Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

No Strings Attached in tipiese Hollywood-styl


Jacques Liebenberg - 2011-04-28

Regisseur: Ivan Reitman
Kamerawerk: Rogier Stoffers
Rolverdeling: Ashton Kutcher, Natalie Portman en Kevin Kline
Looptyd: 110 minute

 

In geen stadium van die geveg kan ’n mens kla oor die feit dat Natalie Portman skielik in drie, vier flieks te sien is nie.

Hoewel haar rolkeuses in die verlede effe eklekties was, was haar kultusstatus nog nooit in die gedrang nie (hoewel, vermoed ’n mens, ’n paar klipharde aanhangers kan kla oor die populistiese erkenning in Oscar-gestalte). Eintlik was die grootste probleem dat mens jou nie op ’n gereelder grondslag in haar kon verlustig nie.

Tot vanjaar.

En, meer spesifiek, die romantiese komedie No Strings Attached, waarin me Portman hard poog om haar oeuvre uit te brei deur haar op die veld deurtrap van Sandra Bullock, Kate Hudson en Jennifer Aniston te begeef. Aan haar sy is die skynbaar ewe kieskeurige Ashton Kutcher, wie se beste spel, ironies genoeg, in die wetenskapfiksie-riller The Butterfly Effect te sien was.

In Strings is hy die gawe seun met die goeie hart wat sy geluk nie kan glo wanneer die siniese dokter (Portman) instem om sy bedmaat te wees nie. Sy is (skokkend genoeg) nie lus vir seerkry nie en wil sake fisiek hou. Hy’s bietjie van ’n ploeteraar wat in sy beroemde pa (’n karikatuuragtige, vermorste Kevin Kline) se skadu leef (nog ’n kinkel) en glo alles sal nog regkom.

En in tipiese Hollywood-styl hou die “verrassings” nie daar op nie. Al die tiek-lysie se inskrywings is daar: ’n gawe kêrel wat soos Ashton Kutcher lyk, sukkel om ’n meisie te kry (tiek); die een hoofkarakter gaan meer van die verhouding wil hê (tiek); die hoofkarakters word albei deur vreemde en aweregse – en selfs gay! – vriende omring (tiek); een of albei hoofkarakters se ouer/s se kop raas (tiek); en die een hoofkarakter se beroepslewe gaan onverwags tekens van lewe toon (tiek).

En tussendeur probeer Portman hard om ’n romantiese hoofspeler te wees. Die ding is, sy is nie die tipiese romantiese hoofspeler nie. In elk geval geoordeel na wat sy tot dusver vermag het. Genade, die snaaksste ding wat sy tot nog toe op die silwerdoek gedoen het, was om aan haar oor te trek toe Zach Braff se pel vuurpyle in die agterplaas begin skiet.

Die snaaksste element in No Strings Attached is Ludacris se uitdrukkinglose spel as Kutcher se kroegeienaar-vriend met die klein hart; die hartseerste, naas Kline, is die feit dat Ivan Reitman, regisseur, teen die draai van die millennium laas ’n kykbare fliek gemaak het.