Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 02/05/2011: Loopdop: Syfermense


HJ - 2011-04-29

Ek het my lewe lank ’n heimlike wantroue in syfermense. Verstaan my goed, van my beste vrinne is syfermense. My Liefie is ’n syfermens. Wantroue is miskien nie die regte woord nie. Miskien is ek net versigtig vir syfermense. Die beste syferaars sit in die tronk. As jy somme kan pleeg kan jy steel ook.

Hulle reken goete soos Sin en Cos maak sin. En as jy vra hoekom ... sê hulle “cos-why.”

As die Liewenheer wou gehad het dat ons moet syfer het Hy Sy somme reg gehad. Ses dae? Maar dan moet mens weet dat Moses ook nie juis ’n vaardige syferaar was nie. Kyk hoe het hy in die woesterny verdwaal. En net omdat sy kop heeltemal begin raas het met die Numeri-boek. Die Hebreeuse naam is Bamidvar en die Griekse is Arithmoi. Nogal gepas woesterny en wiskunde.

Die beste rekenmeester is ’n Cohen. Ek het ene. Hy is nie in die tronk nie. Nog nie. Ek is oortuig die wetter besteel my. Nie dat daar rede is om so te dink nie. Sy boeke klop. Altyd. Klop selfs met my sintuiglike voorgevoel van wat die stand van ons finansies moet wees. Dis presies wat my laat wonder. Sien, ’n syferaar is soos ’n filosoof. As hulle eers begin verduidelik soek almal of skuiling of slaapplek. En as hulle se boeke klop moet jy “worrie”.

Die Jood en ek die kom al ’n lang pad saam. Hy is ’n skraal mannetjie met ’n kadot oppie kop en dooie oge. Sy hande het eelte. Alleenloper. As enige van ons geld wil spandeer kyk hy jou so dat jy onmiddellik skuldig voel. Al hoef jy nie. Hoe meer jy dan verduidelik hoe meer trek sy bek tuitlippig soos ’n landrasvark wat suurmelk ruik. Soos ’n boerbok wat wonder of hy jou hoog of laag moet stamp. En as jy met sy syfers peuter blaas hy in jou rigting soos ’n jagse mannetjieskat.

Stap ek by sy kantoor in. Cohen is nie tuis nie. Maar sy rekenaar is oop en ek sien hy is besig met sy finansiële verslag. Die duiwel fluister in my oor en ek blaai so terug na die krediteure kant. Verander drie nulle in vier nulle. Sluip terug na my plek en sit myselwers en verkneukel. ’n Paar minute voor die direkteursvergadering storm hy by my in. Wit in die gesig. Effens ontsteld.

“HJ, we have a problem!”

“Cohen, nou wat is dit ou maat?”

“Our profits have gone to hel!”

“Kannie wees nie. Ons het ’n goeie maand gehad. Het jy nie ’n fout gemaak nie? En let wel, dit is nie ‘ons’ probleem nie, dit is joue.”

“What! I don’t make mistakes! Some bastard has overspend!”

“Cohen, Cohen, Cohen. Kaa-alm nou. Bedaa-aar vrind, bedaa-aar ...”

Maar Cohen wil of kannie bedaa-aar nie.

Ek besef as ek my onderduimsheid erken, ek ’n kwade dood gaan sterf. Stadig en pynlik. My voorgeslagte vervloek en my nageslag tot niet. Hou den bek. Dis die enigste oplossing.

Daar is nie tyd vir regmaak nie en so is ons die vergadering in.

En Cohen sweet. Sy reputasie as überprins van syfers loop hom vooruit en nie een van die direkteure wil dit waag om te veel vrae te vra nie. Maar ek kan sien hulle verstaan nie mooi nie. Ons het almal dan “gedog” ons het ’n bietjie geld gemaak ...

Sweet Cohen, sweet jou syferbliksem! Ek vra doodonskuldig hoe dit moontlik is. Dit voel my so asof daar te veel nulle is. Aan die krediteure kant.

Cohen bekyk die spul syfers en die lig gaan vir hom op! Daar is wragtag ’n FOUT! Met SY syfers!

Ek kry hom amper jammer. Let wel “amper”. En Cohen, rooi in die gesig, stotter en stamel en fluister uiteindelik ... “Sorry boys, I made a f@$%&* mistake ... ”

Ons kyk na mekaar. Die gedugte Cohen het ’n foutjie gemaak! En dit erken!

Fred die Produksiedirekteur begin eerste handeklap.

HJ