Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans

Dit reën saggies op haar


Reney Warrington - 2011-04-26

Untitled Document

Lize staan doodstil. So ook Nina, Henk, JP en Philip, almal netjies in ’n rytjie en vrek ver van die Landcruiser , die fotograaf en die veldgids met sy geweer af. Niemand chirp niemand nie. Daar word skaars, deur geklemde kake, asem gehaal.

Die ding is, hulle word bekruip deur Fransien en Fransien was nog haar hele lewe lank onvoorspelbaar. Sy het eers probeer wegkruip agter ’n boom ’n kwart van haar grootte, terwyl die ster, haar broer, van wie sy onafskeidbaar is, afgeneem en verewig word op tydskrifte en billboards die hele Europa deur.

Dalk was dit jaloesie wat haar beweeg het. Dalk verveeld wees. Wat ook al die rede, die eens skugtere olifant het haar ore platgedruk en agterom die produksie span gesluip.

Olifante loop mos op hulle tone. Dit is wat Lize staan en dink op dié kritiese moment. Op hulle tone en op sagte kussinkies. Die gids moes haar dopgehou het. Tog word hy betaal om Fransien se ouer en aansienlike groter boetie, Rambo, in posisie te kry en te hou langs die nuutste, not yet released kwartmiljoen-4x4 waarvan die Belge net één, in plaas van die gewone twee, per skip oorgestuur het. Nou as Rambo/Sylvester /First Blood moer pluk en die kar plattrap, is die shoot hier in Afrika nie so goedkoop soos die agentskap gedink het nie. Dit beteken toekomstige shoots gaan êrens in Spanje-wat-lyk-soos-Afrika geskiet word.

Op dié oomblik voel Lize nie veel vir die luukse motor nie. Sy oorweeg dit selfs as skuiling. As sy vinnig hardloop, kan sy seker betyds onder die kar ingly? Hmm, miskien nie. “Moet net nie beweeg nie, manne. Sy trap ons flenters,” moedig Lize aan. “Sy is nie so mak soos haar boetie nie.”

Rambo en Fransien se ouers is in Zim doodgeskiet. Hulle is as kleuters na die plaas toe gebring. Rambo se slurp het seergekry en die gereelde veeartsondersoeke het hom gewoond gemaak aan mense. Fransien is egter ’n ander storie.

“Jissie,” fluister Henk stadig en uiters sag soos Fransien nader sluip. Lize kan die mag van die dier ruik.

Priya staan doodstil. Die vyfuurverkeer op Joe Slovo was erg vóór die somerreënstorm uitgebreek het. Nou dryf daar stompe verby haar. Die stormwaterdreine is mos verstop. Dit word seker ook geblameer op die swembaddens in die noordelike voorstede. Sy sit die radio sagter om te kan konsentreer.

Sy hoop sy kry Woollies nog oop. Die tuin is al vol groente en kruie, maar sy kort pasta, gemmer en hoender. Sy wil ook gaan gym vanaand en Miss Smilla’s Sense of Snow klaar lees. Lize moet die boek lees. Dit sal haar inspireer om weer te begin skryf.

Sy mis Lize. Hulle bed is te groot sonder haar, die duvet nie warm genoeg nie, die lakens deurmekaar. Sy is nou al ’n week weg op ’n shoot in die Hoëveld. Sy sê die olifante en papegaaie gedra hulle. So ook die fotograaf en die schmoudels. (Kort vir schmucks en models .)

As sy net regs in Houghton Drive kan indraai, kan sy die slipway vat en links uitgaan in Carse O’Gowrie. Dan is sy uit die verkeer uit en op pad Woollies toe. Die robot slaan nog twee keer groen voor sy haar kar se neus in Houghton Drive kan indruk. Nog tien minute later vat sy die slipway links.

In haar truspieëltjie sien sy die taxi, wat heeltemal te vinnig ry vir reënweer, beheer verloor.

Die gids swaai sy arms in die lug en skree. Dit skeel Fransien min. Haar ore skiet op en sy probeer Oliver die skrik op die lyf jaag. Hy weet sy bluf en skree nog harder.

Agter hom staan die crew . Hulle knieë stamp teen mekaar. Hulle weet nie die regop ore is ’n dead giveaway nie. Rambo bekyk die storie met bitter min belangstelling. Uiteindelik, en sonder veel waarskuwing, gee Fransien op, swaai haar gat om en stap doodluiters die bosse in.

