Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

ANNA uitgedos in pronkvere van Prisma


Carina van der Walt - 2011-04-28

Untitled Document

In die middel van die Paasnaweek is die eerste Afrikaans-Nederlands, Nederlands-Afrikaans Woordeboek (ANNA) bekendgestel in Amsterdam. ’n Groot genoeg gehoor was teenwoordig in die Koninklijk Instituut voor de Tropen, al was dit buite ’n sonnige Saterdagmiddag. Op sulke dae verkies die meeste Nederlanders om op die sypaadjies aan hulle koue biertjies te sip. Of nog beter: om met ’n bootjie op die kanaal deur die stad te vaar. Maar die kombinasie van ANNA en die uitreiking van die Van Riebeeck-penning aan Adriaan van Dis vir sy langdurige betrokkenheid by Suid-Afrika was ’n wenresep vir belangstelling. Dit was eintlik op 23 April die jaarvergadering van die Nederlands-Zuidafrikaanse Vereniging (NZAV).

Die "ANNA" vertalende woordeboek van Prisma.

Van Dis is wat Nederlanders ’n “publiekslieveling” noem. Met sy sjarme trek hy publiek soos heuning ’n heuningby. Die finale deurslag vir die uitreiking van die Van Riebeeck-penning na ’n lidmaatskap van 39 jaar by die NZAV lê opgesluit in sy roman Tikkop (2010). Ena Jansen van die Universiteit van Amsterdam het die redevoering gelewer.

Baie gou word egter iets anders duidelik. Die middag draai om ANNA. Anders as wat ek dit verwag het, is ANNA nie ’n deftige Van Dalen-dame uit Den Haag nie. Miskien het sy met haar unieke amalgamasiemodel nie ingepas in die wenresep vir woordeboeke van Van Dalen nie? ANNA paradeer in ’n balrok van 2 228 bladsye. Sy word aan die publiek voorgestel deur haar hoofredakteur, Willy Martin (Katholieke Universiteit Leuven en Vrije Universiteit Amsterdam). Vir elf jaar en nege maande lank was ANNA die rede vir ’n liefdesdriehoek tussen Martin en sy vrou. Die ander redaksielede was Else Boekkooi (Nelson Mandela Universiteit, Port Elizabeth), Rufus Gouws (Universiteit van Stellenbosch), Isa Maks (Vrije Universiteit Amsterdam) en Luc Renders (Universiteit Hasselt).

Willy Martin oorhandig die eerste eksemplaar van ANNA aan Adriaan van Dis.

Eintlik is ANNA ’n verliefdheidswoordeboek waarin Nederlands sy liefde verklaar aan Afrikaans. Soos ’n jongman besef sy eerste liefde is so éénders as hy en terselfdertyd so wonderbaarlik ánders dat dit sy asem wegslaan, so gedra Nederlands hom teenoor Afrikaans. Hierdie gevoel is herkenbaar by die meeste Nederlanders wat al ooit Afrikaans gelees het. 30 000 van die 60 000 woorde in ANNA vertoon volgens Martin ’n herkenbare ooreenkoms. In die amalgamering staan Nederlandse en Afrikaans woorde deurmekaar in alfabetiese volgorde. Dit is iets nuuts in die wêreld van die leksikografie. ’n Voorbeeld is:

  • levenslicht nw. [het; mv:-], lewenslig nw. [mv:-] A/N (eerste licht van je leven) lewenslig = het levenslicht zien / aanschouwen die lewenslig sien / aanskou.

Die gebruiker kry sodoende ’n direkte vergelyking tussen die woorde. Afrikaans is deurgaans in skuinsdruk. Dis duidelik dat daar nie ’n meervoud is nie, omdat hierdie woorde eintlik net in figuurlike uitdrukkings voorkom. Die broodnodige aanduiding van “de” of “het” by die Nederlandse woord is vir Afrikaanstaliges wonderlik. In die beskrywings by elke woord is alles wat oortollig is, weg gewerk. Woorde wat slegs in een van die twee tale voorkom, word ook aangedui, byvoorbeeld:

  • levenspartner nw. [de; mv:-s] N (degene met wie je het leven deelt) lewensmaat
  • lewensbly b.nw. A (vol lewensvreugde) levenslustig.

