Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Snars poëtika

Die bloedlyn van die boek


Bibi Slippers - 2011-05-05

Die week in woorde

1939 was ’n gewone jaar wat op ’n Sondag begin het. Iets anders wat daardie jaar begin het, was die Tweede Wêreldoorlog.  En dit was die begin van Breyten Breytenbach se lewe.

1987 was nóg ’n gewone jaar, maar die jaar het op ’n Donderdag begin. In 1987 ontwerp Tinker Hatfield die Nike Air Max en in dieselfde jaar is Jasper van Zyl in die Paarl gebore.

Daar lê 48 jaar (ongeveer twee generasies) tussen die geboorte van Breytenbach en Van Zyl. Volgens populêre generasie-teorie is Breytenbach deel van die sogenaamde Silent Generation (hulle ken hom duidelik maar sleg) en Van Zyl ’n lid van Generasie Y, of Generation Next. Mens sou moontlik kon praat van ’n generasiegaping. Maar nou nie heeltemal in die HAT-sin van die woord nie. Ek dink eintlik aan die gaping as potensiaal. As leegte. As wit papier. As ruimte vir ’n brug. Aan alles wat in die gaping geskryf is. Aan derduisende, miljoene woorde.

Die bloedlyn van die boek.

Breyten se eerste bundel het ook verskyn toe hy omtrent so oud was soos Japser nou: bloedjonk. Een van die dae kan mens dalk vir Breyten oud begin noem, maar nie nou al nie. Die Woordfoël het nog heelwat skop. Lees gerus die resensie van Breytenbach se bundel Die beginsel van stof wat hierdie week op LitNet verskyn het. En intussen kan jy solank kennis neem van jong Jasper, wie se Die lewe tussen pikkewyne onlangs verskyn het. Lees my onderhoud met Jasper oor die digkuns en sy pikkewyne-pennevrug hier.

Dis geen verrassing dat Jasper ’n aanhanger van Breyten is nie. Ek gaan nog probeer vasstel of Breyten ook ’n aanhanger van Jasper is. Intussen kan ek beide bundels aanbeveel. Soos hulle graag in die advertensies sê: dis digkuns wat oud en jonk sal waardeer.

 

Lees meer op LitNet

LitNet is vol leesstof vir dié wat meer wil lees oor Breyten en Jasper.

Gooi ’n digterlike draai

Daar is hierdie naweek twee geleenthede vir Kapenaars om hul gunsteling-digters in aksie te sien. Maak Vrydagaand 6 Mei ’n draai by die tweede InZync Poetry Session in Kayamandi. Meer inligting oor die geleentheid is hier beskikbaar.

Saterdag 7 Mei is daar ’n bespreking van die boek Letter to South Africa by Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Uitgewer Frederik de Jager sal aan die woord wees, en digters Zandra Bezuidenhout, Leon de Kock, Danie Marais en Melt Myburgh sal hul gedigte voorlees. Die praatjie begin om 11 vm.