Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Artikels | Features

Eredoktorsgraad toegeken aan Katinka Heyns-Barnard


Katina Heyns-Barnard - 2011-04-29

Untitled Document

Op 14 April 2011 het die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidslegende Katinka Heyns-Barnard ’n eredoktorsgraad ontvang van die UP Dramadepartment.

Hier volg haar aanvaardingstoespraak.

Meneer die Kanselier, geagte Dekaan, dames en here. Ek het drie-en-veertig jaar gelede daar gesit waar julle nou sit. Na die gradeplegtigheid was my lektrise, mev Truida Louw, se woorde: “Vergeet nou alles wat ons jou geleer het … leef jou passie en volg jou droom.”

Ek word vandag danksy my passie en my nuuskierigheid beloon. Om konsert te hou is een ding, maar om vereer te word as ’n vakkundige deur my alma mater, die Universiteit van Pretoria, is iets heeltemal anders. Hoe op aarde het dit gebeur? Hoe het ek hier beland, op hierdie verhoog in ’n rooi toga, voor so ’n uitgelese gehoor? Wie het die teks geskryf? Dat ek nie vandag as ’n karakter uit ’n storie wat deur iemand anders uitgedink is, hier staan nie, maar net as myself, sonder ’n masker, is ’n hoogtepunt in my lewe.

Ek het jare lank ’n nagmerrie gehad waarin ek gedroom het ek moet op die verhoog gaan en ek het nie die vaagste benul wat aangaan nie. Ek weet nie wat die naam van die stuk of die karakter is wat ek veronderstel is om te speel nie. Ek ken nie my woorde nie. Spelers storm links en regs van my verby, maar daar is niemand wat my kan help nie. Soms kry ek ’n teks in die hande en probeer die dialoog uitpluis, maar ek maak nie kop of stert uit nie. En dan word ek geroep om op die verhoog te verskyn. Ek stap op. Doodse stilte … en dan skrik ek wakker in ’n koue sweet. Dieselfde droom. Oor en oor. Ek het aanvanklik gedink die droom oorval my wanneer ek onvoorbereid is vir een of ander projek. Later het ek gedink dit is seker voor die hand liggend, dis seker ’n soeke na identiteit.

Vandag weet ek. Droomtaal en storietaal is familie van mekaar. Elke drama het ’n hoofkarakter. ’n Held of ’n heldin. In jou drama is dit jy. Niemand kan die storie vir jou skryf nie. Jy skryf dit. Niemand kan dit namens jou speel nie. Jy moet dit speel. As jy kies om eerder ’n ekstra in iemand anders se storie te speel, gaan jy jou Heiland leer ken.

Wat is die verskil tussen ’n beroep en ’n roeping? ’n Beroep is iets waarvoor jy kan studeer. Elkeen van ons probeer ons lewe lank om hierdie raaisel te ontsyfer om te probeer agterkom watter rol ons gekom het om te speel. Ons word almal vroeër of later geroep. Is dit ’n soort heilige kontrak? Hoe weet mens? Dit kan ontsluit word deur ’n gebeurtenis of ’n krisis, ’n motorongeluk of ’n kaping, of die dood van ’n geliefde. ’n Landskap, ’n wonderlike boek of ’n fliek.

Joseph Campbell, die bekende skrywer van boeke soos The Power of Myth en A Hero with a Thousand Faces het dit so gestel:

It’s important to live life with the experience, and therefore the knowledge, of its mystery and of your own mystery. You learn to recognize the positive values in what appear to be the negative moments and aspects of your life. The adventure of the hero, the adventure of being alive.

George Lucas, die regisseur, het op ’n keer vir Campbell genooi na ’n voorskou van sy fliek Star Wars. Dit was vir Campbell ’n openbaring hoe Lucas die klassieke storie van die held in ’n moderne idioom kon vertel. Die boodskap dat tegnologie ons nie gaan red nie. Ons rekenaars en ons masjiene gaan ons nie red nie. Ons moet staatmaak op ons intuïsie, ons suiwer aanvoeling. Hy beskryf die argetipiese verhaal as ’n soektog na ’n eie identiteit. ’n Stem. The King’s Speech, die mees onlangse rolprent wat met ’n Oscar bekroon is, is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Stories help ons om te resoneer met oerwaarhede. Ek was soos enige kind honger vir stories. Eers die Christusverhale; vissies en brode – vyf brode en twee visse en toe’t hulle nog twaalf mandjies volgemaak. En van dié wat die brood geëet het, was net die mans vyf duisend! My pa se stories van meerminne, pêrels en haarnaalde. Sprokies. My ma moes Repelsteeltjie oor en oor en oor lees, totdat ek dit self kon lees. Toneelopvoerings. Die bioskoop! ’n Wit doek met ’n projektor wat flikker. Zorro, The Wizard of Oz, Gone with the Wind, Daar Doer in die Bosveld. Die sterre! Charlie Chaplin, Elizabeth Taylor, James Dean en Jamie Uys. Later ’n Meryl Streep en ’n Judy Dench. Regisseurs soos Ingmar Bergman, Frederico Fellini en Jane Campion. Daardie stemmetjie het al hoe harder gefluister en die skoenlappers in my maag het al hoe onrustiger gefladder. Ek het nie ’n vooropgesette idee gehad om ’n professionele aktrise of ’n regisseur te word nie. Maar dit was reeds in die draaiboek ingeskryf en ek moes die teks ontsyfer.

