Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Kennisgewings | Notices

Musiekspel Stuur groete aan Mannetjies Roux eersdaags op die planke


2011-04-14

Untitled Document

Laurika Rauch kan met reg die Mama van Afrikaanse musiek genoem word. En à la die treffermusiekspel Mama Mia word van die liedjies van Christopher Torr wat sy bekend gemaak het nou byeengebring in die dramatiese musiekspel Stuur groete aan Mannetjies Roux – ’n eerste in Afrikaans.

Haar bydrae tot die Afrikaanse liedjieskat bestaan uit meer as 250 liedjies. En haar uiters suksesvolle samewerking met haar liedjieskrywerman, Torr, is ongeëwenaard op plaaslike bodem. ’n Kombinasie van ’n besondere stem en poëtiese trefferliedjies wat volksbesit geword het.

Met Torr as ’n boorling van die Karoo en skrywer van die musiekspel is dit gepas dat Stuur groete teen die agtergrond van ’n plaas in die Kamdeboo afspeel.

Dit vertel die storie van ’n jong meisie wat haar oom en tante op die plaas besoek met die doel om uit te vind wie sy werklik is en waar sy vandaan kom. Vroeg in die verhaal kom ’n vreemdeling, Toemaar, en sy donkie op die plaas aan. Die meisie vermoed daar is ’n verband tussen haar aankoms op die plaas en dié van die vreemdeling.

Rauch is die verteller wat die hede en die verhaal van die verlede uit die beginjare tagtig met mekaar verbind. Suid-Afrikaners het die eerste keer behoorlik van Rauch kennis geneem toe haar weergawe van Koos du Plessis se Kinders van die wind as temalied vir die TV-reeks Phoenix en Kie gebruik is. Sy was deel van die “musiek en liriek”-beweging wat Afrikaanse musiek op ’n nuwe vlak geplaas het en het haarself bewys as ’n uitnemende kabaretkunstenaar in Taubie Kushlick se Brel-opvoerings.

Paul Eilers is die regisseur van ’n stewige rolverdeling wat onder andere Deon Lotz, Isadora Verwey, Ilse Klink, Nicole Holm en Eben Genis insluit. Die musikale regie word behartig deur Janine Neethling. Johan Badenhorst en Torr is die medevervaardigers.

Stuur groete aan Mannetjies Roux, moontlik gemaak deur die Atterbury-trust en Momentum, open op 19 Mei in die Atterbury-teater in Pretoria (wat ook die amptelike opening van dié splinternuwe teater is) vir ’n speelvak van drie weke. Daarna word dit aangebied in die Kunstekaap in Kaapstad (20 Junie tot 3 Julie), by Emperors Palace in Johannesburg (4 tot 24 Julie) en die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein (25 tot 31 Julie).

Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket.