Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 21/04/2011: Nuwe formaat vir die Super 15


Jan Rap - 2011-04-20

Hulle moet dit volgens die Switserse skaaktoernooireëls speel:

Die spanne word willekeurig afgepaar vir die eerste rondte. Vir ’n wen kry ’n span twee punte, vir ’n gelykop 1 punt en natuurlik 0 as die span verloor.

Na die eerste rondte is daar dan spanne met 2, 1 of 0 punte en nou word die spanne met gelyke punte afgepaar. Na die tweede rondte is daar dus spanne met 4, 3, 2, 1 en 0 punte en die proses word herhaal vir, sê sewe rondtes, waarna daar ’n netjiese hiërargie sal wees, met ander woorde die span met 14 punte (maksimum) wen, tweede is die span met 13 punte, dan die span met 12 ens.

Om ’n wenner te beslis in die geval van ’n gelykop-telling tussen twee spanne (want dit is moontlik dat nie een enkele span al sy wedstryde gewen het nie) word die puntetelling van die spanne wat teen hulle verloor het in berekening gebring en as dit nog nie ’n wenner bepaal nie dan word die aggregaattelling gebruik.

Die voordeel hiervan is dat a) die ouens net 7 wedstryde in plaas van 14 speel en hulle is baie varser vir Curriebeker, Wêreldbeker, Bledisloe Cup ens, minder beserings, minder trauma, alles, b) die kompetisie word interessanter soos hy vorder; twee spanne wat kop aan kop mag wees, sê die Crusaders en die Stormers, se posisie kan afhang van die uitslag van sê die Cheetahs en die Western Force wat nog besig is om gespeel te word en c) ’n span wat ’n “af dag” gehad het word nie so kwaai penaliseer nie, hy’t nog kans om dit reg te maak.

Die probleem is nou net dat met 15 spanne daar nie ’n twee-twee afparing kan wees nie. Daar sal nog ’n span moet inkom, of een moet uitgelaat word want ’n loslootjie hier gaan nie werk nie.

Terloops, ek kon die horries kry toe die Cheetahs verloor het die naweek; hoekom hulle nie die bal in die hand gehou het met ’n minuut oor op die klok nie gaan my verstand te bowe. Terloops, ek dink nou aan ’n ding: Elke Vrystater moet die dominee vra watter deel van sy maandelikse bydrae gaan aan die sending en dan moet hy daardie geld herkanaliseer en wel na die Vrystaatse Rugby-unie toe. Dis tyd dat Vrystaat ophou om spelers aan die res van Suid-Afrika te verskaf. Nie noodwendig dat ek iets teen sending het nie maar ek reken na 200 jaar van sending kan die gekonverteerdes die groter bydrae maak. Maar dit net so terloops.

Jan Rap