Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Nuwe boeke | New books > Afrikaans

Teksredaksie is ’n belegging in die toekoms van Afrikaans


Michael le Cordeur - 2011-04-07

Teksredaksie
WAM Carstens en Kris van de Poel
Uitgewer:
SUN Media, Stellenbosch
ISBN: 9781920338299
Prys: R300.00


Wannie Carstens het ’n gesegde dat “Afrikaans is nie vir sissies nie”. Wel, ek kan byvoeg: teksredaksie ook nie. Oor jare heen moes opleiers van tekspraktisyns, maar ook tekspraktisyns wat in Afrikaans wou werk, staatmaak op hulle eie aantekeninge en werk wat saamgeflans is uit ’n verskeidenheid (meestal Engelse) bronne. Met Teksredaksie vul Wannie Carstens en Kris van der Poel hierdie gaping, omdat dit die eerste uitgebreide handboek is wat spesifiek vir Afrikaanse taalpraktisyns en redigeerders geskryf is.

’n Boek wat so omvattend is (dit beslaan meer as 500 bladsye), het vir seker nie eensklaps tot stand gekom nie. Volgens die skrywers het dit bykans vyf jaar (Oktober 2006 tot Junie 2010) geduur om die boek te skryf, waartydens Carstens periodiek vir bykans ’n jaar in Antwerpen deurgebring het. Beide outeurs het as nuuskierige akademici ’n behoefte gehad om die “storie agter die praktiese gebruik van taal in die redigeerproses” vas te stel.

Die boek word in die vorm van ses hoofstukke aangebied. Skriftelike kommunikasie vind plaas met die hulp van talige teks. In die inleidende hoofstuk word gevolglik ’n oorsig gegee van die vertrekpunte van teksredaksie; maw wat kan en moet gebeur voordat teks die wêreld ingestuur word en watter rolle die teksredakteur hierin vervul. Sodoende word hoofstuk 1 die gids vir die hoofstukke wat volg.

In hoofstuk 2 word gefokus op die teks as objek van studie en die model wat nagevolg word (K3-model), beskryf. ’n Oorsig oor wat dokumentontwerp, tekslinguistiek en die normatiewe taalkunde behels en hoe dit relevant is vir ’n beter begrip van die K3-model, word toegelig.

In hoofstuk 3 word die profiel van die teksredakteur beskryf. Anders gestel, wat alles van ’n teksredakteur verwag kan word. Van die vrae wat beantwoord word, is: Waar is daar werk vir ’n teksredakteur? Is hy/sy werklik soms ’n spookskrywer en aan watter etiese eise moet die teksredakteur voldoen?

In hoofstuk 4 word daar gefokus op wat teksredakteurs moet doen om geredigeerde tekse te skep, asook wat hulle nie doen nie. Watter kennis en vaardighede is nodig om ’n teks te kan redigeer en watter stappe word gevolg? Watter rol speel elektroniese hulpmiddels in die proses? Die hoofstuk word afgesluit met enkele reëls vir gebruik tydens die redigeerproses.

Hoofstuk 5 ondersoek die verband met die praktyk met die klem op waar antwoorde oor taalprobleme in Afrikaans gevind kan word. Die hoofstuk fokus uitsluitlik op die toepassing wat in die voorafgaande hoofstukke genoem is, en in besonder word kennis rakende toepaslike aspekte van die normatiewe taalkunde, tekslinguistiek en dokumentontwerp, soos dit vir Afrikaans geld, bespreek.

In hoofstuk 6 word die wenke van hoofstukke 4 en 5 geïntegreer met die grade van teksredigering in hooftsuk 3 en toegepas op enkele voorbeeldtekste. Ses tekste wat reeds gepubliseer is en wat dus waarskynlik reeds geredigeer is, maar dalk nóg redigering nodig het, is gebruik, nl ’n reisgids, akademiese artikel, gebruiksaanwysing, verslag, resensie en aanlynadvertensie. Aan die hand hiervan bied die outeurs ’n volledige inventaris aan vir inhoudsfoute, taalprobleme, teksstrukturele foute en visuele foute.

Alhoewel die boek in die woorde van Anne-Marie Beukes “’n baie welkome en uiters nuttige Afrikaanse handboek (is) gemik op die byeenbring van die jongste insigte in teksversorging en die opleiding van taalpraktisyns”, maak die outeurs dit duidelik dat hulle nie probeer het om antwoorde op alle vrae in die dissipline te beantwoord nie. Tog lewer Carstens en Van der Poel met Teksredaksie ’n groot bydrae om teksredaksie as ’n dissipline te help vestig en selfstandigheid te gee, in besonder as ’n dissipline wat vanuit die raamwerk van die toegepaste taalkunde kyk na hoe effektiewe taal-in-gebruik bewerkstellig word.

Elke individu wat hom- of haarself besig hou met redigeerwerk en as redakteurs van vaktydskrifte optree, almal wat aan’t skryf is aan resensies of artikels, hetsy vir vaktydskrifte of vir koerante of populêre tydskrifte, maar ook almal wat besig is om aan ’n tesis of ’n proefskrif te werk, of as studieleiers optree vir M- en D-studente, behoort ’n kopie van Teksredaksie op hul boekrak te hê. As opleidingsmateriaal is die boek van onskatbare waarde en vir R300 beslis ‘n belegging vir die toekoms.

 

  • Michael le Cordeur is ’n taalkundige en doseer Afrikaansonderwys aan die Universiteit Stellenbosch.