Daar was altyd en sal Goddank altyd gidse wees. Mense en hulle stories word rigtingwysers: jou grootouers, jou ouers en jou vriende. Ek was baie bevoorreg om dokumentêre programme te kon maak oor skrywers en denkers. Elke dramastudent ken hopelik DJ Opperman se “Negester en stedelig”:

Watter kaart of watter ster sal ek jou wys
om veilig deur die grysland heen te reis?
Sal ek van ’n God praat wat verdoem,
van Christus, en die Tien Gebooie noem?
Voorlopig dan, maar onthou altyd
aan jou dade grens ’n ewigheid;
gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen,
besef jy is ’n vegter weer van die begin, alleen;
en mag die Suiderkruis en Negesterre witter
as die stedeligte in jou siel bly skitter.

Marthinus Versveld: “Die maan is nie daar nie, die maan is hiér. Mense dink die maan is daar buite, maar die maan is hier binne.”

NP Van Wyk Louw, C Louis Leipoldt, Uys Krige en Jan Rabie. Jan Rabie se kredo was: “Sonder Afrikaans is ek niks.” As ek nie onderrig is in my moedertaal nie, kon ek nie die stories eie aan my kultuur vertel het nie en het ek nie nou hier gestaan nie. Dis ondenkbaar dat ’n kind nie van kleins af onderrig kan word in sy moedertaal nie. Moedertaalonderrig is nie ’n luukse nie, dit is ’n noodsaaklikheid.

Om in die kunste ’n bestaan te maak, is om die vlakte van onbegrip te loop. Die skrywer is die skepper en die regisseur, die tegnici en die spelers is die vertolkers. Jy betree met elke projek ’n onverkende ruimte. Jy en jou span. Jy pluis woorde uit. Jy werk met jou sintuie; met beelde, lig en skaduwee; klank, intonasies, infleksies en stiltes.

Daar is soveel mense wat oor die jare saam met my die pad geloop het. Die titelrolle van baie projekte getuig daarvan en die erkenning en bydraes is op skerms en in programme vasgelê. Laat my toe om twee mense uit te sonder: Koos Roets en Chris Barnard.

Koos Roets het my meer geleer van die tegniese aspekte van die rolprent- en die televisiebedryf as enigiemand anders. Hy het die vermoë om die sleutel van ’n toneel te snap en met beligting en komposisie van skote die storie visueel te vertel. Hy het die aanvoeling om ’n magiese ruimte te skep waarbinne akteurs kan werk. Koos het op een na al die films geskiet waarin ek gespeel het en min of meer almal waarvan ek die regie gedoen het. Hy het my geleer om verby die kabels en die ligte en mense wat rondskarrel te kyk en raampie vir raampie deur die oog van die kamera te fokus. ’n Anker deur baie jare …

Nouja en dan natuurlik die meesterstorieverteller Chris Barnard. Lank voor ek Chris ontmoet het, het ek hom leer ken deur sy werk as skrywer van romans, kort prosa, dramas en hoorspele. ’n Intuïtiewe mens met ’n sin vir humor en ’n fyn waarnemingsvermoë. Hy is ’n alchemis wat soos Repelsteeltjie strooi in goud kan verander. Sy karakters is geloofwaardig en sy dialoog ekonomies en sonder tierlantyntjies. Sy menslikheid en sy sensitiwiteit skemer altyd deur sonder dat hy ooit sentimenteel of pretensieus is. Hy is geordend, met die intellektuele vermoë om kreatiewe idees prakties uit te druk. Dankie, Chris, vir die honderde duisende woorde wat jy geskryf het. Jy was vir baie jare ’n stalmaat en ’n vennoot op wie ek kon vertrou.

Niemand sal weet wat dit vir my beteken dat al ons kinders vandag hier is nie. Dankie Johan, Stephan, Tian, Reghard en Simon. Julle het my geleer om van my regisseurstoeltjie af te klim en die proses te vertrou. Nie dat ek dit aldag regkry nie. Ek dank die Vader dat julle in julle bane bly. Al word julle soms afgestamp, al bars die bande en al raak die brandstof op. Om te sien hoe julle elkeen julle eie drake verslaan en julle eie avonture uitleef, inspireer my.

To all the graduates here today, I wish you well. Trust the process. Celebrate your talents, your language, your culture. Live your story and follow your dream.

I would like to conclude with the words of John Keats: “I know nothing but the holiness of the heart’s affection and the truth of the imagination.”

“Ek weet van niks anders as die heiligheid van die hart se toegeneentheid en die waarheid van die verbeelding nie.”