Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Drie opsies vir bruines


Jason Lloyd - 2011-05-04

Untitled Document Die nuwe verskynsel hier vlak voor die plaaslike verkiesings is dat die ANC veral steun verloor onder sy tradisionele bruin middelklas-kiesers, wat ’n minderheid in dié gemeenskap vorm. Die meerderheid bestaan uit die werkersklas en ondersteun hoofsaaklik opposisiepartye soos die DA.

In gesprekke met mense uit die bruin middelklas, debatte op so­siale netwerke en koerantbriewe voer hulle aan die ANC is gestroop van alle redelikheid. Dat die waardesisteem wat die Mandela-generasie geskep en in stand gehou het, deur die Polokwane-populisme vernietig is. Dat die ANC verval het in ’n party waarin korrupsie en onbevoegdheid gedy en wat nie die basiese beginsels van die Grondwet respekteer nie – vernaam dat Suid-Afrika aan ál sy inwoners behoort.

’n Beduidende getal van dié ontevredenes is nou partyloos en gaan na alle waarskynlikheid nie stem nie. Ander gaan hulle sekerlik tot opposisiepartye wend en ook vir hulle stem.

Kyk, bruin mense het ’n kruispad in Suid-Afrika bereik. In so ’n mate dat die persepsie (waar of vals?) dat bruines nog altyd gedwonge "rand-benutters" van die vrugte van "witmensvoordele" (voor 1994) en "swartmensvoordele" (ná 1994) was, nie meer polities en ekonomies gered kan word nie. Hulle moet begin om iets vir hulself te doen. Sommige bruines moet dus opstaan uit hul chroniese ellende van tik, dwelms, bendegeweld en tienerswangerskap en op reis gaan om ’n eie selfstandige bestemming te vind.

Dit gaan egter ’n reis wees op ’n pad wat nie sonder slaggate en risiko's is nie. Die keuse van ’n voertuig om dié reis aan te pak moet dus nie ligtelik opgeneem word nie. Dit moet strategies goed beplan word.

Daar is hoofsaaklik drie opsies vir bruines. Dit is die politiek, identiteitsvorming en ekonomiese bemagtiging.

Is die politiek die antwoord vir die dilemma waarin bruines hulle tans bevind? Die verlede, hede en toekoms sal nog telkemale bewys dat die heil van bruines nie by die politiek lê nie. Hoe bruines in die verlede en tans polities geboelie is en word, is oorbekende geskiedenis waaroor al tot satwordens toe geskryf is. Ek twyfel ook of bruines se antwoord in die vorming van ’n politieke party opgesluit lê. Vir my klink dit liewer na politieke selfmoord.

Die sukkelende opposisiepartye blyk ook nie ’n keuse te wees nie, want sommiges se begrip van moraliteit en ubuntu word reeds grondig bevraagteken. Die basiese reg op keuse mag by bruines as ’n minderheidsgroep nooit ’n lisensie vir dwase politieke besluite wees nie.

Identiteit mag nie as ’n voertuig beskou word nie, want juis die gebrek aan konsensus oor wat daardie identiteit behoort te wees is ’n innerlike wroeging by bruines wat nog nie opgeklaar is nie.

Wat wel nodig is in terme van identiteitsvorming, is die besef dat alle mense na die beeld van God geskape is en dus in Sy oë belangrik geag word. Én dat bruines die nasate van die "eerste mense" van Suid-Afrika is.

Omdat bruines van Afrika en spesifiek Suid-Afrika is, is hulle ook swart en dan etnies bruin, kleurling, Khoi, Boesman, Griekwa of gemeng. Eers as ons dit met trots kan aanvaar en sê, het ons as ware Afrikane en ook as Suid-Afrikaners gearriveer.

Dan is daar die laaste opsie: studies het getoon dat veral ekonomiese bemagtiging onder bruines ontbreek, in teenstelling met ander etniese groepe. Die onderlinge klassestelsel by bruines oorheers eerder en tree op as hindernis vir bemagtiging, terwyl dit juis die voertuig moet wees om bruines uit hul ellende te lei.

Gaan lees gerus wyle Jan Sadie se toonaangewende boek oor die ekonomiese bemagtiging van die Afrikaner, The Fall and Rise of the Afrikaner in the South African Economy. Die manier waarop die Afrikaner homself en Suid-Afrika opgebou het, behoort bruines en swartes in die algemeen tot nuwe insigte oor ekonomiese bemagtiging te bring. Eers dan sal bruines miskien in die ANC se besprekingsdokumente – soos die nasionale vraagstuk – as ’n ekonomiese en later as ’n politieke faktor gereken word.