Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Miral: Visueel verleidend of misleidend?


André Crous - 2011-04-14

Regisseur: Julian Schnabel
Kamerawerk: Eric Gautier
Rolverdeling: Freida Pinto, Alexander Siddig, Omar Metwally, Hiam Abbass
Looptyd: 105 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 15 April 2011


Een ding wat slegter is as ’n film wat kante kies, is ’n film wat op die draad sit en bang is om jukskei te breek of bloed te laat borrel. Miral is ’n film uit die tweede kategorie; die verhaal word vertel uit die oogpunt van Palestynse karakters, maar hoewel dit meestal deur Franse vervaardigers gefinansier is, wat dikwels meer risiko’s neem, word dit versprei deur ’n groot Amerikaanse maatskappy wat in die klimaat van Israel-aanbidding nie sou waag om ’n film uit te reik wat hierdie posisie bevraagteken nie.

Ek erken ek kan vinnig opgewerk raak oor die situasie in die Midde-Ooste. Ek is volledig aan die Palestyne se kant omdat hulle sedert die Sesdag-oorlog in 1967 deur hul eie regering as tweederangse burgers behandel word, en deesdae moet lewe agter helse mure wat hemel toe reik en hulle soos varke inhok. Dit is ’n soort apartheid waarvan Verwoerd net kon droom.

Daarom kom ek nie heeltemal met ’n skoon gemoed na die film nie en is ek geneig om ’n gunstige blik te hê op ’n film wat die konflik vanuit die Palestyne se kant uitbeeld. Aanvanklik was dit ook so, maar die film weet nie waarheen dit op pad is nie. Daar is slegs Palestynse karakters, maar die Joodse Israel voel altyd baie ver weg sonder enige verteenwoordiging, en hoewel die film in ’n groot mate om terrorisme handel, is die angs en die aksie meestal afwesig.


Julian Schnabel, die regisseur van hierdie film, kry darem een ding reg, en dit is om nie die politieke situasie met geloof te verwar nie – net soos my posisie teen Israel niks met my siening van Jode of Moslems of Christene uit te waai het nie. Maar Schnabel fokus nie regtig op die politieke situasie nie; ons is wel hiervan bewus deur middel van een of twee stukkies dokumentêre materiaal, maar dit is nie sy bedoeling om ons eens werklik daarvan bewus te maak nie. Sy fokus is eerder op vier vroue, waarvan die titelkarakter Miral aan die kern staan. Maar die film is oppervlakkig en die fragmente, wat voel asof dit deur ’n onbekende verteller onthou word, behoort aan niemand spesifiek nie.

Aan die begin van die film, ten tyde van die stigting van die staat van Israel, begin Hind Husseini ’n weeshuis vir meisies en in die vroeë 1970’s word die jong Miral daarin opgeneem nadat haar ma in die see in loop. Hind en Miral is die enigste twee belangrikes, maar, hoewel Hind se kant van die verhaal veel interessanter sou gewees het, raak sy halfpad deur die film ’n randkarakter. Die fokus van die tweede helfte is op Miral, haar ongedefinieerde verhouding met Hari, ’n Palestynse vryheidsvegter, en die politieke klimaat in Israel in die laat 1980’s.

Jerusalem het lanklaas so mooi op film gelyk soos wat dit hier is. Filters is duidelik gebruik en ek sou raai dat produksiewerk ná verfilming voortgegaan het om die skote te kleur, te bleik en te poleer. Schnabel se vorige werk het dieselfde visuele uitspattigheid gehad, maar daar was die beelde ’n uitbeelding van ’n fisiese (The Diving Bell and the Butterfly) of ’n verbeelde (Basquiat en Before Night Falls) siening van die werklikheid. Hier is daar nie ’n rede voor nie, en die film kom uiteindelik pretensieus voor.


As musiekvideo sou dit kon werk, of selfs as ’n kortfilm, en aan die begin het ek gehou van dié aanbieding van die materiaal. Maar stelselmatig raak die toertjie afgesaag – met een uitsondering, iewers in die eerste helfte van die film, wanneer ’n bom in ’n filmteater gelos word. Hierdie spesifieke toneel is wel ietwat selfbewus, maar leen op die regte manier, veral in terme van redigering, by meesters soos Hitchcock en selfs Steven Spielberg (spesifiek tonele uit sy Munich) om die aandag te hou en spanning tot by breekpunt op te bou.

Ek het net heelpad deur gevoel ek wou soveel meer gehad het. Schnabel probeer sy bes om ons met die visuele kant van sy werk te verlei, en hy kry dit min of meer reg, maar inhoud en gees ontbreek. Ek het niks teen die feit dat Pinto, die (Indiese) meisie van Slumdog Millionaire, ’n Palestynse karakter speel, of dat die film in Engels geskiet is met mense wat voorgee dat hulle Arabiese of Hebreeuse aksente het nie. Maar die film voel leeg en vlietend – en dit mag mos nie wees nie. Die storie behoort baie swaarder te wees, anders is daar geen rede om om te gee nie. Die enigste persoon wat ’n mate van gewig aan die film gee, is Miral se pa, Jamal, vertolk deur Alexander Siddig.

Dit is onduidelik hoekom hy hierdie film gemaak het, vir enige ander rede as om bloot te spog met watter soort beelde hy kan optower. Maar ek het my kop geskud by die laaste toneel se swak redigering en die misplaaste snitte wat gemaak is.

Ná die film vind ek uit dat Schnabel intussen ’n verhouding met die draaiboekskrywer, Rula Jebreal, aangeknoop het, en dalk verduidelik dít hoekom hy tevrede was met (en blind was vir) die gate in die draaiboek en die swak, gebroke storielyn. Dit is jammer, want hy kan soveel beter.