Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Vrye Woord-nuusbrief – 03.05.2011: Vrye Woord herdenk Wêreld-persvryheidsdag


2011-05-04

Untitled Document

03.05.2011

Vrye Woord herdenk Wêreld-persvryheidsdag

Tydens die viering vandag verklaar Vrye Woord graag ons voortgesette toewyding om die onderdrukking van pers- en spraakvryheid te bestry. Lees meer oor die dag in die Engelse berig hier onder.

Ons mag nie gerus raak omdat die uitgeslape ANC besef het hulle moet minder luidrugtig oor hulle twee muilbandwette wees nie, veral voor die verkiesing. Hulle het nog geensins hulle drakoniese planne laat vaar nie. Hoe meer hulle algehele  korrupsie oopgevlek word, hoe meer wil hulle volgens die voorbeeld van hulle leier monde stilmaak.

Vrye Woord sal aanhou doen wat ons kan om onderdrukking van spraakvryheid aan die kaak te stel en dit saam met die pers aan die groot klok te hang. Môre styg die petrolprys weer dramaties en almal aanvaar maar “dit is onvermydelik”. Die sytak van ons nuusbrief, WikiLigni, is egter besig om steeds inligting in te samel wat sal toon dat dit glad nie so onvermydelik is nie. ’n Kartel is besig om hierdie buitensporige stygings agter die skerms te manipuleer en die regering is skynbaar magteloos. Ons buitelandse informant het gesaghebbende kontakte, tot so ver as China, wat positief betrokke wil wees.

Ons sal steeds daaroor en oor ander omstrede sake berig, omdat ons geen waghond het wat ons kan stilmaak nie.

Charles Malan



Reporters Without Borders marks World Press Freedom Day

The press freedom organisation Reporters Without Borders will be present on many fronts on 3 May, World Press Freedom Day.

For the 10th year running it will publish a new list of Predators of Press Freedom – politicians, government officials, religious leaders, militias and criminal organisations that directly target journalists and regard the press as a bugbear, as a major enemy. They are powerful, dangerous, violent and above the law.

Reporters Without Borders will participate in a meeting on online free speech in Tunisia, while one of its representatives will be in Turkey to defend the work of journalists there.

The organisation has been invited by UNESCO to pay tribute in New York to Stéphane Taponier and Hervé Ghesquière, two French TV journalists who have been held hostage in Afghanistan since 29 December 2009.

Reporters Without Borders is also publishing a new collection of photos. Dedicated to the work of René Burri, it went on sale on 28 April.

Other events are planned to celebrate the defence of media freedom throughout the world.



CDP eer joernaliste wat met hul lewe geboet het    

“Terwyl internasionale Persvryheidsdag vandag gevier word, is die vieringe in Suid-Afrika effens gedemp. Suid-Afrika het verlede jaar met vyf plekke op die internasionale persvryheidsindeks teruggesak na die 38ste posisie en is lank nie meer die mees persvrye land op die kontinent nie. Trouens, Freedom House het Suid-Afrika as slegs gedeeltelik persvry geherklassifiseer,” sê Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP).

“Onder die redes wat Verslaggewers Sonder Grense verskaf het oor hoekom Suid-Afrika so die kreeftegang gegaan het, is die ANC se planne vir ’n mediatribunaal en wetgewing wat die vrye vloei van inligting verder sal beperk, en Julius Malema se walglike gedrag teenoor ’n BBC-joernalis.

“Mediavryheid speel ’n onontbeerlike rol in demokrasie, en in die stryd teen korrupsie. Vanjaar is reeds 18 joernaliste in die uitvoering van hul werk dood, en 151 is of was in aanhouding. Altesaam 128 internetjoernaliste is in aanhouding.

“Volgens Verslaggewers sonder Grense se jongste lys van media-roofdiere is sewe van die 38 bedreigings in Afrika. Hieronder tel Robert Mugabe en koning Mswati III op die Suid-Afrikaanse grense. Suid-Afrika se verhouding met dié twee despote is egter nie in ooreenstemming met hul internasionale aansien nie.

