Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Terugflits: Sofia Coppola


André Crous - 2011-04-13

Untitled Document

Sofia Coppola, dogter van die beroemde regisseur Francis Ford Coppola (Godfather- en Apocalypse Now-faam), is een van die min regisseurs in Hollywood wie se name so vroeg in hul loopbaan al aan die meeste kykers bekend is. Sy word hierdie jaar veertig en het haar debuut gemaak op die ouderdom van 28, met ’n baie beheerste (“poëties” sal ook ’n goeie beskrywing wees) uitbeelding van vyf tienersusters se massaselfmoord.

Haar beelde is skoon en haar keuse van musiek word dikwels hoog aangeslaan, selfs wanneer dit baie onkonvensioneel is. Die gebruik van New Order se musiek in haar lokprent vir Marie Antoinette het my destyds getref as ’n vernuftige besluit en is ondersteun deur die film se anachronismes en die idee dat die jong koningin enige ander meisie in enige ander tyd kon wees.

Coppola fokus rustig op haar sentrale karakters, dikwels meisies, wat emosioneel soms vreeslik ontstuimige situasies moet trotseer, maar die regisseur suggereer altyd eerder as om direk te wys en dáár lê die rede waarom sy so bemin word deur kykers wat soek vir iets “anders as die gewone Hollywood”. Daar is natuurlik waarde aan hierdie benadering, maar dit is ’n strategie wat nie altyd vrugte werp nie, soos haar nuutste prent, Somewhere, wat op 8 April begin draai het, bewys.

Baie mense sal hieroor met my verskil, maar myns insiens was Marie Antoinette die opwindendste prent wat sy tot op hede gemaak het. Uitspattig en selfbewus? Ja. Maar ook heeltemal passievol daaroor om die weelde van die aristokrasie en die borrel van hul afgeslotenheid uit te beeld.
Hier volg ’n vinnige oorsig oor die films wat sy reeds gemaak het in chronologiese volgorde.

  1. The Virgin Suicides (1999):  In die 1970’s, iewers in Michigan, besluit een van die vyf dogters in die Lisbon-huishouding om haar eie lewe te neem. Sy is nie suksesvol nie, maar dié daad laat haar susters besef dat daar moontlik tog ’n weg uit is uit die ystergreep van hul streng ouers – en hierdie weg uit, oorweeg met die grootste sekerheid en kalmte, sal vir die res van die gemeenskap nog lank ’n raaisel bly.



  2. Lost in Translation (2003): Die misverstande tussen Bob, die gesig van Santori-whisky, en die Japannese regisseur van sy advertensies het al legendaries geword en die insident weerspieël die feit dat onderskrifte in films nie altyd die inligting van die oorspronklike taal volledig weergee nie. Ek was destyds nie juis ’n groot aanhanger van Coppola se wyd geprese tweede film nie, maar dié fyn genuanseerde romantiese komedie het eenvoudig perfekte tydsberekening.



  3. Marie Antoinette (2006): Pienk. En haarstyle wat verdiepings het. En heeltemal te veel skoene – selfs ’n paar Converse-tekkies. Die Franse het nie van die film gehou nie, want dit het die koningin heel toeganklik gemaak. Ek was mal hieroor, want Coppola skroom nie om die oorvloed, en die plesier wat die tienerkoningin daaruit put, uit te wys nie.



  4. Somewhere (2010): Coppola se slegste film tot op datum is ’n pynlik uitgerekte pamflet oor die verveligheid van verveling. Dit deel die minimalistiese gees van Coppola se eerste films, maar in plaas van fokus verkies die regisseur om ons in die donker te hou eerder as om werklik enige lig op ’n sentrale storielyn te skyn. Frustrerend en oppervlakkig, met gefragmenteerde spore van belang wat nooit verder as ’n skoot of ’n toneel reis nie.