Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Nuwe boeke | New books > Afrikaans

Liefdesverhale: 2011


JB Roux - 2011-04-29

Untitled Document

Volgens ’n bron wat onregmatige toegang tot LAPA se kantore verkry en rondgesnuffel het, verskyn daar vanjaar heelwat boeke wat die tone gaan laat krul. Ons bring ’n paar van die opwindendste leesvooruitsigte nou reeds onder lesers se aandag, aangesien daar – met die onsekerheid oor hoe die dagblaaie se “nuwe” boekeblad gaan lyk – dalk nie weer so ’n geleentheid gaan wees nie.

Van Sophia Kapp gepraat: lesers wat van skop in hul mengeldrankies hou, sal verheug wees om te hoor haar volgende roman is voltooi en verskyn gedurende Oktober. Oor die tema hou LAPA nog hul kaarte teen hul bors, maar daar is min twyfel dat Die huis van die wind ’n treffer gaan wees – nes Die verhuising, wat pas herdruk is.

Die eerste in ’n reeks van drie liefdesromans deur Alta Cloete, Die geur van genade (2010), is die beste in dié genre wat ek in ’n lang tyd gelees het. Die tweede roman in die trilogie verskyn vandeesmaand en heet Die geur van vergifnis. Dié keer het ons te doen met ’n hardkoppige man in ’n rolstoel en ’n ewe hardkoppige vrou wat blokkieshemde en denims bó rokke verkies. Natuurlik is daar min twyfel dat hulle liefde gaan vind, maar die pad tot daar is lank. Die geur van geluk verskyn in November.

Wat is ’n jaar sonder ’n splinternuwe humoristies-romantiese roman uit Kristel Loots se pen? Lemoenseisoen verskyn gedurende Mei, en soos in Aspoesterskoene en Sjokoladesoene (hierdie vrou dink die wonderlikste titels uit!) het ons te doen met ’n middeljarige vrou wat besef die tyd is reg om iets nuuts en opwindends te doen. (Daar is gerugte dat Loots ook ’n boek by Tafelberg-Uitgewers gaan uitgee as deel van hul chick lit-reeks, maar blykbaar kan die skrywer en uitgewer, ironies genoeg, nie oor ’n titel ooreenkom nie.)

Nog goeie nuus is dat Chanette Paul se gewilde Davel vroue-reeks vanaf Julie heruitgegee word. Liefdesverhaallesers lees dikwels ook spanningsverhale, veral dié wat op die vrouemark gerig is. Die laaste titel in einste Paul se Gys-boeke word in Junie gepubliseer. Dryfhout sluit sterk by sy voorgangers aan en ’n paar prikkelende raaisels word opgelos. Lesers kan ook uitsien na Bets Smith se Donkermaan wat in September vrygestel word, en Die soenoffer, ’n sielkundige riller (haar tweede boek in hierdie genre) deur Isa Konrad wat einde vanjaar vrygestel word.

Terug by die liefde: Bernette Bergenthuin se tweede romanse, Lief vir jou, verskyn ook vandeesmaand. Bernette studeer tans “syfers en regte” aan die Universiteit Stellenbosch. Haar uitgewer voorspel groot dinge vir dié nuweling.

Ons het ook by Tafelberg-Uitgewers se Departement: Romanse rondgesnuffel, maar kon slegs bevestiging kry dat daar dié maand romanses deur veterane soos Rykie Roux, Maretha Maartens (’n liefdesverhaal met ’n sokkertema!), Annelize Morgan en Helena Hugo verskyn; later vanjaar kom Schalkie van Wyk, die gewilde Ettie Bierman en ’n paar nuwelinge – in dié bedryf is nuwe bloed altyd welkom – aan die beurt.

Nog ’n debuut is ’n chick lit-roman met ’n “gap-jaar” as tema, maar die uitgewer wonder self nog oor die titel en outeursnaam. Daar is ook fluisteringe oor ’n Satyn-omnibus, maar daar moet nog besluit word oor die verhale wat in dié bundel (wat in die tweede helfte van die jaar die lig gaan sien) opgeneem gaan word.

En natuurlik is daar die gebruiklike Ena Murray-omnibusse – elkeen ’n hoogtepunt uit eie reg. Nommer 39 het pas verskyn; nommers 40 en 41 verskyn onderskeidelik in Junie en September, terwyl nommer 40 vlak voor Kersfees die rakke tref.

Met sulke leesvooruitsigte het selfs die mees depressiewe siele rede om die lewe te bly aankleef, al is dit net tot einde vanjaar. Maar nou weet ons nie wat 2012 alles inhou nie ...







  • LitNet het 3 kopieë van Ena Murray se Omnibus 29 en 1 kopie van Alta Cloete se Die geur van vergifnis om weg te gee! Stuur ’n e-pos aan wen@litnet.co.za met die naam van jou boekkeuse en staan ’n kans om een van dié boeke te wen!