“Ons eer die joernaliste wat met hul lewens geboet het om demokrasie aan ander te help verseker.”



SA fotograaf in Libië simbolies van regering se apatie jeens mediavryheid

Die regering se traak-my-nieagtige houding teenoor die Suid-Afrikaanse fotojoernalis Anton Hammerl, wat reeds vir 29 dae vermis is in Libië, is simbolies van sy apatie teenoor die bevordering van mediavryheid in Suid-Afrika.

AfriForum het hom gevolglik vandag, op Internasionale Mediavryheidsdag, opnuut verbind tot die bevordering van mediavryheid en die beskerming van joernaliste se regte in Suid-Afrika. AfriForum het ook aangekondig dat sy regspan op ’n gereedheidsgrondslag geplaas is om in te gryp indien die bespiegelings wat tans onder die ANC-alliansie plaasvind om ’n mediatribunaal te skep, uitgevoer word.

“Vryheid van spraak en vryheid van die media is die hoeksteen van enige demokrasie en die media het ’n kardinale rol om te speel om deursigtige regering en die vrye wisseling van idees te bevorder,” het Ernst Roets, AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, gesê.

“As die regering bekommerd is oor slegte blootstelling in die media, is die oplossing nie om die media aan bande te lê nie, maar eerder om dít waaroor negatief berig word, insluitend swak dienslewering, misdaad en korrupsie, aan te spreek. Die beskerming van mediavryheid is een van AfriForum se kerndoelwitte, omdat dit hand aan hand gaan met vryheid van spraak, soos wat dit in die Grondwet vervat is,” sê Roets.

Die beperking van mediavryheid laat rooi ligte flikker vir die toekoms van die regstaat en ’n demokratiese Suid-Afrika.

Roets het bygevoeg dat die beskerming van mediavryheid nie net met wetgewing en tribunale te doen het nie, maar ook met die beskerming van joernaliste wat in moeilike omstandighede hul plig nakom om die waarheid aan hul gemeenskappe oor te dra.

Hammerl is ’n sprekende voorbeeld hiervan en ons verwag aksie van die regering om die krisis aan te spreek eerder as beloftes oor gesprekke, het Roets gesê.



Vryheid en nodige beperking van vryheid

Herman Toerien

Moet spraakvryheid soms wel aan bande gelê word? In ’n Nederlandse kompetisie deur die dagblad Trouw word hierdie vraag nog skerper gevra: “Stop de vrijheid?”

Die kompetisie, waarvoor die inskrywings Saterdag 16 April gesluit het, het 160 inskrywings ontvang. Die kompetisie het met die haatspraakverhoor van Geert Wilders saamgeval.

Byna elke moontlike tema het egter in die inskrywings aan die beurt gekom – die mens se verantwoordelikheid teenoor die natuur, genetiese seleksie, die kopdoekdebat, vuurwapenbesit ...

Verskeie deelnemers bepleit wat ten beste opgesom kan word as vryheid met verantwoordelikheid. Die feitlike versugting na permissiewe vryheid van die Joop den Uijl-era is baie stiller. Die wenners moet nog aangewys word.

Wat Suid-Afrika betref, is daar miskien een opmerking uit ’n inskrywing wat ’n mens ondertussen in die kies kan stop en aan kou. Nederland het naamlik met die jongste persvryheidsindeks tot die gesamentlike eerste posisie verbeter, en dié deelnemer wys op die kosbaarheid hiervan.

Hy gaan egter verder, en meen hiermee word op Nederlanders wat dié vryheid koester, ’n verantwoordelikheid geplaas om ander wie se menings in die doofpot geplaas word, nie in die steek te laat nie.

Dit is miskien die één boodskap wat Suid-Afrikaners, wie se land in een jaar met vyf plekke op die persvryheidsindeks gedaal het, moet waardeer. Ander ag ons persvryheid hoog – ons moenie self toelaat dat dit verslons nie.