Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Die vlees is gewillig, maar die storie nié


Jacques Liebenberg - 2011-05-04

Regisseur: Neil Burger
Kamerawerk: Jo Willems
Rolverdeling: Bradley Cooper, Abbie Cornish en Robert de Niro
Looptyd: 105 minute

 

Op ’n ooglopend gepaste manier is die titel van die fliek Limitless ironies, want ’n rolprentmaker kan omtrent enigiets met dié storie aanvang.

Gelukkig vir die minder kieskeurige fliekganger het die regisseur, Neil Burger, besluit om die beproefde en voorspelbare resep van oordadige, visuele foefies in te span om die gate in die draaiboek (gegrond op Alan Glynn se gelyknamige roman) te probeer verdoesel. Plaas daarby die fokus vierkant op die charismatiese hoofspeler, in dié geval Bradley Cooper, en Bobbie is jou oom. Dis dan geen verrassing dat Limitless so ’n grenslose bron van irritasie is nie, want Burger is ook die man wat daarin kon slaag om The Illusionist, met Edward Norton, na ’n B-klas-TV-fliek te laat lyk.

Cooper, daardie flou bleeksiel van Alias wat sedertdien in die  “nuwe Brad Pitt” ontpop het, is die spil waarom sake draai. Hy’s verloorder, dinamiese held, ek-verteller en supermens als in een. Daarby is sy oë so blou dat Hitler afgunstig sou wees én hy kry die kans om Robert de Niro in sy moer te stuur. Ai, die lewe van ’n Hollywood-hartebreker darem.

O ja, en moenie van die vereiste maar onwaarskynlike bakleitoneel vergeet waarin SuperSarel (’skies, Van) se 100% funksionerende brein hom in staat stel om by Bruce Lee te gaan leen en sewe sluipers te verinneweer nie. Dit laat mens skoon nostalgies aan Jude Law se manewales in The Wisdom of Crocodiles dink. Of aan swak redigering in ’n King of the Cage-episode.

Burger het darem bietjie gaan sit en dink en toe onthou hy van al die bloed wat so spat in Bound en hoe hot Gina Gershon was, en dit was dalk die saadjie vir die fliek se beste toneel, maar andersins laat Limitless ’n mens hoofsaaklik met ’n drang na iets veel sterkers wat jy oor jou springmielies of in jou Cream Soda kan gooi.

Dis een van daai flieks wat vir twee tot drie minute se rigtinglose debatvoering sorg terwyl jy vir jou cappuccino wag en wat onvermydelik uitloop op die soort stelling dat die soetsappige Phenomenon ’n veel realistieser blik op verhoogde breinfunksie bied. Maar laasgenoemde speel op die platteland af en Bradley Cooper in ontwerperspakke sou eenvoudig nie in ’n droë mielieland werk nie. Selfs nie met ál Abbie Cornish se donker eyeliner net in die voorlaaste toneel nie.

Eintlik laat Limitless ’n mens met net een vaagweg interessante vraag: Kan die Stormers-ondersteuners dit nou al bekostig om so windgat te wees?