Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Vrye Woord-nuusbrief – 06.04.2011: Regeringskoerant – ’n dwase plan


2011-04-14

Untitled Document

06.04.2011

Regeringskoerant – ’n dwase plan


Herman Toerien

(Vrye Woord het vroeër berig hoe die ANC/regering die hele opvoedkundige bedryf met staatsuitgewery inpalm. Nou het hulle klaarblyklik ook ’n oog op ’n hap uit die persbedryf met ’n eie sogenaamde “staatskoerant”. Die skrywer was in die vroeë 1980’s ’n paar jaar lank redakteur van die regering se koerant, Puisano, met ’n oplaag van 80 000 permaand.)

Volgens die omstrede Jimmy Manyi is dit die media, en veral die koerante, se eie skuld dat die regering ’n behoefte het aan ’n eie koerant. In die proses word ’n paar stellings gemaak wat nie sonder kommentaar gelaat kan word nie.

Manyi kla dat die media slegs enkele aspekte hanteer van dit wat tydens mediakonferensies oorgedra word. Wat Manyi blykbaar nie weet nie, is dat die mediatoneel dramaties verander het sedert mediakonferensies. Dit is nie die mees doeltreffende manier om te kommunikeer nie, veral as die nuusmaker nie ’n baie nuuswaardige boodskap het om oor te dra nie, of soos talle kere gebeur het, te onbelangrik is om die media na ’n konferensie te lok.

Met die opkoms van die gemeenskapsmedia, gemeenskapsradiostasies, gemeenskapskoerante en die internet het baie van die media gewoon nie die manne- en vrouekrag om nuuskonferensies by te woon nie. Hulle verlaat hulle hoofsaaklik op dit wat instansies se kommunikasiebeamptes per e-pos uitreik. Om dit konkreet voor te stel: daar is geen manier waarop die Harrismith Chronicle elke keer iemand Pretoria of Kaapstad toe kan stuur wanneer die regering iets wil aankondig nie.

Boonop is daar talle voordele verbonde aan mediaverklarings. Dis goedkoper, en kan letterlik met die druk van ’n knoppie selfs die mees afgeleë en kleinste gemeenskapsradiostasie bereik. Weens die min mannekrag – ook dikwels teweeg gebring deur beperkings van die Okosa op sekere klasse gemeenskapsradiostasies – word hierdie verklarings selde verwerk en net so gebruik.

Om dit op Manyi se koerant van toepassing te maak: Sou dit nie goedkoper gewees het om keurige mediaverklarings in die elf amptelike tale uit te reik as om twee miljoen koerante te druk, met dele van die oplaag in die elf amptelike tale nie?

Miskien het nie al die koerante belang in voorvadergeeste wat teen groot belastingbetalerskoste in verskeie lande gaan haal word om by Vryheidspark vrygelaat te word nie.

Die staat bestee ook reeds groot bedrae geld aan advertensies – trouens, gebruik dit by tye skaamteloos as wapen teen publikasies wat neig om nie na die regering se pype te dans nie – ’n stap wat heelwat daarmee te make het dat Freedom House Suid-Afrika tot slegs gedeeltelik persvry verklaar het en Suid-Afrika nie die mees persvrye land op die kontinent is nie.

Manyi se raming dat die oplaag van twee miljoen sowat ’n R1 miljoen per eksemplaar gaan kos, sal ook sekere wenkbroue laat lig. Om ’n publikasie van tussen 16 en 22 bladsye uit te gee, in nog tien tale kundig te vertaal, te laat proeflees en druk, en daarna te versprei sal baie moeilik in R1 miljoen ingepas kan word as salarisse, kantoorhuur, toerusting, drukkoste en verspreidingskoste in berekening gebring word.

Verskeie sake het al by die Openbare Beskermer beland waar die ANC en regering op die oog af gesukkel het om ’n onderskeid te tref tussen regering en regerende party. As hierdie onderskeid vervaag en die koerant as propagandablad dien, is peperduur hofsake die belastingbetalers se voorland.

In ’n demokrasie moet so ’n staatskoerant absoluut objektief neutraal wees, wat bykans onmoontlik is. En as daar ’n behoefte is om met die publiek te kommunikeer, is daar bepaald goedkoper opsies.    

Die nuwe struggle – groen, teen die ANC

Charles Malan

(Brief in Beeld, 2 April)

Talle van ons wat in die vorige struggle teen apartheid geveg het, stem met Tim du Plessis saam: “Die struggle is nou groen” (Beeld, 1 April). In haar ontstellende oorsig oor die verkragting van ons omgewing deur multinasionale maatskappye vra Carin Bosman daarnaas tereg ons moet ons stemme dik maak.

Te veel mense buite magstrukture het in die vorige struggle geswyg en dit is nou weer die geval. Gaan ons sonder verset toesien hoe ons kinders byna tien persent van hulle grondgebied aan die vervloekte aardvernietigers prysgee? Die skrywersdrukgroep Vrye Woord wil ’n verset-aksie met ’n petisie aan die gang sit om soveel moontlik protesstemme te laat hoor.

Uiters belangrike besluite oor mynbouregte is helaas in die verlede oorgelaat aan politici wat soveel van bewaring weet as ’n aap van olie. En ewe min omgee. Die ANC/regering is min oor die plundering van ons hulpbronne en natuur gepla, want die staatskas en die vetkatte baat met elke nuwe vernietigingsprojek.

Dit is goed dat Tim ook by die onverskrokke Elise Tempelhoff aansluit om te wys hoe belaglik die arrogante aanvalle en lamlendige verskonings van die CoAL-beeldpoetser Riaan van der Merwe is. Niks kon dit beter illustreer as die gruwelike foto van die permanente wond in die aarde wat CoAL met “prospektering” aanrig nie – juis naas sy mooi stories. ’n Hele gebied se kremetartbome sal verplaas word!

Vrye Woord het reeds breedvoerig in nuusbriewe en in Beeld oor die ANC se magsug berig: die inligting- en mediatribunaal-wetgewing, die oorname van die opvoedkundige bedrywe deur staatsuitgewerye, die gebruik van die rassekaart  ...  Nou stoot hulle CoAL voor om Beeld en bewaringsaktiviste se monde selfs met dreigemente te snoer.

Ons sê nee vir maatskappye soos CoAL wat selfs ons vleie kom uitroei om onooglike swart pokmerke in die land agter te laat. Nee vir die magtige Shell wat ’n hele seegebied vol olie gelaat het en nou die droë Karoo se water wil steel en besoedel. Nee vir die beeldpoetsers (met watter beeld!) wat met gek voorstelle en aanvalle vrye spraak probeer muilband.

Ons dring aan op ons grondwetlike reg dat die omgewing beskerm moet word en op die spraakvryheid om misbruike aan die kaak te stel.