“Ag, ek het geweet sy bluf,” sê Henk.

Lize klap hom teen sy boarm. “Yeah , right .”

Almal se broeke bewe en die fotograaf pak kameras op. Hulle kan môre aangaan, sê hy met ’n hoë stemmetjie. Almal klouter verlig bo-op die Landcruiser. Dit is net na vyf en dit was ’n lang dag.

“Ek is reg vir ’n bier,” is een van die min kere wat JP wel iets sê.

“Hoor, hoor,” stem die ouens en Nina.

“Bier is te flou,” stry Lize. “Ek soek ’n shot goeie peat whiskey.”

“Te lanie vir ’n Zamalek, nè?” spot Henk.

Hy lag en spring op die heel agterste, hoogste bankie. Lize draai om en probeer hom in die hande kry. Dit is hoekom Lize Fransien van agter af sien storm.

“Oliver?!”

“Hold on,” gil hy en spin spore in die veld. Oliver kry die kar op die grondpad en laat waai. Fransien se ore is plat. Sy speel nie meer nie. Die gids swenk heen en weer en jaag tussen die akasiabome deur. Fransien vat een uit in haar jaagtog.

Lize sien die veiligheidsgordels en wys vir almal om vas te maak. Henk klouter eers terug na die voorste bank toe. “Sy gaan my nie eerste trap nie,” verduidelik hy.

Nina, vreesloos, soos gewoonlik, shoot met die een hand HD-video om op YouTube te laai. JP staar ongeërg voor hom uit. Philip rook ’n sigaret. Asof die twee ton vleis wat hulle lodge toe jaag, hulle nou nie werklik beïndruk nie.

Lize, aan die ander kant, kan die gewig van die olifant wat met elke voetstamp die aarde tref, nie hoor nie, maar voel vibreer.

Oliver sien nie die donga nie.

Die taxi tref Priya skuins agter, slinger die kar in die rondte en bliksem die Volvo eers bo-op die sypaadjie en dan in die robot vas. Aan Priya se kant.

Gelukkig het die eerste stamp die taxi se spoed gebreek en tref hulle die robot met te min impak om haar kar heeltemal op te frommel. Volvo’s is toe so veilig soos hulle sê. Tog buig die paal haar deur in, breek dit die windskerm, die bestuurder se venster en haar been.

Dit reën liggies op haar waar sy bewusteloos in die kar lê.

Dit is net ’n Toyota Landcruiser wat reg deur ’n donga jaag en nie ombliksem nie. Oliver ruk die kar terug op die pad, vee die sweet van sy voorkop af en steek dit kamp toe. Hy beplan die roete in sy kop en onthou skielik van die koorsboomwoud. Natuurlik! Hy mik vir die naaste ingang. Fransien, wat self veilig deur die donga is en weer spoed opbou, hou niks van die woud nie. Oliver weet nie hoekom nie, maar is vandag bly daaroor. Die lodge is twee kilometer aan die ander kant.

Die plan werk en Fransien draai om toe hulle die woud binnegaan. Oliver ry effe stadiger, kyk of almal oukei is en verduidelik sy plan. Die twee kilometer tussen die woud en die lodge is kritiek. Almal moet help uitkyk.

Fransien het egter haar pret vir die dag gehad en binne twee vreesaanjaende minute rem Oliver dood voor die lodge. Niemand klim uit nie. Hulle bene bewe en hulle moet eers asem skep.

Lize kom tot verhaal. “Is julle almal oukei?” Sy kyk deur die groepie en merk die sny op Nina se voorkop op. “Nina?”

“Dit is net ’n skraap. ’n Tak het my getref.”

“Kom ons gaan maak dit skoon.” Lize klim uit en kyk na die crew, wat nog wit geskrik in die kar sit. “Kroeg toe met julle. Henk, kry solank vir my daardie whiskey.”

Priya word wakker van ’n kombers wat oor haar gesit word. Die paramedic spuit haar in met iets. Sy het te seer om te vra wat. Sy het ’n nekskerm aan.

Jaco sien haar oë oopgaan, glimlag mooi en sê in sy mooiste Afrikaanse aksent: “Miss , what’s your name?”

Sy knip haar oë ’n paar keer om te fokus. “Priya. Wat is jóú naam?”

“Jaco.”

“Hallo, Jaco.”

