienstige terme gaan reageer, hang van hulle af. Doen hulle dit wel, hang dit van die individuele verslaggewer af of hy of sy dit gaan gebruik of nie, en indien wel, hoe dit gebruik gaan word. (En terloops: misdaadverslaggewers is dikwels redelik junior redaksielede.) ’n Mens moet in ag neem dat die verslaggewer sy of haar hele storie binne die bestek van een berig moet vertel – en ’n langerige berig in ’n dagblad is miskien 400 woorde lank. Wanneer die verslaggewer die storie gaan skryf, is ’n vraag soos die in- of uitsluiting van godsdienstige verwysings nie ter sake nie. Die vraag is hoe die storie, met die menslike kant daarvan, so goed as moontlik in sowat 400 woorde vertel kan word. As die godsdienstige verwysing help om dit te doen, word dit ingesluit. So nie, bly dit agter. Wanneer die berig geskryf is en by ’n subredaksielid uitkom wat ’n opskrif moet skryf, is die vraag oor die in- of uitsluiting van godsdienstige verwysings ook nie ter sake nie. Veel belangriker is die vraag na ’n treffende kop, die ruimte waarbinne die woorde van die kop moet inpas en die tyddruk waaronder die kop geskryf moet word. Die gedagte dat godsdienstige verwysings “met opset” uitgelaat word, is vir my vreemd. As daar sprake is van godsdienstige agendastelling by die koerant, moet dit veel eerder gesoek word in die berigte, artikels en rubrieke waarin dit doelbewus oor godsdienstige sake gaan.

3.  Wat kan ’n mens regtig oor mense se spiritualiteit aflei uit die enkele aanhalings in ’n berig? Ek dink nie veel nie. Daar is inderdaad soveel geraas in die kommunikasieproses. Dink maar net daaraan dat iemand wat getraumatiseer is, skielik met ’n vreemdeling moet praat. Dit roep verskeie vrae op: In watter mate maak so iemand werklik sy hart oop? In watter mate verteenwoordig daardie eerste reaksie werklik die persoon se spiritualiteit? In watter mate weerspieël die enkele sin of twee wat die joernalis dalk wel aanhaal uit alles wat die persoon gesê het, die persoon se spiritualiteit? Sulke nuusberigte laat nie juis veel ruimte vir nuansering nie.

4.  Ek vind die teologiese beoordeling – aangebied as “gevolgtrekkings waartoe met groter stelligheid gekom kan word” – vreemd. As daar byvoorbeeld gesê word dat een benadering “op die duur geen bevredigende antwoorde kan bied nie”, sou ek wou weet: Bevredigend vir wie en bevredigend op grond van watter norme? My ervaring is dat geloof iets irrasioneels is. Dit word immers aangebied as “bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Die maniere waarop mense glo, mense se spiritualiteit dus, verskil. En dit het niks te doen met reg of verkeerd, met goed of sleg nie, maar met goed soos persoonlikheid. Dit is al goed beskryf in die praktiese teologie. Die een ou sal God vind in ’n juigende lofprysing met die hande in die lug, in sang en dans. ’n Ander sal God vind in stilte en meditasie. Net so sal een persoon na God soek met rasionele nadenke en ontleding en interpretasie van tekste, terwyl God vir ’n ander in misterie en simboolryke liturgie te vinde sal wees. En om terug te kom na die artikel toe, ’n benadering wat vir een persoon onbevredigende antwoorde bied, kan vir iemand anders troos bring. Elke spiritualiteitstipe, elke teologie en elke kerklike stroming en tradisie het sy sterk én sy swak punte. Om een soort benadering as goed of beter en ander as swakker en minder standhoudend te beoordeel, is minstens eensydig, en dan behoort die outeurs aan te dui uit watter perspektief hulle beoordeel en met watter maatstawwe hulle meet. Daarmee sê ek nie daar is nie goeie en slegte teologie nie, maar ook dat dit ’n kwessie van perspektief is. Daarby het ons nie hier te make met teologie in die wetenskaplike sin van die woord nie, maar met brokkies spontane geloofsuitsprake in traumatiese situasies.

5.  Uiteindelik wonder ek egter of die data waarmee hier gewerk word, genoeg is om enige sinvolle gevolgtrekkings te maak, hetsy oor die joernalistieke praktyk of oor die spiritualiteit van mense. Dit lyk my nie so nie.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<