Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 18/04/2011: Besoek aan "Booktown" Richmond (Noord-Kaap)


2011-04-15

Kyk, hierdie dorpie het baie meer boeke as mense. Daar is tienduisende boeke in ’n aantal boekwinkels, tot party versamelstukke is beskikbaar. So, as jy op soek is na ’n spesifieke boek kan jy gerus hier ook navraag doen. Die dorp is reg langs die nasionale pad geleë, sowat 160 kilometer suid van Colesberg, en as jy van die N1 af afdraai is jy binne 100 meter in die dorp.

Na omtrent dertig jaar in Johannesburg en na haar man oorlede is, het my suster Martie haar hier kom vestig. Sy is nou ’n pensioenaris en hoef nie te werk nie, maar is betrokke by die inligtingsentrum en bedryf sommer ook ’n boekwinkel.

Ek en my vriend besluit om haar te besoek en op 4 April (Maandag) vertrek ons met die swaar gelaaide Uno 1100 uit Port Elizabeth. Die pad is nog van die ou soort teerpaaie, taamlik nou, behalwe vir ’n breër stuk duskant Graaf-Reinet. Maar dit is oor die algemeen nie sleg nie, hoewel dit op plekke ook nie al te goed is nie. Die Uno is nie eintlik gebou vir lang afstande en hoë spoed nie. Ons snelheid wissel tussen 80 en 100 kilometer per uur, behalwe een keer toe ek ’n groot trok verbysteek, toe haal ek darem 120 kpu teen ’n effense afdraande. Die verkeer is taamlik min en van Graaff-Reinet af is die pad baie stil oor Murraysburg tot by die N1.

Die veld is nogal mooi en daar is baie blou berge te sien. Maar te veel turksvye en miskien ook te veel spekboom-ruigtes teen die heuwels. So in die ry drink ons botteltjies Coke Light uit my koelsak. Ons hou net stil langs die pad om te piepie en dan spat ons sommer ons gesigte nat met water uit ’n bottel. Op Graaff-Reinet maak ek weer die karretjie vol en ons ry aan. Tot op Richmond het ek ’n petrolverbruik van 17.49 kilometer per liter gekry. (5.7 liter per 100 kilometer.)

Vanaf die aansluiting by die nasionale pad word aan die pad gewerk en beland ons in “stop/ry”-situasies. Ons word voorgekeer en moet tot tien minute wag vir die verkeer van voor af om verby te kom voordat ons kan ry. Die seksies waar daar net een baan is, is lank, etlike kilometer lank.

Dit was nogal ’n ervaring om in die klein dorpie aan te kom en ’n paar dae oor te bly. Daar is ’n museum wat ons ongelukkig nie kon sien nie, omdat die persoon met die sleutel nie beskikbaar was toe ons die dag wou gaan kyk nie. Ons kon darem wel die pragtige ou NG Kerk deurkyk, met sy gekleurde glasruite en besonderse preekstoel uit hout. Dit is glo die hoogste preekstoel in die land en daar word gemeen dat dit gemaak is deur dieselfde persoon wat die Groote Kerk in Kaapstad se preekstoel gemaak het. Daar is ook ’n ou begraafplaas met grafte van Britse soldate wat in die Anglo-Boereoorlog omgekom het.

Seker weens mense wat hier oorslaap om die lang rit tussen Johannesburg en Kaapstad te onderbreek, het Richmond ’n aantal bed- en ontbytplekke en restourante. Een oggend eet ons ontbyt by die Vetmuis Plaaskombuis. Ek kry ’n lekker bord kos: lewer met uie, eiers en spek. Daarby nog roosterbrood met botter en konfyt. Op ’n ander aand eet ons by die Blue Lantern. My vriend Ronnie eet biefstuk, ek bestel skaaptjops met tjips en slaai. Die kos is goed, maar die slaai is baie skraps en bestaan net uit omtrent twee snytjies tamatie en klein flentertjies blaarslaai.

Vrydag moet ons alweer terugry. Dit voel of mens skaars gekuier het, maar die huis wag, my hond ook, hy is in ’n honde losiesplek. Ons ry taamlik vroeg, hier by sewe-uur die oggend. Met die padwerke is daar van die rigtingwysers verwyder en ons ry die afdraai na Murraysburg mis. Hoewel ek dit vroeër besef het, ry ek in elk geval tot by die Drie Susters-stasie. Daar draai ek om en moet ons veertig kilometer terugry tot by die afdraaipad. Dan is dit tagtig kilometer wat ons onnodig gery het.

Die terugrit is ook stil. Op Graaff-Reinet gaan ons vlugtig deur Reinet-huis en gaan kyk na die gerestoureerde outydse huisies in die stegie agter die Drostdy Hotel.

Van Jansenville af is die pad redelik besig en motors beweeg in rye agter lang vragmotors wat moeilik is om verby te steek, hoewel ’n paar padvarke nie huiwer om my by dubbele sperstrepe verby te gaan nie. By ’n padstal hou ons stil en sien ’n trop olifante oorkant die pad aanstap. ’n Ou grote loop voor, dan ’n aantal kleineres gevolg deur nog ’n grote met sy groepie kleineres.

By Despatch gekom en amper by die huis, is daar ’n teleurstelling: die pad is versper deur betogers (Zuma is op besoek) en die polisie herlei die verkeer langs Perseverence/Redhouse/Swartkops/Deal Party tot op die N2. Dit lei tot ’n verdere vertraging en ons kom eers naby vieruur die middag by die huis.

Tiens Pretorius