Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Palmsondag


Laurie Gaum - 2011-04-14

Dit is die begin van Heilige Week op pad Paasfees toe. Op Palmsondag ontmoet ons in die middel van die Kompanjiestuin. Swerms duiwe vlerk op en neer tussen die groep van so 150 mense en Tuynhuys. Elkeen van die deelnemers kry ’n kruisie gemaak van gevlegte palmblare. Die priesters seën die kruisies soos hulle tussen die mense deur beweeg en almal met water besprinkel. Ek voel die druppels van my vel af spat.

Vader Terry Lester, met ’n helderrooi toga aan, is die voorganger. Dan begin die prosessie afstap in Goewermentslaan, die sekulêre magte van die Parlement aan ons regterkant. Duiwe pik mak op die grond rond; eekhorings baljaar in die bome. Wolke wierook kom in die herfslug by my verbygevlieg; palmtakke word gul rondgeswaai. Dit is asof ons in ’n ander wêreld gehul is. Onderweg groei die geselskap aan. Ek hou my palmkruisie hoog voor my vas; iemand langsaan sê dis asof die stad geheilig word.

Ek verstom my aan die verskeidenheid mense: kleure, geslagte, ouderdomme, seksuele oriëntasies. Ons word deel van die skare wat eers "Hosanna!" skree en láter, in die katedraal: "Kruisig hom!" Dít in Engels, Afrikaans en Xhosa.

Ek gebruik nagmaal saam met die Katolieke teoloog wat langs my staan. Almal gaan vorentoe om die verskeurde liggaam en die lewegewende bloed te kry: swart, bruin, wit, arm, ryk; sy aan sy. Die lig val sag in deur gebrandskilderde vensters, soos blou en rooi rosette teen die muur geplak. Die skare word weggevoer deur die kleur, die klank, die wierook en die beweging. Ons word deel van 'n ander werklikheid, opgeneem in 'n ander tyd.

Woensdag sal van ons die "Stasies van die Stad" vanaf Distrik Ses verby plekke van betekenis in die stad stap; ons sal Jesus se kruiswoorde saam met die betekenis van gedenkwaardige plekke in Kaapstad in herinnering roep, dit oordink en wonder oor die verband tussen woorde en werklikheid.

Ons stap verby die Distrik Ses-museum; verby die Buitenkantstraat-polisiestasie; verby Binnelandse Sake; verby die ou slawelosie; verby die provinsiale wetgewer. Ons dra die kruis hoog voor ons uit op die ritme van drommusiek en dink na oor die kruisiging van eie ego’s. Ons klim in ons lywe en voer die eeue oue drama op. Tot ons by "die mense se katedraal" kom. Dáár sal sommige deur die nag waak; láter die altaar stroop van kleur. Ander sal Goeie Vrydag met kerrievis en hot cross buns tegemoet gaan. Die stilte van Saterdag sal deurstaan word. En dálk, God weet, dálk, is daar wéér vir ons 'n Sondag.


  • St George’s-katedraal se Palmsondag-prosessie vind Sondagoggend om 9:30 vanaf die fontein in die Kompanjiestuin in Kaapstad plaas. Die Stasies van die Stad-pelgrimstog vind Woensdag 20 April 18:00 vanaf die St Mark’s Anglikaanse Kerk (in die middel van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie) in Distrik Ses plaas.