Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 29/04/2011: Wanneer ’n skuldige gewete agter jou staan ...


Namib - 2011-04-28

Ons ou droë land het mos baie getuienis van dinge wat getraai is en wat nie gewerk het nie. Ou myne is orals waar die fortuinsoekers hulle alie gesien het, maar ook so plase waar die hoop en die werklikheid nie lekker saam wou hande vat nie. Van die manne wat uitgeboer het en darem nog so effe geluk gehad het, die het darem nog die grond behou, maar so lê vele plase sonder bewoners op. Die manne in die omgewing weet dit natuurlik ook en as die wild volop is ook nog, dan is dit net oë soos die manne die plek dophou vir ’n geleentheid om daar ’n skelm jag of twee in te kry. As die jagtog dan al ’n keer of twee geslaag het, dan raak die mens mos mak vir die situasie en vergeet hulle so bietjie dat hulle met onwettige dinge besig is!

Dié betrokke plaas se baas het op die dorp gesit en hy't op die oomblik ook nie meer vee gehad nie, so sy plaas rus lekker en die koedoes is eintlik maar aan't beheer daar. Toe kom daar ’n filmspan vanuit die RSA met ’n versoek dat hulle die plaas se mooi koppe en berge wil gebruik as agtergrond vir ’n nuwe film wat hulle beplan en hulle klap die plaaseienaar met ’n palm geld en hy's heel in sy skik. Die voorspan van die filmmakers moes toe na die plaas gaan om die moontlikhede van liggings te gaan ondersoek en dié lotjie het hulle in die leë plaashuis sommer tuisgemaak en dié oggend, na hulle eerste ekskursie veld toe, kom hulle terug na die huis toe, parkeer hulle karre agter die huis onder die persopis-bome en hulle gaan sit op die stoep en drink koffie en eet ’n beskuit.

Doer op die plaaspad kom twee dubbelkajuite vol manne aan en dié kom hou voor die huis stil. Die een filmman, ’n bekende en gerekende platjie, staan op en stap na die voorhekkie toe en die manne van die karre, bier in die hand, klim uit en hulle groet. Die manne wil weet wat maak húlle dan hier op die plaas?

Die platjie sê: "Ons is van die Veiligheidspolisie en ons kom ondersoek net die area want ons hoor hier gaan onheilighede aan in hierdie gebied. Ons sal graag met julle wil gesels."

Hy draai om en loop stoep toe en toe hoor hulle net deure wat klap, enjins wat start en gruis wat grawe soos hulle daar wegtrek! Die een ou het sy botteltjie bier sommer daar op die hek se pilaar gelos in sy haas om weg te kom! Dan moet jy weet dié man het geskrik!

Namib