Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Rango laat animateurs groen van jaloesie


Jacques Liebenberg - 2011-04-07

Titel: Rango
Regisseur:
Gore Verbinski
Met die stemme van Johnny Depp, Isla Fisher, Abigail Breslin en Ned Beatty
Looptyd: 107 minute

 

’n Mens kan om baie redes moed verloor en soos Billy Crystal sit en steun in die bed.

Sewe uit tien motoriste wat jou pad kruis, behoort ’n kandidaat vir genadedood te wees. Agt punt sewe mense in ’n fliekteater se naam kan ook maar bygevoeg word. So ook die meerderheid mense met honde, kinders en sosiale netwerke. Vir Proteas, politici, “kunstenaars” en ander pretensieuse praatsiekes behoort daar nie eens ’n wagtyd te wees nie. Hulle kan voorkeurbemanningslede vir die volgende Space Odyssey wees.

Maar solank hoop vir ’n ieder en elk nog deur Clint Eastwood vergestalt word, kan mens maar die veiligheidskombersie van jou afwerp en braaf voorwaarts beur.

Dis die geval in Rango, ’n stukkie animasie-baanbrekerswerk wat Kevin Smith waarskynlik groen van jaloesie het. En hoewel daar in die bemarking groot gewag van Johnny Depp se stemwerk (en in die fliek self van sy ander flieks) gemaak word, is dit veel eerder Industrial Light and Magic se verstommende animasie en “Eastwood” se verskyning as die Spirit of the West wat jou inspireer om nogmaals jou diensterekening te betaal en die nodige adresverandering te doen dat jou verkeersboetes by jou voordeur afgelewer kan word.

Rango is nie suiwer kindervermaak nie. Genadiglik, want daar’s genoeg vir hulle, en hoekom kan animasieflieks nie vir volwassenes ook gemaak word nie? Dis ’n stukkie eksistensiële pret toegedraai in die nostalgie van die “ou” Wilde Weste en droomtonele so reg uit die derde Pirates-fliek (ironies, aangesien die vierde aflewering amper met ons is). En dalk te verwagte, want die regisseur is juis Gore Verbinski, die man aan die stuur van die eerste drie.

In sy hande word Rango, hoewel die storie oorbekend is, ’n Sergio Leone-agtige (dus onvoorspelbaar en gewelddadig) soeke na vastrapplek in ’n wêreld sonder water. En, vir dié wat lief is vir alles hier, ook ’n dwarsklap na gewetenlose eiendomsontwikkelaars. Maar gaan soek mens te diep, verloor jy die voor die hand liggende uit die oog: ’n fliek so prettig as Up, met dieselfde soort aweregse karakters en in-die-kol-verwysings na popkultuur-ikone soos Hunter S Thompson en Apocalypse Now.

Dis nostalgie sonder brieke; ’n verkleurmannetjie van ’n fliek waarop die man sonder naam met reg trots sou wees.