Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Romeo en Juliet studenteproduksie van hoogstaande kwaliteit


Albert Maritz - 2011-04-07

Untitled Document

Romeo and Juliet
deur William Shakespeare
Director: Geoff Hyland
Teater: Universiteit van Kaapstad Kleinteater
met studente van die Departement
Toneelspel:
 Bianca Flanders; Ceire Pearson; Rebecca Makin-Taylor; Phumelele Ngcobo; Oliver Booth; Oskar Sanders; Siya Sikawuti; Geoffrey Kukard; Glen Biderman-Pam; Nic Campbell; Dylan Horley; Gerald Dunrajah; Hannes Otto; Stefan Erasmus; Matthew Alves; Abdullatief Da


As dit is hoe dramastudente Shakespeare opvoer, is ons toekoms in goeie hande. En dis niks minder as wat mens al gewoond is by hierdie puik opleidingsinstansie nie.

’n Besoek aan die Universiteit Kaapstad om ’n studenteproduksie te sien, is enersyds met die verwagting om hoogstaande kwaliteit te sien, en andersyds om te sien watter studente binnekort die mark gaan betree. Dis het maw amper ’n oudisie- funksie.

By sommige instansies, soos die Universiteit Stellenbosch, is bywoning van studenteteater die enigste manier om die studente in aksie te sien, want daar is weggedoen met oudisies vir agente, vervaardigers en regisseurs.

Die Universiteit van Kaapstad se Romeo and Juliet bewys die waarde van toegewyde oudisies. Alhoewel die produksie sy eie funksie vervul (oa speelgeleentheid vir studente van alle jaargroepe), getuig die standaard van individuele optredes in oudisieprogramme van meer diepte en intensiteit van afronding as die blote deelneem aan ’n produksie. ’n Akteur kry in ’n oudisieprogram geleentheid om sy sterkpunte “af te show” en kan ’n gesoute oog van ’n agent, vervaardiger of regisseur in twee minute oortuig, wys waar hy of sy mooi sal inpas, of nie.

Shakespeare laat mens met die uitdaging om die ritme te respekteer, en die passie nie agterweë te laat nie. Juis die ritmes bestuur die betekenis van die teks. En dit lei – veral met onervare studente, tot ’n tydrowende proses. Om die groot stukke dialoog in besonderhede tot perfeksie te behandel, is bykans onmoontlik. ’n Maatstaf van Suid-Afrikaanse Shakespeare was nog ’n oud-UK-ner, Neil McCarthy. In hierdie produksie sien mens die potensiaal van talle spelers, en weet dat met rypheid daar nog Neils op hul pad is. Die ou UK-programme in die foyer bevat nog name wat in die geskiedenis weerklink.

Met hierdie produksie is studente in ’n produksie-opset en hul optredes onderhewig aan die totale prentjie van die regisseur. Die stel herinner aan ’n opvoering jare gelede in Maynardville – kompleet met die hoë heinings wat Denver Vraagom en sy Kaapse Vlakte bende-trawante se speelveld was. Dis nogals jammer, omdat Romeo in die teks verwys na sy tog oor “mure” om by Juliet uit te kom.

Die produksie span om verstaanbare redes nie ’n balkon in nie. En snaaks genoeg pas hulle die toneel tussen Romeo en Juliet so aan dat dit balkonloos nogal mooi afspeel. Hier sou mens seker met mure nader aan die waarheid kon kom – al is dit voorstellend en nie ’n egte, hemelhoë balkon nie, maar ’n illusie.

Die ondernemende swaardgevegte is seer sekerlik vir studente ’n reuse-voorreg. Skerm, die sportsoort, word hoog aangeskryf as opleiding van akteurs. Hier is die gevegte deel van die opvoering – ’n opleidingsgeleentheid duisend, en knap gechoreografeer. Die swaarde klink ook lekker metaal, maar die onmiddellikheid van ’n skerp swaard sou baie studente hier met ernstige wonde, soms op snaakse plekke, gelaat het – weens die speelse, nonchalante hantering van die wapens. Die moeilikheidsgraad laat ook die voorafwete (pre-empt) van aksie deurskemer.

Die feit dat bogenoemde kwellinge, kostuums, stel en dies meer nie regtig die stempel afdruk op die produksie nie, kleinigheidjies soos die oordaad boudklappery, en vinger-en bout-snyery aan die swaarde is nie regtig ter sprake hier waar Suid-Afrika se volgende generasies bewakers van die kunste - in alle media – geslyp word nie.

Soos Van Wyk Louw gesê het: Ons het ’n goeie kans om te oorleef. En heelwat van hierdie name sal een van die dae vir nuwe, jong, voornemende akteurs, op programme in dieselfde foyer, as voorbeeld dien van hoe dit later gedoen word.

Die Universiteit van Kaapstad met sy Kleinteater, die vriendelike foyer en die goed-afgerigte, kwaliteit-aanbod van spelers op die verhoog bly ’n vreugde om by te woon. Die akteurs was goed, sommige baie goed, en een of twee definitief briljant in hul rolle. Maar in ’n omgewing wat nie op kompetisie neerkom nie, is die uitsondering van individue ongevraagd.