Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Unknown stuur af op verbeeldinglose toevallighede


Jacques Liebenberg - 2011-04-20

Regisseur: Jaume Collet-Serra
Rolverdeling: Liam Neeson, Diane Kruger, January Jones en Aidan Quinn
Looptyd: 109 minute


Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 8 April 2011

 

Daar’s ’n eenvoudige rede waarom kêrels soos Jason Bourne en Jack Bauer sulke gewilde uitdelers van reg en geregtigheid is: Hulle faal nie.

En in die postmoderne, metroman-wêreld word hulle ook gepas geteister deur allerhande demone, net sodat mense kan sien hulle’s eintlik diep seuns wat veel te sê sou hê sou hulle die kans kry om hul internetprofiel te kan verfris. Antiheld-helde, as’t ware.

’n Welkome toevoeging tot hul geledere daar uit die linkerbuiteveld was die onwaarskynlike Liam Neeson se karakter in Taken, wat, vermoed ’n mens, die weg gebaan het vir Unknown. Weer is dit ’n geval van ’n Amerikaner wat hom in moeilike omstandighede in ’n vreemde Europese hoofstad bevind, maar dié fliek laat mens met nog meer vrae as eersgenoemde.

Daar’s boonop nie veel aksie nie. Vir diegene wat amper die helfte van hul springmielies kwytraak soos hul hande beef van aksie-afwagting is daar slegte nuus: Die storie wentel om Neeson se bioloog-karakter, wat aan geheueverlies ly ná ’n fratsongeluk. Hy’s ’n bleeksiel, haha, en die aksie is so terloops soos die intrige.


Die probleem begin by die draaiboek deur Oliver Butcher (gepas, want hy’t dié een gewis geslag) en Stephen Cornwell (John LeCarre se seun, nogal). Dit lyk of hulle by flieks soos The Bourne Identity en Roman Polanski se skitterende Frantic gaan leen het. Van oorspronklikheid of geloofwaardigheid is daar nie veel sprake nie, maar wel van bo-aardse en geykte toevallighede. Die regisseur, Jaume Collet-Serra, was ook aan die stuur van flops soos The House of Wax en Goal II en van uitstyg bo sulke omstandighede is daar hier nie veel sprake nie. Sake is so verbeeldingloos en word met soveel flair uitgevoer as die gemiddelde Lions-agterlynbeweging.


Almal probeer hard deurmekaar, gevaarlik of geheimsinnig lyk, maar om onder meer Diane Kruger as ’n wildewragtag- deeltydse taxibestuurder uit te beeld, hou soveel water as Meg Ryan as ’n breinchirurg. Die enigste een wat naastenby lyk of hy weet wat hom te doen staan, is Der Untergang se Bruno Ganz as ’n trotse oud-Stasi-man.

Is dit nie verstommend hoe die owerheid/skurke/fundamentaliste in die een fliek letterlik oral is nie en in die volgende nêrens in sig nie? In die een kan die held en fraaie nooi-in-nood hulle skaars roer of ’n swerm lewensontnemers sak op hulle toe en in die volgende kry die tweetjies selfs nog kans om kinderlik ontskuldig uit te sien na ’n nuwe begin – sonder dubbele identiteite, ontploffings en ander nare goed.

So hoop mens deurgaans Unknown kry binnekort rigting. Dis ’n hoop wat sonder veel bohaai beskaam.