Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 04/05/2011: Boelies van groot en klein


Klaar-geboelie - 2011-05-03

Vanaand gekyk na die program Robinson Regstreeks op KykNET. Freek het ’n onderhoud gevoer met oa ’n jong seun en sy pleegsorgma. Die mannetjie noem toe dat hy deur ’n seun geboelie is wat ek aanneem groter is as hy. Net daar dink ek toe dat dit nie net kinders is wat mekaar boelie nie. Ook grootmense boelie soms kinders en selfs hul ondergeskiktes. (En omdat die drie wie ek gaan noem, reeds oorlede is, kan en wil ek hul name noem. Sou graag vandag voor hulle wou staan en kyk of hulle nog so dapper sou wees soos destyds.)

In my geval is ek deur ’n onderwyser, ene Goldie is sy naam, toe ek in 1954 op skool in Vanrhynsdorp in standerd vyf was geboelie. Hy het by ons skool afgelos. Al wat ek kon dink is dat hy nie van my gesig gehou het nie en my as twaalfjarige nie as ’n model-leerling gesien het nie. Het baie jare later gehoor hy werk by Santam iewers in die Oos-Kaap, dalk Oos-Londen.

Daar was ’n tweede persoon, ene Van Zyl wat eweso nie van my gesig gehou het nie. In 1960 was ek ’n junior-klerk en hy ’n senior by departement van Aksyns in die Paarl. Hy was nie eens my hoof nie, maar het op my kop af gekom om geen rede nie. Ja meneer, goed meneer was die enigste hoe ek toe kon reageer.

En sowaar ’n derde persoon, Johan Hanekom wat provinsiale bestuurder was van Sanlam in die Vrystaat en Noord-Kaap in die tagtigerjare was nog een wat nie van my gesig gehou het nie. Dalk het hy stories van my gehoor en my gedrag/optrede of wat ook al onaanvaarbaar vir hom gevind, want ek was eintlik nooit direk met hom in kontak nie.

Wys jou net mens kan dink jy het ’n aanvaarbare gesig en is ’n smart outjie terwyl ander nie so dink nie en jou gesig wil herstruktureer en saam daarmee ook jou menswees. Ek erken dat dit moontlik is, en ek het aanvaar dit as ’n baie nabye feit dat uit elke drie mense een van jou sal hou, een neutraal sal wees en een glad niks van jou sal hou nie. Maar gee dit enige persoon die reg om as hy nie van jou hou nie, jou dan te wil benadeel/verneder of selfs voor ander te verkleineer en selfs sy afsku vir jou voor ander te wys? Wat maak dit van so ’n boelie? ’n Swakkeling of onseker mens of dalk een met voete van klei? Lg moet altyd iets ten toon stel om sy/haar eie swakheid te verbloem. En dit vind mens baie in die grootmenswêreld. ’n Goeie voorbeeld is ’n persoon wat ’n pos beklee en nie regtig bekwaam is vir daardie pos nie en dan met vertoon homself wil vestig. Daar is baie sulke gevalle.

My ondervinding was dat die drie wat ek genoem het, se persoonlikheid my laat dink het dat die sielkundige wat op die program was, reg is toe hy gesê het die boelies is onseker mense met tekortkominge. En ongelukkig is dit so dat iemand wat gedissiplineerd is en respek teenoor seniors betoon – wat ouderdom en in werksverband betref, nie terug baklei nie. Kinders het my nooit geboelie nie. Geterg ja en soms soos wat seuns maak oor iets gespot, maar boelie, nee. Ek sou hulle met die vuis bygekom het, want appels swaai was nie ’n vreemde ding nie. Vraag is hoe maak jy as grootmens? Sal graag wil hoor wat sê ander persone.

Boelies pasop! Daar’s iemand wat jou dalk aanvat.

Softie? Nee Ordentlik

Klaar-geboelie