Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Michael le Cordeur: Die punt is

’n Swart taal is ’n gulde geleentheid


Michael le Cordeur - 2011-04-14

Untitled Document

’n Swart student in haar vierde jaar kom die afgelope week na my toe met ’n eenvoudige versoek: “Dok, kan jy my asseblief help om Afrikaans aan te leer? Die taal is so mooi, en ek voel dit sal ’n bate wees as ek benewens isiXhosa en Engels ook Afrikaans kan praat.” Jy kon my omtik met ’n veer. “Natuurlik, Nosiwe, ek help graag.” As ons as Afrikaanssprekendes dieselfde ingesteldheid as hierdie jong dame kan hê, kan ons almal help om ons inheemse tale (waarvan Afrikaans een is) te bewaar, te beskerm en te bevorder . (Dit is terloops die leuse van die Afrikaanse Taalraad.)

Daarom steun ek die idee van die Minister heelhartig. Hier by US word isiXhosa reeds aangebied op kommunikasievlak vir alle onderwysstudente.

Dit is baie nodig dat alle staatsamptenare – onderwysers en dosente inkluis – ook ’n derde taal magtig is. Die publiek het die reg om in hul eie taal bedien te word – by polisiestasies, in howe, in hospitale en by munisipale kantore.

Net soos ek in Afrikaans bedien wil word, net so gun ek ander sprekers die reg om in hul taal gehelp te word. Daarom moet ons studente oplei om ook in die inheemse taal van hul streek met burgers te kan kommunikeer. In die Wes-Kaap sal dit isiXhosa wees, in KwaZulu-Natal isiZulu, in die Vrystaat Sesotho, in Noordwes isTswana, ens.

As ons werklik ’n verskil wil maak aan onderwys in hierdie land, is dit nodig dat studente van die US ook gaan skoolhou in Kayamandi en Khayelitsha, en daarom het hulle isiXhosa nodig. Trouens, ek het dit nog die afgelope week vir my 170 Afrikaansmedium-studente gesê. Self het ek ook isiXhosa as vak op universiteit geneem, en sedertdien het dit ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak.

Dalk moet ons net vroeër daarmee begin; navorsing bewys dat kinders ’n nuwe taal gouer aanleer as hulle jonk en nog op skool is. Natuurlik sal dit geld kos (maar dit is beslis nie onbekostigbaar nie), en natuurlik sal dit tyd neem (niks wat die moeite werd is, het in een dag tot stand gekom nie), maar as Ethiopië met hul veel kleiner ekonomie dit kon doen vir 21 tale, kan ons in die Wes-Kaap dit seker regkry met drie tale?

Hierdie is ’n positiewe gebaar van die Minister; vir die eerste keer voel ek ons beweeg vorentoe. Dis ons as akademici se taak om die Minister se goeie intensies te implementeer en die hoe uit te werk. Kom ons hou nou op kla en fout soek en doen iets vir ons taal.

Die punt is: die tyd was nog nooit meer geleë as nou nie. Gryp die oomblik!