Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 28/04/2011: Die vanger in die rogland


Tiens - 2011-04-26

Na ek jare lank gesoek het, kry ek uiteindelik ’n eksemplaar van die boek The Catcher in the Rye deur JD Salinger. Die biblioteek se kopieë was weer almal uitgeleen, maar die dame daar gee my toe een wat hulle as donasie ontvang het, maar te oud en lelik is om in die rakke te sit.

So, ek het dit nou gelees, maar ek verstaan nie waaroor al die bohaai gegaan het nie – die boek is oorspronklik in 1951 uitgegee en het, tot 1983, diep in die veertig herdrukke beleef. Miskien verstaan ek nie alles reg nie en ek vra dan maar hulp.

Om kortliks op te som: Die sestienjarige kosskoolganger, Holden Caulfield (hy vertel sy storie toe hy darem al sewentien is), gee nie aandag aan sy skoolwerk nie en druip ’n paar vakke. Hy is sinies oor alles en almal. Iemand wat nog probeer goed doen, sal hy dalk as oneg (“phoney”) beskryf. Hy word uit die skool gesit – hulle soek net presteerders. Voor hy die volgende week moet huis toe en voor sy ouers daarvan weet, loop hy weg met sy tasse.

Hy loop in die koue winter rond in die strate van New York, bly in goedkoop hotelle, drink in goedkoop kroeë (hy is oor die ses voet lank) en bel meisies in die middel van die nag, maak ’n afspraak met een, maar beledig haar gruwelik deur te sê sy gee hom ’n pyn in die gat. Die portier by die hotel reël vir hom ’n prostituut vir vyf dollar, maar toe sy kom het hy nie meer geesdrif vir die saak nie en hy vra haar om te gaan. Sy eis tien dollar – dit is glo die prys – maar hy weier om soveel te betaal. Later daag sy op met die portier en eis die $5 wat hy glo nog skuld. Hy weier weer, die portier foeter hom en hulle vat self die geld uit sy beursie. Darem net die vyf dollar.

Uiteindelik beland hy in die nag, toe sy ouers uit is, by sy klein sussie in haar kamer en hulle gesels, Sy vra hom om net een ding te noem waarvan hy hou, want hy kraak alles af. Hy sê hy hou van sy broertjie. Sy wys hom daarop dat die broertjie dood en in die hemel is. Hy vertel hy sien in sy verbeelding ’n klomp kinders speel in ’n rogland. Hy staan op ’n afgrond en hy wil die kinders vang en keer wat te naby die afgrond kom, voor hulle afval … “the catcher in the rye”. Dit is wat hy graag wil doen. Later, ek meen dit is die volgende dag, toe weet sy ouers steeds nie hy is uit die skool nie, ontmoet hy sy sussie by ’n pretpark en sy ry op ’n perdjie op ’n rondomtalie. Dit is vir hom te wonderlik, te mooi om haar so te sien.

Miskien het daar toe ’n kentering in hom plaasgevind. Hy word siek (het baie natgereën en die water het selfs in sy hare gevries op ’n stadium) en word in ’n inrigting gesit, ek meen dit was seker ’n hospitaal. Mense vra hom of hy hom nou in die toekoms gaan toewy aan sy skoolwerk, ook ’n sielkundige in die plek. Hy dink by homself dat mens nie vooraf kan weet wat jy gaan doen totdat jy dit werklik doen nie.

Redelik onlangs – voor sy vertelling begin – is sy rooikop jonger broertjie, vir wie hy baie lief was, oorlede aan leukemie. Nou is my een vraag dit: kan ’n mens aflei dat die broertjie se dood miskien bygedra het tot sy siniese optrede, dat hy die kind se dood nog nie verwerk het nie?

’n Ander vraag is of ek reg is dat daar ’n ommekeer plaasgevind het, en gaan hy verdomp nou in die toekoms sy skoolwerk doen?

Dan die feit dat hy die kinders wil vang voor hulle by die afgrond afval … is dit miskien ook oor sy broertjie se dood en kommer oor sy suster? Want ék, en ek is seker ook ander mense wat al geliefdes verloor het, het soms gevoel ek wens ek kon betyds gryp en keer …

Tiens