“Priya, jy is oukei. Moenie worry nie. Ons sukkel net om die deur oop te kry. Ons gaan jou uit die kar moet uitsny.”

“Dit reën nie meer nie,” sê Priya, skielik moeg en koud.

“Ja, gelukkig. Priya, kyk vir my.” Sy luister. “Kan jy jou ore toedruk?” Priya verstaan nie mooi nie. “Oukei, ek gaan jou ore toedruk. My vriend hier gaan gou die deur oopkry.”

Sy knik. Jaco fluister deur sy tande vir sy vriend. Dan klim hy op die bonnet van die kar, lê op sy maag, halfpad by die stukkende windscreen in, en vou sy hande om haar ore. Priya glimlag.

“Dit is koud,” sê sy.

Jaco lig sy een hand en sê, “Jy het natgereën.”

“O.” Priya wip van die grinder wat aangaan en maak haar oë toe. Sy fokus op die hitte van Jaco se hande. Dit maak haar rustig.

Die deur kraak en “vriend” tel dit eenkant toe. Jaco spring af en kom sit op sy hurke by Priya. “Goed, ek gaan net gou kyk of daar dalk iets gebreek is voor ons jou uithaal en in die ambulans laai.”

Nina het haar bebloede hemp uitgetrek. Sy staan dus in haar shorts en ’n bra in haar badkamer toe Lize met die noodhulptassie inkom.

“O, jammer,” sê Lize.

“Dit is fine.” Lize sal tog niks opmerk nie. Niks probeer nie. Sy sien niemand behalwe Priya nie. Dit is seker ’n goeie eienskap in ’n girlfriend , dink Nina moedeloos. Dat haar wêreld uit jou bestaan, dat sy nie optel as iemand anders, ’n kollega, ’n vriendin, smoorverlief op haar is nie. Sy hou haar hand op om haarself die aanraking, die nabyheid van Lize te spaar, en sê: “Dit is net ’n skraap. Ek kan self ...”

Lize vat haar arm en draai haar spieël toe. Die bloed drup al tot op haar ken. “Laat ek jou help.”

Nina knik en gaan sit op die wasbak. Sy hou Lize dop terwyl sy watte uithaal en ontsmettingsmiddel daarop sit. Haar lang blonde krulle is vasgemaak; haar shorts sit laag, haar T-hemp styf.

“Goed, dit gaan brand,” waarsku Lize en vee versigtig oor die sny.

“Bliksem,” vloek Nina, maar hou stil, want Lize se hand rus op haar wang. Seker om haar, Nina, se gesig na die lig toe te draai, en nie na haar, Lize, se mond toe nie. Nina maak haar oë toe en sit eerder in die donker terwyl Lize die pleister opsit.

“Daar’s hy,” sê Lize en tree terug om haar handewerk te beskou.

“Dankie, baas.”

“Hey !” dreig Lize. Haar blou oë glinster en Nina glimlag gedweë.

“Kom ons gaan drink ’n whiskey.”

“Ek is nou daar. Ek bel net gou vir Priya.”

“Goed,” knik Nina en stap bek-af kroeg toe. Die ouens het reeds begin met grootpraat en wolhaarstories oor die dag. Hulle is dan nou veilig. Lize stap oomblikke later bekommerd by die kroeg in.

“Alles oukei?” vra Nina.

“Ja, ja. Ek kry net nie vir Priya in die hande nie.” Lize kyk na haar horlosie. “Sy bestuur seker.”

“Nina! Wys vir ons die video,” gil Henk.

Priya word wakker toe hulle haar oortel in die hospitaalbed. Jaco druk haar hand, gee vir die dokters die verslag en stap uit om iemand anders se lewe te gaan red.

Die verpleegsters sny haar klere af. Daar is baie bloed, sien sy. Lize – sy soek vir Lize! Sy moet nou haar stem hoor. “My foon,” sê sy vir die naaste verpleegster. “Ek moet my girlfriend bel.”

Die verpleegsters druk haar hand lig, skud haar kop heen en weer en sê daar is eers ander goed om oor te bekommer. Ontvangs sal die kontakpersoon op lêer bel.

Priya onthou Lize is op die shoot . “Nee, nee, moenie,” bedink sy die situasie. Die verpleegster luister na die verduideliking. “Bel ... bel vir Martie. Haar nommer is ook daar.”

