Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Ongepubliseerde digters

Humeurigheid


Michael du Plessis - 2011-04-26

Humeurigheid
Na Charles Baudelaire, LXXXIX, "Spleen", Les fleurs du mal

 

Was ek ook duisend jaar oud, het ek nie meer herinneringe.

’n Groot laaikas, belaai met rekeninge,
verse, liefdesbriewe, hofpapiere, ou romantjies
en dik haarlokke gerol in vaal kwitansies,
steek minder weg as my bedroefde dodeskop.
Dis ’n piramiede dié, ’n groot grafkelder volgeprop
met meer lyke wat daar lê as in ’n gemeengraf saam.
Ek’s ’n begraafplaas verafsku deur die maan
waar, soos berou, lang wurms rondkruip en -sleep
en altyd gierig aan my mees geliefde dooies vreet.
Ek’s ’n outydse slaapkamer vol verwelkte rose
met hope klere op die vloer, uit oude dose,
waar alleen nog verbleikte, klaende pastelkleure
inasem al die oopgemaakte fles se geure.

Daar’s niks so lank as hierdie hinkvoetdae,
onder die jare wat neersak soos sneeuvlae,
wanneer verveling, verwek uit strakke on-nuuskierigheid,
lusteloos bestek neem van die ewigheid.
– En steeds bly jy, o lewende stof en wese,
niks meer as botstil klip nie, omring deur vae vrese,
in die dieptes van ’n deinserige woestyn iewers;
’n ou sfinks aan wie die kommerlose wêreld liewers
nie dink nie, alleen, op kaarte oral vergete,
sing net teen die skemer, humeurig en verbete.