Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfsake | Writing matters > Kennisgewings | Notices

Nasionale Skryfwedstryd van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging bekendgemaak


2011-04-14

Untitled Document

Die Groot Nasionale BSV-Skryfwedstryd aangebied deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging in samewerking met NALN en geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat.

Die voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, Corlietha Swart, nooi voornemende  skrywers om R12 000 los te skryf in die jaarlikse landwye skryfwedstryd van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging. Die sluitingsdatum is Vrydag, 6 Mei 2011. Vanjaar word die prysgeld weer geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat. Net soos vir die BSV, is dit volgens prof. Lucius Botes, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV, ’n prioriteit vir die universiteit om talent, veral by jongmense, alreeds op ’n jeugdige ouderdom te ontdek, te bemagtig en te begelei. Wenners wat oor jare heen deur die groot BSV-skryfwedstryd geïdentifiseer en bemagtig is deur ’n slypskool, het daarna bekroonde en gerekende skrywers in eie reg geword, soos ’n onlangse BSV-wedstrydwenner, mnr. Dirk Winterbach, wat kort daarna op 76-jarige ouderdom gedebuteer het, rillerskrywer, mnr. Piet Steyn wat onlangs die gas van Volksblad se boekekuier was, die digter, Carina Stander, asook die uiters produktiewe kinder- en jeugboekskrywers, Carina Diedericks-Hugo, Fanie Viljoen en Jaco Jacobs. In laasgenoemde gevalle was die skrywers almal nog op skool toe hulle wenners van die BSV-skryfwedstryd was! Die wedstryd, wat in 1979 begin is, het al sedert 1989 ’n nasionale profiel en het sedertdien gegroei tot wedstryd met die meeste inskrywings in sy soort in die land. Die wedstryd word met die steun van die
Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein geadministreer.

Die wedstryd, met R12 000 prysgeld, word spesiaal gereël vir volwassenes en hoërskoolleerlinge. Deelnemers moet een of meer oorspronklike opstelle, vertellings, kortkortverhale, kortverhale of gedigte in Afrikaans oor interessante, voorgeskrewe, onderwerpe indien. Inskrywings word anoniem deur kundige beoordelaars beoordeel. Benewens aantreklike geldpryse in elke afdeling, asook ’n aanmoedigingsprys (ook ’n geldprys) in Afdeling A vir deelnemer(s) wie se moedertaal nie Afrikaans is nie, is daar ook vier wisseltrofeë vir skole, asook ’n wisseltrofee vir poësie in die ope-afdeling, op die spel. Boonop wen die skool wat die meeste inskrywings instuur, R1 000! Daar is vier afdelings: drie prosa-afdelings en een poësie-afdeling. Afdeling A is vir leerders (Juniors: graad 8 tot 9) en (Seniors: graad 10 tot 12), Afdeling B behels prosa vir volwasse skrywers wat nog nie voorheen teen vergoeding gepubliseer het nie. Afdeling C is ’n ope afdeling vir skrywers wat wel al voorheen kortprosa teen vergoeding gepubliseer het. Afdeling D is ’n poësie-afdeling vir gepubliseerde en ongepubliseerde deelnemers.

Wenners van alle pryse woon ook, as deel van hul prys, die jaarlikse BSV-Slypskool vir Ontluikende Skrywers, wat op 20 Augustus 2011 aangebied word, gratis by. Vanjaar se slypskool word deur die gewilde mev. Irma Joubert aangebied – ’n geleentheid wat gevestigde en potensiële skrywers nie mag misloop nie! Al die bekroonde inskrywings sal saam met die beoordelaarsverslae in Inkvars 2011, ’n huishoudelike publikasie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, gepubliseer word – ’n publikasie wat gesteun word deur die Stichting tot Bevordering van Kulturele Betrekkingen Nederland – Zuid-Afrika en wat nuttig in Afrikaanse stelwerkklasse deur stelwerkonderwysers gebruik word. Alle inskrywings moet van ’n voorgeskrewe inskrywingsvorm vergesel wees. Bel gerus vir mev. Christa Jonker-Jordaan by 051-5229155 in werksure, of mej. Lelani Fourie by 0733883377 om die vorm, wedstrydreëls en onderwerpe te bekom. Of vra dit elektronies aan by bloemsv@gmail.com