Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

... en tóé was daar Mr. Cat & the Jackal


Leon-Ben Lamprecht - 2011-04-07

Sins and Siren Songs
Mr. Cat & the Jackal




Jirre, maar dis sover ’n goeie jaar vir plaaslike musiek (in elk geval dié wat ek na geluister het). En toe land Mr Cat & the Jackal se album, Sins and Siren Songs, op my lessenaar.

Ai.

...
...

Ha! Jy’t seker nou gedink ek gaan sê dis kak, nè? Wel, dis allesbehalwe. Om die waarheid te sê, die album is so goed dat ek sukkel om dit in woorde om te sit. Nie dat dit my natuurlik gaan keer om te probeer nie.

Dié album is van begin tot einde net plein wonderlik – vir 16 snitte boei die vyftal se musiek jou dat jy nie wil hê dit moet einde kry nie. Die klank op Sins and Siren Songs is bitterlik divers: dis folky, dis bluesy, dis Mediterreens, en ja, dis seerowerig.

Die album herinner my sterk aan Tom Waits, hoewel die twee voorsangers (Gertjie Besselsen en Jacques du Plessis maak beurte) se stemme geensins soos Waits s’n klink nie – dis meer die aard van die lirieke en die klanke wat hulle gebruik.

Gepraat van die voorsangers: hulle stemme is baie uiteenlopend. Du Plessis s’n is ’n soort gerustellende, diep stem – so asof ’n warm koppie Milo op ’n wintersnag vir jou ’n slaaptydstorie lees (luister byvoorbeeld hierdie lewendige opname van “Where’s my shoes”). Besselen, weer, maak gebruik van harde r’e: dis bietjie Oos-Europees met ’n bietjie Afrikaner-omie van iewers op die platteland waar daar nie juis Engels gepraat word nie (soos hier, in die eerste single, “The devil always wants to dance”).

Allerlei instrumente word gebruik: van ’n xilofoon en banjo tot trekklavier, ’n boesoeki en ’n glockenspiel. Dis nou benewens die verwagte kitaar, baskitaar, klavier, perkussie, so aan.

Ek sou nie so ver gaan om Sins and Siren Songs as ’n konsepalbum te beskryf nie, maar daar is definitief ’n verwantskap wat die liedjies aan mekaar bind, al is die liriek-temas uiteenlopend.

“Where’s my shoes” is byvoorbeeld ’n ode aan skoene:

They were a gift from my mother, when I turned fifteen
And I wore them to school with my favourite old jeans
they were made up of leather, laces and sole
they took me to places I never thought I would go ... where’s my shoes?
I woke up this morning and my shoes were gone.

Maar dan luister jy bietjie verder, dan word die skoene die simbool van alles wat die verteller in sy lewe verloor het:

I lost all my riches that I made along the way
and now I’m just roaming the streets everyday
To my friends and my wife
I had to say goodbye
Well, at least I still think I’ve got God on my side.

“The rain came pouring (The flood, Pt 1)” vertel weer ’n soort van Noag-verhaal waar ’n regverdige man deur die gode gekies word: hy moet ’n skip bou vir hom en sy naastes, want die sondige wêreld gaan verspoel word deur ’n reuse-vloed.

Ongelukkig ontdek ons in die tweede deel van die verhaal – “The spawn of pirates” (The flood, Pt 2) – dat dit nie beteken daar gaan geregtigheid ná die sondvloed wees nie. Ons Noag-karakter ontmoet ander mense op die water wat hom vra vir kos; hy kan hulle egter nie help nie: “Sorry I only have enough for me and my family.” Hy stel dan voor dat almal gaan land soek; die een wat eerste vind, stuur ’n rooksein die lug in. So gewaar hy later ’n rooksein en seil soontoe ... net om voorgelê te word deur seerowers. En so het die sondvloed gelei tot “the spawn of pirates”. The law of unintended consequences, darem ...

Die vyftal maak ook waarnemings oor die lewe in die algemeen. Soos in “The devil always wants to dance”:

We all know life is much like this
you expect a handshake
you receive a fist
Everyday is a kick in the teeth
but life in mud is life at least.

“Mother tongue” is óf ’n satiriese blik op Afrikaners se politieke uitkyk óf ’n voortydige waarskuwing oor ’n politieke ramp waarop die land afstuur:

Don’t you think it’s time we hear the bells ring
We’re in denial, we’re all obtuse
We’re running ourselves towards a tyranny
A tyrant has been set loose

And at night you can hear them sing their gun songs
Singing how they intend to kill
We’d better sleep with one eye open
How long before these threats become real?

...

And they say it’s all good and well
But how long before they cut out your mother tongue
Your mother tongue, my mother tongue
My moedertong.

En dan het ek nog niks oor die skitterende design van die hele pakket vertel nie! Ek moet erken: ek is ’n sucker vir ’n goeie albumverpakking – dit gee ’n mens in hierdie digitale era ’n rede om die fisiese album te wil aanskaf, want genoemde verpakking is kuns op sigself.

Arno Kruger het regtig hier met iets spesiaal vorendag gekom: dit voel amper soos ’n boek, met die lirieke wat gekomplementeer word deur sketse.

Boonop is die, ehm, dingetjie wat die CD vashou in die verpakking van kurk, om daai seerower-gevoel tasbaar te maak. (Dis dan terselfdertyd ook ’n effens kritiek: as jy eers die CD uitgehaal het, sukkel jy nogals om hom terug te sit, juis weens die kurk.)

Ag, ek kan aanhou en aanhou en aanhou. Maar aangesien dié reeds ’n lang lees is, gaan ek stop en hiermee volstaan: hierdie album is iets baie spesiaals – dis vars (maar nie op so manier dat dit vervreem nie) en jy kan hoor jy’t hier te make met musikante wat érnstig is oor hulle ambag (maar nie so ernstig dat hulle nie tyd het om snaaks te wees of pret te hê nie).

Hierdie album is baie na aan foutloos.