Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Kidman faal om Rabbit Hole se leegte te vul


André Crous - 2011-04-07

Regisseur: John Cameron Mitchell
Kamerawerk: Frank G. DeMarco
Rolverdeling: Nicole Kidman, Aaron Eckhart, Dianne Wiest
Looptyd: 90 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 1 April 2011

Rabbit Hole bevat ’n hele paar skote waar die kamera inzoem op ’n karakter; dit beteken dat die kamera fisies nie beweeg nie, maar ons net die indruk kry dat ons nader beweeg. Baie dele van die film het vir my so gevoel: ons bekyk die mense van nader sonder om werklik nader te gaan en dit is jammer, want die kyker kort ’n belangriker rede om belang te stel as bloot die sentrale rouproses ná die dood van ’n kind.

Agt maande ná die dood van hul seun is die ouerpaar Howie en Becca (onderskeidelik vertolk deur Aaron Eckhart en Nicole Kidman) op verskillende paaie besig om te herstel en hulle het ook hul eie maniere om die situasie te hanteer. Waar Howie dagga rook, besluit Becca om met die seun te gesels wat tot ’n mate verantwoordelik was vir haar seun, Danny, se dood. Dit is ’n eerbare onderneming, maar Kidman, wat aanvanklik soos ’n totale stalker voorkom, verloor nie haar yskoue voorkoms nie en dit is haas onmoontlik om met haar te empatiseer.

Nou goed, mense hanteer grief op verskillende maniere, maar Becca tree dikwels op soos ’n veertienjarige dogtertjie wat daarop aandring dat die wêreld haar pyn insien en haar gee wat sy wil hê. Ek gee baie om dat Howie se seun dood is, maar ek gee nie ’n veer om dat Becca se seun dood is nie; haar karakter is baie onsimpatiek en die bleek voorkoms herinner aan ’n opgewarmde kadawer – kwalik iets waarmee ek kan of wil identifiseer. Hoe Kidman vir ’n Oscar benoem is vir dié rol gaan my verstand te bowe.


Die film is wel effens interessanter as wat dit voorkom. Die onderwerp alleen is genoeg om baie kykers daarvan af te sit om die film te gaan kyk, maar regisseur John Cameron Mitchell se film is ’n rustige reeks gebeure wat heel hanteerbaar aanmekaargelas is met baie slim redigering wat ons die onsekerheid van die karakters laat deel, veral wanneer hulle op die punt is om groot keuses maak.

Die belang van die film lê in die ontwikkeling van die twee hoofkarakters en die aanbieding van hul pogings om uiteindelik aan te beweeg ná die tragedie. ’n Hele string interaksies met ander karakters wys dat mense smart verskillend hanteer en dat die beste manier eenvoudig net die een is wat vir jou werk.


Die produksie lyk veel meer beheers as die regisseur se vorige kultusfilms Hedwig and the Angry Inch en Shortbus, wat (soms letterlike) orgies van kleur, klank en eksplisiete seks was. Ongelukkig, so empatiewekkend soos wat Kidman se karakter behoort te wees, kan ek myself net nie daartoe bring om vir haar om te gee nie, en dit is hierdie afstand wat die kyker se ervaring sal belemmer.