Martie sit en aandete eet voor die TV toe haar foon lui. Sy het “caller identity” en herken nie die nommer nie. Sy is nie lus om te antwoord nie. Haar gunsteling -soap is aan en haar kos gaan koud word. Dit is wragtig weer iemand wat iets aan haar wil verkoop. Sy weet dit. ’n Tweede selfoon of versekering. Sy besluit om nie te antwoord nie.

Die foon hou op lui en Martie glimlag sommer vir haarself. Die volgende oomblik lui haar selfoon. Dit is dieselfde nommer. Martie begin twyfel. Wat as dit belangrik is? Of slegte nuus?

“Naand?”

Lize, dink Priya, ek soek vir Lize. Sy sê egter niks vir die dokters en verpleegsters wat om haar besig is nie. Hulle lyk nie baie bekommerd nie, maar al wat hulle sê, is dat die toetse moet terugkom. Lize sou ’n antwoord uit hulle uit gekry het.

Sy kan haar nie bel nie. Sy sal in die aand, op hierdie nat paaie, Johannesburg toe jaag. Priya word naar en ’n suster hou ’n spoegbak nader. Êrens in die gange hoor sy weer iemand baklei.

“Priyatjie,” sê ’n stem langs haar. Sy kyk op in die gesig wat soveel na Lize lyk en sy huil. Dit is haar skoonma wat baklei het om in te kom. Na haar toe. Martie vee haar gesig mooi af, hou haar hand styf vas en sê: “Sjoesj, Priyatjie, alles gaan oukei wees.”

“Ek wou nie vir Lize bel nie …”

“Waar is my kind?”

“In die Hoëveld op ’n shoot .”

“Ja, sy sal verseker deurjaag en haar kar afskryf. Ons weet hoe lief sy jou het.” Iemand verstaan. “Moenie worry nie. Ek sal ’n plan maak.”

“Dankie.”

“Priyatjie, weet jou ma-hulle?”

“Nee,” sê Priya moeg en rus haar oë.

“Kind, moet ek haar nie maar bel nie? Enige ma …”

Priya sukkel om haar oë oop te kry. “Jy’s hier,” fluister sy, glimlag en raak weg.

Martie voel skielik skuldig oor daardie 5% van haar wat nog gehoop het Lize is nie anders nie. Die vrek weet, sy weet hoe lief die twee kinders vir mekaar is. Sy sien hoe goed hulle vir mekaar is.

Martie haal haar rooi telefoonboekie uit. Sy moet die hospitaal se foon gebruik aangesien sy in die harwar haar selfoon by die huis gelos het.

Lize probeer weer vir Priya bel. Dié slag is die foon af. Dit is vreemd. Hulle praat tog elke aand net voor etenstyd met mekaar. En dan voor hulle gaan slaap. Lize probeer haar ma se landlyn. Sy weet nie juis waarom nie. Wat sal haar ma kan doen, behalwe miskien om haar beter te laat voel? Na al hierdie jare kry haar ma dit nog reg.

Daar is egter nie antwoord nie. Sy kyk op haar horlosie. Ah, glimlag sy, haar ma antwoord nie dié tyd van die aand haar foon nie.

Priya skrik wakker in ’n skoon hospitaalbed. Martie, wat soos ’n meerkat langs ’n snelweg sit, druk haar hand en sê dadelik: “Alles is oukei, Priyatjie. Jy is oukei.”

“Lize …”

“Ek het ’n plan gemaak. Rus jy nou. Word gesond. En weet net álmal is lief vir jou.”

“Lize, kan ek gou met jou praat?” vra Henk en trek haar sommer weg by die geselskap, af met die trappe en in die rigting van die donker parkeerarea.

“Wat is fout?”

Henkie is bleek. Sy gewone terggees is heeltemal weg. Lize dink nie sy het hom al ooit so ernstig gesien nie.

“Girl, ek weet nie mooi hoe om dit vir jou te sê nie.”

“Sê net, wat ook al dit is.”

“Ek en jy ry nou terug Jo’burg toe.”

“Wat? Is jy laf, Henk? Die job is nog nie klaar nie. Watse moeilikheid het jy gemaak?” Henk vat haar aan die voorarm en dit maak haar bang. Dit laat haar besef sy gaan slegte nuus kry. “Wat?”

“Hoor my nou mooi as ek sê dit is nie so ernstig nie.” Henk lieg, aangesien daardie toetse nog nie terug is nie. “So moenie skrik nie.”

