Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Snars poëtika

Om te papier of nie te papier nie – dit is een van die vrae


Bibi Slippers - 2011-04-08

Die week in woorde

Gisteroggend word ek wakker en die eerste ding waaraan ek dink, is die woorde van ’n gediggie wat ek in standerd 1 vir die eisteddfod geleer het. Dit was “Emma Hackett’s Newsbook” deur Allan Ahlberg (reken Google nadat ek die eerste reëls in die enjin invoer): “Last night my mom/ Got really mad/ and threw a jam tart/ at my dad.” Heeldag loop ek en sê gedeeltes van Emma se storie op vir my eie vermaak. 

Welkom, Sonja
Finuala Dowling lewer oortuigende en owindende voorlesings, papier of-te-nie.

Ek was eers bietjie verbaas oor die skielike terugvloei van hierdie versie, maar het later besef wat die klein vloed veroorsaak het: ek het vroeër die week Leon de Kock se verslag oor die eerste SLiPInZync Poetry Session gelees, waarin hy onder andere verwys na die verskille tussen die twee dominante style in kontemporêre poësie – “papier-poësie”, wat meer liries en innerlik is, teenoor “performance poësie”, wat neig na improvisasie en deklarasie. 

Ek het self die SLiP-sessie bygewoon en dit was fassinerend om die gehoor se reaksie op die verskillende digters se optredes dop te hou. Die gehoor se waardering vir die performance poets was ooglopend, terwyl dit seker sin maak dat die liriese verse van die digters wat voorgelees het, op ’n meer besadigde wyse ontvang is.

Ek het sommer gewonder of die papier nie soms ’n hindernis in die kommunikasieproses is tussen die digter wat werk voorlees en sy of haar gehoor nie. Sou dit help om, soos in die eisteddfod in standerd 1, ons verse uit die kop te leer en meer oortuigende performers te wees van ons eie skryfwerk? Ek is nie seker of dit prakties haalbaar is nie, veral nie vir digters met reuse-oeuvres nie, maar ek het besluit om tog volgende keer self te probeer om een van my papier-verse voor te dra en nie af te lees nie. Dit mag dalk op ’n totale fiasko uitloop, en my ’n paar pasteie in die gesig kos, maar ek sal nooit weet of my teorie enige gewig dra voor ek dit nie in die praktyk op die proef kon stel nie. En as als dan skeefloop, ken ek ten minste nog die laaste reëls van Emma Hackett, wat ek steeds baieoortuigend kan voordra:

The baby – 
Quietly sucking his thumb – 
Then started howling 
For my mum. 
At which my mum 
Got really mad, 
And threw a Swiss roll 
At my dad. 

Intussen kan almal wat nie by Amazink kon wees vir die SLiP-sessie nie, na foto’s van die feestelikheid kyk. Volg ook die skakels vir gedigte, videogrepe en ander interessante brokkies deur die SLiP-digters.

Splinternuut

Aanhangers van die digkuns kan vandeesweek nuwe verse deur Ingrid de Kok, Tertius Kapp, en Heidi Henning lees. Daar het ook ’n toonsetting van Carina Stander se gedig “watervolk” bygekom, en ’n ATKV-album-bioskets van digter EWS Hammond.