Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 05/05/2011: Spoke en die bowe-natuurlike ...


HJ - 2011-05-04

Ek is ’n kenner van spooksels. My werk binne die korporatiewe wêreld, met rekenmeesters, produksiebestuurders, chemici, ingenieurs en diesulke virtueel-spirituele dinge vorm die grondslag van my kennis van die fenomeen. Dan het ek ook al ’n paar tipiese spoke in lewende lywe ontmoet. Regtig.

Die spookstorie-ding is al lank met ons. Die bowe-natuurlike. (Jy sê die woord “bonatuurlik” met ’n grafgril in die stem. As jy ouer as sestig is seg jy dit met gravitas.)

In die meer “primitiewe” kulture (en ag, vergewe my, vir die polities inkorrekt ... nie korrekt ... verkeerde “primitiewe” woord – jy weet wat ek bedoel) word die stories nie as stories gesien nie maar meer as deel van die alledaagse lewe en wandel van die mense.

Ek wil meer fokus op Suid-Afrikaanse spoke.

Nou, die Suid-Afrikaanse spoke het nie altyd te doen met spoke wat Afrikaans praat nie. Onder die klomp is daar vele Britse soldate, Sjinese en ander uitlanders. Die Britse soldaatspoke is gewoonlik Iere of Skotte. Wat natuurlik boekdele spreek van die aard van soldaatspoke.

Die soorte Suid-Afrikaanse spoke: (Die lys is lank. Ek noem net die hoofsoorte.)

Daar is klapspoke, ryloperspoke, groetspoke, hangspoke, lawaaispoke, stinkspoke, kinderspoke, stoutspoke, oorlogspoke, afkopspoke, beskermspoke, soekspoke, padvinderspoke, soenspoke, speelspoke, verdwaalspoke, treurspoke, dierespoke, en les bes, vryspoke. ’n Laaste onsekere kategorie is die van spoke wat nie weet hulle is spoke nie.

Kenmerke van spoke:

1 ’n Spook het sy tyd en syse plek. Dit beteken die spokerasie het sekere neigings en maniere eie aan die spooksel. Dit het gewoonlik te doen met die se aard en neiging toe die spook nog ’n skepsel was en die manier en plek waar die skepsel ’n spook geloop worre.

2 Alle mense het al spoke gesien. Meeste weet dit net nie. Jy moet ’n spook ken na sy aard voor jy weet dis ’n spook. Oplettend wees. Loop maar in enige winkelsentrum rond. Jy sal ten minste een of twee sien. Meeste rekenmeesters in groot maatskappye is spoke. Hulle weet dit net nie.

3 Nie alle skepsels wat die tydelike met die ewige verwissel word spoke nie.

4 Sekere soort skepsels word sekere soort spoke.

5 Sommige spoke kan praat. Maar meeste spoke staar net nors voor hulle uit. Ek weet van ’n spook of twee wat kan skrywe. Lees maar net ’n paar briewe hier op die Lit.

6 Daar is moderne soort spoke en outydse soort spoke. Meeste klapspoke en afkopspoke is outydse spoke.

7 Sommige spoke en veral vryspoke word vir gode of engele aangesien. Dis was ook deur die eeue heen ’n goeie verskoning vir ’n ligte foutjie.

Plek ontbreek om elke spooksoort te bespreek maar ek vertel van ’n paar wat ek nou soort van persoonlik ken.

Ek en my liefie is op pad Durban toe. Daar staan ’n mannetjie langs die pad. Hy lyk half verwese en ek besluit om hom op te laai. (Dit was lank gelede. Was nog veilig.) Hy klim in en ek vra waarheen. Hy fluister dat hy vir syse ma gaan kuier. Net op die volgende dorp. Estcourt. Ons ry maar deur die dorpie en hy beduie dat ons hom net “hier” kan aflaai. Dis by die begraafplaas. Volgende oomblik is die wetter weg. Maar weg soos in verdwyn soos mis voor die son! Dis maar ’n stil rit verder.

Aan die onderkant van my tuingeruigte woon ’n groot katspook. My Bulhond, Nefie, weier botweg om alleen na die onderdeel van die tuin te gaan. Die bul sal saans as hy inkom, eers so ’n lang bangkyk-kyk na die bosserigheid van die ondertuin en dan so ’n benoude bulder daarheen blaf. Dis dan asof hy nie gou genoeg in die huis kan kom nie. So asof iets aan sy gathare krap. As hy ’n lang stert gehad het, sou dit om sy ballas gekrul het. Maar nou het hy ʼn vreeslike kort stert en kan hy net pol-oop-en-toe.

Gaan kuier ons en onse kinders (hulle was toe so sewe, agt jaar oud) by my pa op die plaas. Verdwyn die kinners elke dag die bosse in. Kom die kinners laatmiddag van die veld af en vertel dat hulle so lekker by die bure se kinders gespeel het. By die murasie so ’n ent of wat die bos in. Vertel hulle van die kinders in snaakse outydse klere en met sulke pikswart oge. Brom my pa dat daar nie bure binne tien kilometers van die plaas af is nie. My liefie wil huis toe.

Sal ek dan nou lieg? Ekke?

HJ