ANNA is funksioneel as vertaalwoordeboek. Dis ook ’n woordeboek wat fokus op die verskille tussen Afrikaans en Nederlands. As ’n leeswoordeboek kan dit jou ure lank besig hou. Hierdie eerste woordeboek tussen Afrikaans en Nederlands was ’n grootse projek met ’n fenomenale resultaat. Die infrastruktuur van ANNA is wetenskaplik goed onderbou. Die valse vriende of woorde wat tot misverstande aanleiding gee tussen die twee tale word aangedui met {!!}.

Willy Martin spreek die gehoor toe in die Koninklijk Instituut voor de Tropen in Amsterdam. In die voorste ry links o.a. Adriaan van Dis en Ena Jansen.

Aanvanklik was die sjarme van Afrikaans vir die woordeboekmakers opgesluit in vier dinge: dit is byna Nederlands; dit is Nederlands in ’n suiwerder vorm; dit is beeldryker as Nederlands; en dit is eksotieser as Nederlands. Met “eksotieser” was die verwagting dat Afrikaans minder blank is as Nederlands. Minstens twee van hierdie verwagtinge is die afgelope dekade tydens die samestelling van ANNA nek omgedraai. Die idee van ’n suiwer Afrikaans moes swig voor die baie Engels wat met ’n foefieslide daarin verdwyn het. En die aantal woorde wat uit ander inheemse tale (dus donkerder tale) in Afrikaans opgeneem is, is so min “het valt tegen”.

’n Verliefde jongman struikel maklik oor sy eie woorde. Daarom is hierdie liefdesverklaring nie foutloos nie. Op die trein terug huis toe soek ek as eerste steekproef die Afrikaanse woord gou op. Ek kan dit nie kry nie. Die Nederlandse gauw is wel opgeneem met langsaan die Afrikaanse gou. Maar as ek nou nie geweet het –ou- word baie keer -au- in Nederlands nie? Dan het ANNA my sommer by die eerste probeerslag afgeskud!

Met dieselfde woord vir verskillende diersoorte het ek ook al my Moses teëgekom tussen Afrikaans en Nederlands. Daarom soek ek vervolgens steenbok op. Die verklaring is warempel verkeerd:

  • steenbok nw. [de; mv: -ken], steenbok nw. [mv: -ke] A/N (viervoetig dier met gebogen hoorn) bergbok, steenbok.

Daar is nie ’n manier waarop die steenbokkie van die Suid-Afrikaanse landskap se horings gebuig kan wees nie. Daarvoor is hulle te kort.

Ek stuit op die woord nefast. Dis nie ’n Nederlandse woord nie. Dis Vlaams, of soos ANNA dit aandui, Belgiese Nederlands. Vinnig gly my oë oor die name in die redaksie om te kyk hoeveel eintlik Vlaamstalig is. Almal.

In die alledaagse omgang tussen Nederlands en Afrikaans het die woord dadelik homself as ’n valse vriend in my lewe voorgestel. ANNA herken dadelik nie as valse vriend nie. In die verklaring in ANNA word nou-nou as sinoniem gegee, terwyl nou-nou nie ’n intensivering in betekenis is soos by ander herhalingswoorde in Afrikaans nie, maar wat eintlik iets soos “bietjie later” beteken. Persoonlik ervaar ek ’n duidelike tydsverskil tussen dadelik en nou-nou in Afrikaans, maar in ANNA staan dit anders opgeskryf.

Met hierdie paar aantoonbare foutjies gaan ek egter nie die baba saam met die badwater uitgooi nie. As jong meisie moet Afrikaans bloos onder soveel aandag. Haar knieë mag maar lam word. Nederlands is ’n toegewyde minnaar. Die redaksie van die eerste ANNA ooit verdien alle lof en waardering.