Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Vrye Woord-nuusbrief – 13.04.2011: ANC teen die media is sy eie grootste vyand


2011-04-14

Untitled Document

13.04.2011

ANC teen die media is sy eie grootste vyand

Herman Toerien

As Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, korrek is dat die media, veral gedrukte media, die ANC se grootste opposisie in die komende verkiesing is, beteken dit eintlik dat die ANC sy eie grootste opponent is.

Dit is immers die taak van die media om die kiesers oor die nuus op die hoogte van sake te hou.

Trouens, in ’n veelparty-demokrasie speel die media ’n onontbeerlike rol om kiesers op die hoogte te hou van die opsies wat hulle het wanneer hulle hul kruisies op die stembrief trek.

Daar het altesaam 121 partye en ’n aantal onafhanklike kandidate vir die komende verkiesing geregistreer. Dit spreek vanself dat al 121 partye nie gelyke blootstelling in die media gaan kry nie. Die media moet beoordeel wat is die mees nuuswaardige, en faktore soos die grootte van die nuusmakende party, die nuuswaardigheid van die nuus, die keurigheid waarmee dit aangebied word, en die tale waarin dit doeltreffend na die media versprei word, gaan ’n groot rol speel.

Met die opkoms van gemeenskapsmedia en die gevolglike effektiewe afwesigheid van vertalers in ’n groot deel van die gemeenskap se mediablootstelling, is dit byna ondenkbaar dat partye met ’n sinvolle ondersteunersbasis hul mediaverklarings slegs in een taal uitreik. Groter partye wat nie hierin belê nie, moet dus nie kla as kleiner partye in veral die gemeenskapsmedia behoorlik vlerke kry omdat hulle wél hierdie werklikheid erken nie. Deur die internet kan ’n klein party wat veeltaligheid inspan, se boodskap letterlik deur ’n Afrikaanssprekende op besoek aan Rusland gelees of gehoor word.

Verder is sommige partye slegs streeksgebonde, en selfs in kleiner areas. Nasionale media sal sulke partye nie werklik kan dra nie, en is grootliks op die plaaslike  gemeenskapsmedia aangewese.

Sommige media maak geen geheim daarvan dat hulle sekere partye steun nie. Dit is, in ’n demokrasie, hul reg, hoewel dit moontlik handelselfmoord is.

Mantashe en ander sal ook die les gou ter harte moet neem dat dit nie wys is om skoor te soek met hulle wat hul ink by die konka aankoop nie.

Nog minder as jou hande nie skoon is nie.

Dit is immers nie die media wat die werklikheid geskep het wat op die vooraand van die plaaslike regeringsverkiesing die negatiewe beriggewing oor die Minister tot gevolg gehad het nie.

Die media het geen aandeel in die wyse waarop Suid-Afrika die kwessies in Zimbabwe, die Ivoorkus en Libië hanteer nie. Die media het byvoorbeeld nie die regering aangehits om in weerwil van ’n wetlike verbod dat wapens nie aan lande wat menseregte onderdruk, verkoop mag word nie, aan Libië en Sirië te verkoop nie.

Dat Suid-Afrika nou deur politieke analiste beskryf word as ’n land waar korrupsie endemies geword het, het gebeur ten spyte van die media-aandag hieraan, en nie as gevolg daarvan nie.

Dit is nie die media wat Jimmy Manyi as regeringswoordvoerder aangestel het nie.

Dit is nie die media wat pres Jacob Zuma, ná hy deur al die beduidende kerke gelooi is, voorgesê het om weer godsdiens-aanstootlikhede kwyt te raak nie.

Dat verskeie stede en dorpe in riool en onverwyderde vullis verstik, is ook nie die media se skuld nie.

Sonder ’n vrye media is ’n demokrasie lam, selfs al is daar veelpartyverkiesings, want oningeligte kiesers is vir ’n demokrasie ’n groter gevaar as bate.

Enkele jare gelede het Suid-Afrika die 21ste plek op die internasionale persvryheidsindeks beklee, en was hy die mees persvrye land in Afrika. Verlede jaar, na soortgelyke aanvalle op die media, het Suid-Afrika op een slag met vyf posisies tot die 38ste plek teruggesak, en is dit lank nie meer die mees persvrye land op die kontinent nie. Terselfdertyd het Freedom House Suid-Afrika tot slegs gedeeltelik persvrye land geherklassifiseer.

