Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

A Midsummer Night’s Dream – meer toeganklik as ooit


Albert Maritz - 2011-04-06

Untitled Document

A Midsummer Night’s Dream
deur William Shakespeare
Geselskap: The Mechanicals
Regie: Guy de Lancey
By die Universiteit van Kaapstad se Intimate-teater

met

Adam Neill, Danieyella Rodin, Jeroen Kronenburg, Andrew Laubscher, Emily Child, Shaun Acker, Julia Anastasopoulos, Scott Sparrow, Adrian Collins, Tinarie van Wyk Loots, Dorian Burstein, Vaneshran Arumugam, Mikkie-Dene le Roux, Carel Nel, Carl van Vrede, John Skotnes


Nog nooit was Shakespeare so toeganklik soos na Guy de Lancey se opvoering van A Midsummer Night’s Dream met die Mechanicals in die Universiteit van Kaapstad se Intimate Theatre nie. Van teatermakers tot skoolkinders tot fynproewers sal hulle kan vereenselwig met die grootste deel van die inhoud. ’n Herlees na afloop van die teaterervaring is louter leesplesier.

Shakespeare word selfs herkenbaar vir die alledaagse. Soos in ons eie reisende teaterbedryf moet die spelers in die teatergeselskap ’n plan prakseer om ’n muur op die verhoog te hê. Hul skep summier die oplossing: ’n akteur sal die muur “vertolk”.

De Lancey vang die gees van hierdie klug vas met veeleisende uitdrukking. Aan die einde staan ’n moeë, maar duidelik ingenome akteurskorps trots reg vir die groot applous. In hulle oë sien die gehoor die waardering wat uit hulle straal wanneer hulle die applous dankbaar herlei na die verhoogbestuurder–ontwerper- regisseur agter die tegniese bank: Bravo Guy de Lancey. Hierdie akteurskorps wíl in die stuk speel.

De Lancey lei sy akteurs om elke frase in die teks te begryp en na die alledaagse te herlei – sodat dit lyk of die vakmanne elke oomblik letterlik begryp, beleef en wys. De Lancey vermy ook die alledaagse uitbeelding van verhoogwerk. Tekste word gewoonlik opgevoer met mense wat uit die kantgordyne opstap wanneer dit so aangedui word – daar is niks mee fout nie. Maar soms is daar ruimte om dinge anders te doen. En wanneer hoegenaamd moontlik, dóén De Lancey dit anders. Net sy akteurs se exits en entrances alleen is ’n kykweer werd.

Uit die aard van die saak – gegewe die klugtige teks en die hiperbegaafde akteur/regisseur – is die verhoog gedurende hierdie produksie met baie dinge gevul. ’n Spesiaal-geskepte voorgordyn - wat funksioneel word; ’n agtergordyn, ’n bos, en dan die klein besonderhede soos feetjieliggies, en blomme.

’n Sagte verhoogvloer help dat hul soms draai by WWF-styl-afranseling van karakters. Baie gereeld is karakters op hul knieë – dis onseker hoekom, maar gereeld baie komies en effektief.

Soos in enige werk deur regtig bekwame regisseurs, styg elke akteur hier uit tot sy heel beste. Adam Neill is ’n vonds. Met ’n reuse-omvang - van die Monty Python-eske tot kragtige spel – in elke sleutel so netjies beheerst in die grootste besonderhede. Hoe is dit moontlik dat hierdie akteur nie in elke denkbare Baxter-, Kunstekaap- of feesstuk speel nie?! Tussen die narrespul is Andrew Laubscher se Lysander eers die stem van rede. Dit doen hy met suiwer natuurlike spel. Later is hy self die kluts kwyt. Emily Child se Hermia hou haar oë sober op haar sober ideaal. Hier is weer die eenvoud die slag van genialiteit. Jeroen Kranenburg, ’n Kaapse veteraan, styg hier uit soos lank laas. En Danieyella Rodin is dinamiet in ’n klein pakkie. Julia Anastasopoulos se kinderlike malligheid vergoed effe vir haar miskende skoonheid. Dat dit “fairies” moes vat om Lysander se oë te laat oopgaan! En fyn regisseursberekening stel hierdie karakters fyn op. Scott Sparrow en Adrian Collins dryf op ’n manier die stuk voort; definitief nie verfynde “fairies” nie. Hulle, Shaun Acker en Vaneshran Arumugam word almal na uitdagende vertolkings gelei. Gereeld is juis die weerhouding die uitdaging. In hierdie deels eksperimentele, deels absurde omgewing is Carel Nel, Carl van Vrede, Mikkie-Dene le Roux en John Skotnes nooit te lig gevind nie. Dorian Burstein verruk behoorlik as Die Muur met ’n monoloog wat sekerlik Sir John Cleese sou laat ril van lekkerkry.

Die bewese Tinarie van Wyk Loots was reeds op KKNK tydens die optrede. Dat die Mechanicals in so ’n uitdagende stuk, in so ’n kompleks-geregisseerde produksie, nog iemand kan vervang sodat die optrede kan voortgaan, sê net so baie van hulle haas volmaakte meesterskap as hulle ensemble.

Fynproewers se geldige kommentaar sal wees dat die opvoering te besig is; dat mens se aandag dikwels afgelei word deur te veel dinge wat aangaan. Maar niemand kan die groep daarvan beskuldig dat hulle nie vermaak nie, nie briljant hulle alles gee en op die slimste denkbare manier nie. Laat niemand van De Lancey wegneem sy vermoë om Shakespeare te verstaan, en dat hy op die mees vernuwende wyse dit wat hy weet, uitbeeld nie.

Die volgende stap lê by die gehoor en owerhede: om self te herlees, en dan die sukkelende skooltalle tot ’n eerste lees te lei. Dis maklik. Bring hulle vir ’n eerste toneel-ervaring wanneer die stuk weer ’n speelvak beleef. Wat dit definitief behoort te doen.