Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 26/04/2011: Webvoet se liefde vir lees


Tilda - 2011-04-21

Maggie ek is bevrees dat ek ook soos jy maklik kan vergeet van alles en almal rondom my wanneer ek aan die lees raak. Jare gelede nadat skoonma oorlede is moes my man en ek haar huis gaan leegmaak, oppak en skoonmaak. So kom ek op ‘n ou tas met boeke, koerante en tydskrifte af. My man moes my elke kwartier aanspreek omdat ek nie my kant van die pakkery bring nie want ek kon nie wegbly van die tas af nie. Nadat ek mooi gevra het kon ons die tas saamneem huis toe en dit wat ek uit daardie tas gehaal het, het vir baie ure se aangename leesstof gesorg vir ons hele gesin.

Ek hoop dat wanneer dit eendag my kinders se beurt is sal hulle ook soveel skatte uit my huis haal. My huis is eintlik slordig omdat ek nie genoeg boekrakke het nie en ook nie spasie nie so elke oppervlak het boeke op.

My man het elke Saterdag ons kinders biblioteek toe geneem vir hulle boekies van voordat hulle self kon lees en as ek vandag in die biblioteek kom en ek sien die jong mammas en pappas met hulle kinders dan sê ek stilweg dankie vir een ding wat nie verander het nie.

Net so terloops, Maggie ek pleit ernstig dat skrywers se bydraes per dag beperk word. Ek sou nie graag wou hoor dat jy ‘n senuaanval het nie.

Tilda