Hoe laer ’n land op die persvryheidsindeks is, hoe sterker is die opwaartste druk op die korrupsie-persepsie-indeks, en dit beïnvloed weer ’n land se posisie op die beleggersvertroue-indeks.

Mantashe moet weer mooi dink oor wie nou eintlik die land se belange dien.

Nuwe superredakteur se probleme gaan nie verdwyn nie

Die volgende brief het 9 April in Beeld verskyn:

Charles Malan van Vrye Woord skryf:

Die skrywersdrukgroep Vrye Woord verwelkom saam met Max du Preez (Beeld, 8 April) die aanstelling van Elmari Rautenbach as boekeredakteur vir die drie Naspers-dagblaaie. Sy het uitstekende ondervinding. Haar taak bly egter onbenydenswaardig: sy sit met die probleme van sentralisering wat nie verdwyn nie, soos die verskraling van die hele literêre diskoers oor drie koerante heen en die onmoontlikheid om drie resensies oor nuwe boeke te laat verskyn.

Max se dwarsklap na "’n klein Mafia skrywers, digters en letterkundige kleimafstekers" is verregaande, om dit sag te stel. Hoekom spel hy nie uit watter van die goed-beredeneerde besware teen die nuwe superredakteur ongeldig is nie? Van die gesiene mense in byvoorbeeld die uitgewerswêreld, soos Marga Collings en Alida Potgieter, het met die hoofargumente saamgestem.

Hoekom sê hy nie wie die Mafia (dus skelms) eintlik is nie? Ons noem orals ons name wanneer ons deelneem aan die gesprek wat hy op die internet ontvang. Max weet as die baas van ’n eenman-Mafia maar te goed hoeveel publisiteit hy uit wilde verdagmaking sonder substansie kry. Dit wen egter geen argument nie.

Mens weet nie waartoe Elmari in staat is om drie dagblaaie en dus drie streke in een boekebylae te verteenwoordig nie, maar sy verdien om ’n kans te kry. Sy het die agtergrond om heelwat te vermag. Om te slaag, kan mens voorspel dit sal ’n dik bylae met ’n rits medewerkers en resensente moet wees. Dit is tog seker nie wat Naspers met ’n besparende sakebesluit beoog nie!

Charl-Pierre Naudé voeg die volgende as Vrye Woord-medewerker by:

Dis gevaarlik om die woord “pseudo-intellektueel” in Suid-Afrika te gebruik. Die Afrikaanse boekeblaaie is wel dikwels pseudo-intellektueel, soos Max tereg beweer, maar omdat hulle akademiese gonsanalise gelyk stel aan grondige intellektualiteit. Die twee sluit mekaar sekerlik 100 persent uit. 

Die boekeblaaie was helaas nog nooit intellektueel genóég nie, nie soos Van Wyk Louw daardie woord gedefinieer het nie. En Elmari Rautenbach se Insig destyds - veral die boekebladgedeelte - het beslis gevaar geloop om so tendensieus te wees dat dit op anti-intellektualiteit neergekom het. Asseblief, tog niks weer dáárvan nie.  

In ’n land soos Suid-Afrika moet mens dink voordat jy kapsie maak teen wat jy sien as pseudo-intellektualiteit. Sonder meer sal die kapsie self neerkom op anti-intellektualiteit.  

Die beste oorsese boekeblaaie is goed omdat hulle skaamteloos intellektueel is. 

Max se brief wek die indruk dat struktureel gesonde prosedure vervang kan word deur ’n knap persoon in beheer van sake te sit. Dit is presies die denke van die ANC. Dit was presies die idee van Oosblok-diktature. Daar is vele knap persone in vele posisies in Suid-Afrika, maar die demokrasie funksioneer nie, want dit is nie prosedureel gesond nie.
 
Daar is ’n prosedure van veelvoudige insette, van wigte en teenwigte, wat oorboord gegooi word met die nuwe bedeling. Ek maak opnuut ten sterkste hierteen beswaar.

’n Gesonde stelsel is eindeloos meer kosbaar as gesond-denkende enkelinge binne ’n ongesonde stelsel! Hoe lank voordat daardie enkeling deel word van die ongesonde stelsel?

Du Preez verloën sy eie demokratiese bewussyn deur hierdie feit onder die mat te vee in sy brief.