“Moenie skrik vir fokken wat nie?”

“Ons moet Donald Gordon Hospitaal toe ry.”

Lize word yskoud. “Wie?”

“Daar was ’n motorongeluk.”

“Wie, Henk?!”

“Sy is oukei.”

Dit kan net een mens wees. En dit kan nie. “Henk?” vra Lize sag, terwyl die trane oor haar wange loop.

“Priya is oukei. Jou ma is by haar.”

Martie waak langs Priya se bed in ICU. Sy is omgekrap. Oor Priya so seer het. Oor haar kind nou-nou hier moet inloop. Oor daardie verdomde 5%. Daar is niks soos ’n hospitaalbed om jou te wys hoe selfsugtig jy is nie.

Hierdie meisie maak haar kind al agt jaar gelukkig. Steeds het sy vasgehou aan daardie verdomde 5% toe hulle haar opgewonde kom vertel hulle gaan trou. A nee a, dit is nonsens en dit stop vanaand net hier. Ek aanvaar hulle 100%, besluit Martie. As Priya oukei is, bak sy wat Martie is, self die troukoek.

Sy hoop net dit is nie te laat nie.

Sy kyk weer op die horlosie. Lize-hulle is seker nog so ’n uur weg. Sy wou Lize al bel, maar sy wil nie weer gang af stap en Priya los om alleen wakker te word nie. Nou sit sy maar hier en bekommer haar vrek.

Toe die dokter sy neus insteek, trek sy hom twee beddens weg van Priya af. Sy wag nou nie ’n minuut langer om te hoor of die toetse terug is nie.

Lize is eerste by die kar uit. Sy hardloop agter die ICU-tekens aan. Daar moet sy eers rapporteer en hande was. Martie hoor die gepraat en gaan na haar kind toe.

“Ma?” praat en huil Lize deurmekaar.

“Sy’s oukei, my kind, sy’s oukei.” Martie druk Lize styf vas. “Kalmeer nou eers. Sy slaap in elk geval.”

“Het sy seergekry?”

“Ja, maar …” Lize se trane loop weer. “Dit is nie so erg nie. Sy was gelukkig. Sy het net haar been gebreek, haar gewrig verstuit en krappe en blou kolle opgedoen. O, en ernstige harsingskudding.”

Lize blaas haar asem uit. “Dit is genoeg, Ma.”

“Lizetjie, daar is nie breinskade of ’n gebreekte rug nie. Onthou dit.”

“Ma’s reg,” snik Lize. “Waar is sy?”

Priya word dadelik wakker. Voor Lize iets kan sê, weet Priya sy is daar. “Kánna?” fluister sy deur ’n stukkende, geswelde lip, met haar oë nog toe.

“Engel,” antwoord Lize en soen haar lig op haar voorkop. “Jy is oukei.” Sy vee haar swart hare uit haar gesig uit. Priya hou nie daarvan as dit in haar oë hang nie. “Alles is oukei.”

“Jy is hier,” sê Priya en kry haar oë oop.

“Ja.” Lize glip haar hand onder Priya se linkerhand in. Die regterhand is verbind. “Ek hoor jy is toe eintlik ’n tawwe boeremeisie?”

Dit is te seer om te glimlag. “Wat sê die dokters? Regtig? Jou ma wil my net beskerm.”

Lize vee haar eie trane vinnig af. “Geen permanente skade nie, engel. Een gebreekte been, een geswikte gewrig, snye en kneusplekke. Alles is oukei,” sê Lize, kyk weg en vee weer die trane af.

“Jy huil, kanna.”

“Nee.”

“Dit is so mooi,” sê Priya en sit haar hand sag op Lize se wang. “Jy is so mooi.”

Lize kan nie meer die trane inhou nie. Sy snik skoon.

“Ag, kanna,” sê Priya en trek haar nader. “Lê by my.”

“Jy’t te seer.”

“Die linkerkant is oukei.”

Versigtig sit Lize eers haar regterbeen en arm op die bed voor sy haar volle gewig daarop laat rus. Toe lê sy so naby as wat sy kan aan haar stukkende girlfriend .

“Beter?” vra Priya.

Lize knik en sê, “Ek is veronderstel om jóú te troos.”

“Jy doen.”

“Ja?”

Dit is háár stem wat Priya al die hele aand wil hoor. “Ja. Vertel my van die olifante.”