Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 01/05/2011: Die gang van die lewe


Wini Esterhuizen - 2011-04-29

’n Mens kan sien die liggroen muur het jare gelede verf geproe. Die nou gang is nou deel van my gedagtegang. Dit het gister gebeur. Ek het onverwags in die kil, koue gange van die ouetehuis beland. Ons Tuiste. Dis die naam van die laaste rusplek vir bejaardes. Dis nie hoe ek ’n tuiste ken of wil onthou nie. Die deure het almal oopgestaan. In die eerste kamer het ek die hopie mens onder ’n kombers op ’n enkelbed gesien. Ek het die lyne van ’n mens herken, selfs al is al die lyne toegetrek deur ’n kombers. Die vrou het met haar rug na die deur gelê. Krom en moeg vir die lewe daar buite. Ek het skielik gewonder wie nog soms deur hierdie deur na haar toe loop. Dalk net die verpleegster? Sy het net so verlate soos die kamer om haar gelyk. Daar's geen vuur meer in haar oor nie. Die as wat nou oor is, is amper koud. As sy haar lewe oor kon hê, sou sy dieselfde dinge doen? Die deur het skielik soos ’n gapende wond gelyk. ’n Plek waardeur die doodsengel haar nommerpas doodskleed moet bring. Ek het aangehou loop. Probeer wegkom van die vasgekramde lywe op die enkelbeddens. Alleen siele sonder lag. Ek wou die son oor my lyf voel skyn. Ons almal is dieselfde. Dit maak nie saak of die sypaadjie of ’n ontwerperstoel in jou sitkamer gebruik het nie. Ons paaie kom almal by die dood bymekaar. Die pad van onthou word al vaer agter jou. Die dinge wat vir jou belangrik was, word stadig net ’n las. Ons gaan almal sonder ’n tassie of padkos uit hierdie lewe loop. Ons gaan nie eers parfuum of lipstick dra nie. Niks. Hoe stadiger ons begin stap, hoe vinniger loop die tyd. Ons besit maar eintlik niks. Besittings besit soms vir ons. ’n Mens pas soms so jou besittings op dat jy jouself van baie vreugdes ontneem. Toe die son weer buite op my skyn, loop ek ’n bietjie vinniger. As ek die dag sterwend is, bring vir my ornamente wat baie lank kan hou. Moenie vir my piepklein stukkies seep en sagte eetgoed bring nie. Ek wil goeters hê wat lank kan hou. Niggerballs en swart Wilson toffies. ’n Blink knipmes met ’n sent daarby. Bring vir die kind in my boeke oor Babalela en Huppelkind. Bring vir my ’n piepklein diertjie om vas te hou. Kom vertel vir my ’n lekker skurwe grappie. Hierdie groen gang het my nou vir altyd vasgepleister teen Ons Tuiste se mure. Dis seker soos dit is. Dis die gang van die lewe ...

Wini Esterhuizen